Die leerders van Hoërskool Kylemore het hierdie jaar ʼn Mandela-dag beleef wat hulle nog lank sal bybly. Saam met verskeie US-omgewings het die Taalsentrum op 25 Julie tyd by die skool deurgebring ter gedagtenis aan die nalatenskap van Nelson Mandela.
Op dié dag wou Faika Haroun en haar span Taalsentrum-kollegas die vreugde wat lees bring met die leerders deel. “Ons het ʼn leesresies bedink om die leerders uit te daag en te inspireer om met begrip te lees en opwindende pryse te wen.”
Die Taalsentrum se Ongelooflike Leesresies het vier aanmeldstasies gehad, en soos met enige resies, was die doel natuurlik om eerste klaar te maak. Leerders is in spanne van vyf opgedeel en het van een stasie na die volgende beweeg, waar hulle telkens tekste moes lees, bespreek en as ʼn span vrae daaroor moes beantwoord. Hulle kon net hul volgende opdrag kry as al hul antwoorde op die vorige opdrag korrek was.
Ná ‘n intense gelees, ‘n diep gedink en vinnige antwoorde, was Trishan se span die eerstes oor die wenstreep. Hayward se span was tweede, met Justine en haar span kort op hul hakke. Die pryse het gewissel van woordeboeke en boeke tot skryfbehoeftes en notaboekies. Vir ekstra pret was daar ook ʼn gelukkige trekking. Die resies het vir hierdie leerders die beginsel aktief beliggaam dat dié wat met die beste begrip lees, uiteindelik bo uitkom – akademies gesproke en in die lewe.
Die resies het ook die onderwysers beïndruk en geïnspireer, en sommige van hulle het gevra of hulle die konsep mag gebruik wanneer hulle klasgee. “Leerders het geleer om in spanne te werk en het besef dat dit belangrik is om in ál hulle vakke met begrip te lees.”
“Vir die leerders was die resies groot pret. Hulle het ook gesien dat lees erg opwindend kan wees. Hierdie inisiatief was so suksesvol dat ons gretig is om die resies ook na ander skole te neem,” sluit Faika af. E-pos haar as jy graag ʼn Ongelooflike Leesresies by jou skool wil hou.
Die Taalsentrum se Leeslab kan volwasse lesers help om vinniger en slimmer te lees – of die leesmateriaal nou sakeverslae, akademiese artikels of handboeke is. E-pos vir Marisca Coetzee vir meer besonderhede oor wat die Leeslab bied.