Is daar enige wenke wat kan verseker dat deelnemers werklik aanklank vind by die kursusse wat ons ontwerp? Ja, inderdaad! Al ooit gehoor van universele ontwerp vir leer (UOL)? Die Engelse term, ‘universal design for learning (UDL)’ is dalk meer bekend.
Wanneer ons UOL gebruik, is die primêre doelwit om kursusse te ontwerp wat pasgemaak kan word om vir die grootste moontlike aantal leerders van optimale nut te wees. Hierdie blogplasing gaan die beginsels van UOL ondersoek, asook praktiese maniere om UOL toe te pas: die wat, hoekom en hoe van leer, om die ooreenstemmende dele van ons leerders se breine te aktiveer (Sien figuur 1).
Figuur 1: Die verskillende dele van die brein wat tydens leer geaktiveer word
(Bron: CAST (2018). UDL and the learning brain. Wakefield, MA. Beskikbaar by: http://www.cast.org/products-services/resources/2018/udl-learning-brain-neuroscience)
Namate hoëronderwysinstansies harder daarna streef om regverdiger en meer inklusiewe leeromgewings vir studente te skep, word UOL al hoe meer ingespan as ʼn innoverende benadering tot die skep van leerervarings wat vir studente met vermoëns van alle soorte toeganklik, interessant, buigsaam en effektief sal wees. Ofskoon UOL gewoonlik in verband gebring word met die versekering van toeganklikheid vir studente met gestremdhede, kan dit veel wyer toegepas word. UOL gee erkenning daaraan dat alle studente uiteenlopende behoeftes, belangstellings, voorkeure en leerstyle het, en het dit ten doel om gelyke geleenthede vir alle leerders te voorsien. UOL is ʼn raamwerk wat gegrond is op die uitgangspunt dat alle leerders verskillend is en hul eie spesifieke behoeftes het. Deur verskillende modaliteite van verteenwoordiging, uitdrukking en betrokkenheid aan die leerproses te voorsien, sal die leeromgewing dus meer inklusief en effektief gemaak word.
Die UOL-metode moedig leerkragte aan om voorsiening te maak vir studente met ʼn wye verskeidenheid van leerbehoeftes en -voorkeure wanneer hulle leerplanne voorberei. Wanneer UOL gebruik word, is die mikpunt om kursusse te ontwerp wat pasgemaak kan word om geskik te wees vir die grootste moontlike aantal leerders. Kom ons kyk nou na die beginsels van UOL en die praktiese maniere waarop UOL toegepas kan word om toeganklikheid te verbeter om inklusiewe en interaktiewe kursusse te skep.
Figuur 2: Skermgreep van ’n kursusverwelkomingsboodskap
Beginsel 1: Verskillende benaderingswyses (die ‘wat’ van leer)
Die eerste beginsel van UOL fokus op die voorsiening van verskillende maniere waarop studente by inligting en inhoud kan uitkom. Dit beteken dat die inhoud in verskillende formate aangebied moet word om te verseker dat dit vir alle studente toeganklik is en dat alle studente die leerstof verstaan. Die aanbieding van teksinhoud in sowel ouditiewe as visuele formaat kan studente wat sukkel om te lees en dié met gesiggestremdhede byvoorbeeld help. Vir dowe en hardhorende studente is onderskrifte op ʼn video noodsaaklik, maar sulke onderskrifte kan vir alle ander leerders ook voordelig wees. Wanneer die spreker ʼn onbekende aksent het, of wanneer die video nie in die kykers se moedertaal is nie, of wanneer die woordeskat nie aan die studente bekend is nie, help onderskrifte met die verwerking van die leerinhoud. UOL moedig leerkragte aan om inligting en inhoud in talle verskillende formate aan te bied, van teks, oudio en prente tot interaktiewe media. Dit maak dit vir studente moontlik om inligting deur verskillende kanale te verkry en te verstaan. Ons kan hierdie beginsel boonop gebruik om ons inhoud meer inklusief te maak en dit deur die gebruik van diverse perspektiewe en ervarings vir studente moontlik te maak om daarmee te identifiseer.
