
Alhoewel diversiteit, wedersydse begrip en respek in sommige dele van die wêreld onder beleg is, weet ons by die US dat meertaligheid leer, verbondenheid en ʼn tuishoortgevoel onder mense versterk. Die US Taalsentrum nooi studente en personeel om van 2 tot 5 Maart vanjaar deel te wees van die EUTOPIA-US Taleweek – sluit aan by ’n inspirerende viering van tale, kultuur en diversiteit, saam met eendersdenkende mense regoor die wêreld.
Taleweek aan die US is gemik op studente en personeel, en bestaan uit ses gratis geleenthede – drie aanlyn en drie geleenthede wat van aangesig tot aangesig aangebied word. Die geleenthede in lewende lywe sluit ’n meertalige Karaoke-middaguur-sessie (4 Maart), ’n aandwerksessie oor taal en ʼn tuishoortgevoel (4 Maart), en ’n interaktiewe Taalkafee-aand (5 Maart) in. Die aanlyn geleenthede bied drie taalaanleer-ervarings gedurende etenstyd om jou ’n voorsmakie te gee van ’n taal wat jy dalk wil verken: ’n Xhosa-voorsmaakkursus (2 Maart), ’n Afrikaans-voorsmaakkursus (3 Maart), en ’n Suid-Afrikaanse Gebaretaal-voorsmaakkursus (5 Maart). Enigeen in die wêreld kan by die aanlyn geleenthede aansluit. Besprekings vir die US-geleenthede word deur Eventbrite bestuur, waar meer inligting oor al die geleenthede, asook skakels om te registreer, beskikbaar is.
Meer internasionale geleenthede is ook aanlyn beskikbaar via die EUTOPIA-alliansie. Instellings regoor die wêreld neem elke jaar aan EUTOPIA Taleweek deel, wat ’n geleentheid skep vir personeel en studente van al die EUTOPIA-vennote om gedurende die week aan aanlyn geleenthede deel te neem en met mekaar in gesprek te tree. Die US is een van EUTOPIA se wêreldwye vennootuniversiteite, wat dit vir ons moontlik maak om by die kernalliansie van universiteite in Europa aan te sluit en sodoende ’n internasionale toegangspunt te skep vir die uitruil van kennis en kultuur.
Registreer gou om jou plek te verseker. Inligting oor venues en skakels vir aanlyn deelname sal ná registrasie gestuur word. Laat asseblief die organiseerders weet indien jy van plan verander nadat jy geregistreer het, sodat hulle jou plek vir iemand anders kan beskikbaar kan maak en nie onnodig vir jou voorberei nie.
Stuur ’n e-pos aan languagesweek@sun.ac.za vir navrae of kansellasies.
EUTOPIA-US Taleweek
- Maandag 2 Maart: Xhosa-voorsmaakkursus (aanlyn) 13:00–14:00
- Dinsdag 3 Maart: Afrikaans-voorsmaakkursus (aanlyn) 13:00–14:00
- Woensdag 4 Maart: Meertalige Karaoke-middaguur-sessie (van aangesig tot aangesig) 12:30–14:00
- Woensdag 4 Maart: Aandwerksessie oor taal en ʼn tuishoortgevoel (van aangesig tot aangesig) 17:30 vir 18:00
- Donderdag 5 Maart: Suid-Afrikaanse Gebaretaal-voorsmaakkursus (aanlyn) 12:30–14:00
- Donderdag 5 Maart: Taalkafee-aand (van aangesig tot aangesig) 17:30 vir 18:00
(Alle tye word in Suid-Afrikaanse standaardtyd (GMT +2) aangedui.)