Figuur 3: Skermgreep van ’n les met video-, klank- en transkripsielêers
Beginsel 2: Meerdere maniere om aksie te neem en uitdrukking te gee (die ‘hoe’ van leer)
UOL se tweede beginsel fokus op die voorsiening van verskillende maniere vir studente om hulle begrip en kennis te laat blyk. Dit beteken dat studente verskillende opsies het vir die voltooiing van take en assesserings. Studente met hulle uiteenlopende behoeftes kan byvoorbeeld tegemoetgekom word deur hulle toe te laat om hulle begrip van werk deur mondelinge terugvoer, geskrewe werksopdragte of digitale media te verduidelik. Wanneer daar verskeie opsies beskikbaar is, kan studente die metode kies wat die beste werk vir hulle vermoëns en aanlegte. Alle studente het hul eie sterk punte en voorkeure wat betref hoe hulle werk en dit wat hulle geleer het, kommunikeer. Sommige studente presteer die beste met geskrewe werksopdragte, terwyl ander eerder aanbiedings en praktiese aktiwiteite verkies, soos om ʼn video of podsending te maak om hulle kennis oor te dra. Hierdie benadering gee studente die vryheid om te kies hoe hulle begrip van ʼn spesifieke konsep gaan oordra, en dit verhoog weer hulle gevoel van outonomie en insluiting.
Beginsel 3: Verskillende maniere van deelname (die ‘hoekom’ van leer)
UOL se derde beginsel fokus op die bevordering van studente se deelname en motivering. Dit kan gedoen word deur aktiwiteite en geleenthede daar te stel wat studente se belangstelling prikkel en hulle op ʼn geskikte vlak uitdaag. Groepprojekte, praktiese aktiwiteite, gevallestudies, en projekte wat op die werklike wêreld van toepassing is, kan studente help om op ʼn dieper vlak by die inhoud betrokke te raak, en dit vir hulle meer betekenisvol maak. Op ʼn soortgelyke manier kan multimedia-inhoud en interaktiewe oefeninge die leerproses meer dinamies en interaktief maak. Deur studente op verskillende maniere te betrek, kan ons hulle meer gemotiveerd maak, hulle nuuskierigheid en kreatiwiteit aanwakker, en ʼn positiewe leerervaring bewerkstellig
Kom ons pas hierdie drie beginsels in die praktyk toe!
Dit mag dalk lyk asof hierdie beginsels eenvoudig is, maar hulle praktiese toepassing verg noukeurige besinning oor leerders se uiteenlopende behoeftes. As riglyn is hier ʼn lys van voorbeelde van hoe die drie beginsels in die praktyk toegepas kan word:
- Verskaf opsies vir oudiovisuele inhoud (transkripsies en opskrifte met leestekens) ter wille van dowe of hardhorende leerders, sowel as oudiovisuele en ouditiewe opsies vir geskrewe inhoud.
- Gebruik diagramme, infografika en tabelle met beskrywings, byvoorbeelde opskrifte vir rye en kolomme vir selle om te raai wat die tabel verteenwoordig.
- Beskryf beelde deur opskrifte en alternatiewe teks te gebruik sodat studente die inligting akkuraat kan vertolk op die manier wat van hulle verwag word. Wees kultureel op en wakker deur verskillende bevolkingsgroepe voor te stel wanneer prente gebruik word.
- Gebruik verskeie assesseringsmetodes soos formatiewe en projekgebaseerde assesserings, selfassesserings, geskrewe opstelle, digitale portefeuljes, blogs, plakkaatvoorstellings en navorsingsverslae sodat studente hulle begrip en kennis kan laat blyk op maniere wat vir hulle werk. Tydige en konstruktiewe terugvoering dien as riglyn vir studente se vordering en ondersteun hulle leerproses.
- Gee die soort opdragte wat voorsiening maak vir aktiewe deelname, ondersoek en eie nadenke.
- Bied ʼn reeks aktiwiteite aan wat studente se betrokkenheid bevorder, soos debatte, simulasies en rolspeel-scenario’s om die leerproses meer interaktief te maak. Vir aanlyn leer kan Moodle-forums of wiki’s gebruik word.
- Gee studente twee of meer aanspoorboodskappe (prompts) en versoek hulle om op een te reageer.
- Verskaf meer as een opsie vir lees en laat studente self kies by watter leesstuk hulle betrokke wil wees.
- Voorsien duidelike, gedetailleerde instruksies. Verduidelik ondubbelsinnig en op die man af wat daar van studente verwag word.
- Verskaf voorbeelde van studentewerk met aantekeninge by, of voorbeelde van wat verwag word.
- Gebruik die Rich Text Editor (teksblokkies) in die leerbestuurstelsels wat vir aanlyn kursusinhoud gebruik word. Hou by die ingeboude formateringstyle (opskrifte, geordende lyste en dies meer).
- Maak seker dat elke element op die kursusblad met die sleutelbord navigeerbaar is ter wille van studente met motoriese uitdagings wat nie ʼn muis kan gebruik nie. Rangskik die teks wat gelees moet word in ʼn logiese volgorde.
- Gebruik onderrigteks om studente deur die verandering te lei. Dit verbind die verskillende materiale en aktiwiteite.
- Gebruik betekenisryke, beskrywende hiperteks (in plaas daarvan om die webadres in te plak).
- Sorg dat daar ʼn groot genoeg kontras is tussen die teks en agtergrondkleure vir gesiggestremde kykers of diegene met kleurblindheid. Gebruik iets soos WebAim om die kontras te kontroleer.
UOL is ʼn uiters belangrike raamwerk vir die ontwikkeling van toeganklike en effektiewe leerprosesse wat vir alle leerders voordelig is. Dit moedig instrukteurs aan om te sorg dat studente kennis op verskillende maniere kan bekom deur inligting volgens verskeie metodes aan te bied, en ook om hulle te wys dat hulle dit wat hulle geleer het, op verskillende maniere kan demonstreer en verduidelik.
Deur die drie beginsels van UOL toe te pas, kan onderriggewers leeromgewings skep wat buigsaam, interessant en inklusief is. Op hierdie manier kan daar voorsiening gemaak word vir die uiteenlopende behoeftes en leerstyle van alle studente, en sodoende kan ons as instrukteurs en opvoeders ons studente se betrokkenheid, deelname en sukses aktief bevorder.
Besiel? Besoek www.cast.org gerus vir meer inligting oor UOL en om toegang tot die volledige raamwerk te verkry.
– deur Fatima Halday
Bronne:
CAST. 2018. UDL and the learning brain. Wakefield, MA. Beskikbaar by: http://www.cast.org/products-services/resources/2018/udl-learning-brain-neuroscience
Howard, J. B. 2003. Universal design for learning: An essential concept for teacher education. Journal of Computing in Teacher Education, 19(4), 113-118.
Kurtts, S. A. 2006. Universal design for learning in inclusive classrooms, Electronic Journal for Inclusive Education, 1(10).
McKenzie, J. A. & Dalton, E. M. 2020. Universal design for learning in inclusive education policy in South Africa. African Journal of Disability, 9, 776. Beskikbaar by: doi.org/10.4102/ajod.v9i0.776
Meyer, A., Rose, D.H. & Gordon, D. 2014. Universal design for learning: Theory and practice, CAST Professional Publishing, Wakefield, MA.
Rose, D.H., Gravel, J.W. & Gordon, D.T. 2014. Universal design for learning, The SAGE Handbook of Special Education: Tweevolumestel, pp. 475–489. Beskikbaar by: doi:10.4135/9781446282236.n30.