Tag: Harry Potter

Boekgeselsie met Ammie H

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Ammie Henson, een van die koördineerders vir die Intensiewe Engels-portefeulje en ʼn Engels-tweedetaal- (ESL-)instrukteur.

“Die pad wat ek geloop het om ʼn onderwyser te word, was baie interessant en soms moeilik, maar ek glo dat dit bygedra het daartoe om van my die onderwyser te maak wat ek vandag is. Ek het eers sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US) geloop en toe as ʼn nagraadse joernalistiekstudent by Rhodes beland nadat ek ʼn jaar in die VSA deurgebring het. Ek was ook ʼn uitruilstudent in Finland toe ek met my meestersgraad in mediastudies besig was. Dit was die waardevolste ervaring van my lewe.”

“Ek was nog altyd lief vir kinders, en diep in my hart het ek geweet dat ek bestem is om ʼn onderwyser te word, maar destyds wou slim Sannie mos nie luister nie! Op die een of ander manier was ek nog altyd by kinders betrokke, of dit nou as au pair of as ʼn klaskamerassistent in ʼn laerskool was. Ek het op die ou einde besluit om by die US se Taalsentrum vir die TEFL-sertifikaat in te skryf, en aansoek gedoen om by die Taalsentrum te werk terwyl ek (uiteindelik!) besig is met my BEd (Grondslagfase) by Noordwes-Universiteit. Onderwys is my passie. ​

Ek is lief vir onderwys omdat ek ʼn gevoel van eiewaarde by my studente wil laat posvat – ek wil hê hulle moet trots wees op wie hulle is en op hulle prestasies. Min dinge is so bevredigend as wanneer studente besef wat hulle potensiaal is en dit verwesenlik. Ook hou ek baie daarvan om my studente te inspireer – en om dan weer deur hulle geïnspireer te word!

Afgesien daarvan dat ek ʼn onderwyser is, is ek ook ʼn Weegskaal wat hou van mooi dinge om my en wat graag partytjies en ander geleenthede reël. Ek is die ma van twee hondekinders wat ek gered het (een van hulle kom selfs van so ver as Grahamstad af). Ek bring graag tyd in die buitelug deur en oefen graag buite – ek is dol oor stap en swem. In my vrye tyd speel ek Dungeons & Dragons en kuier saam met my familie en vriende. Ek is nie juis ʼn boekwurm nie, maar ek hou van ʼn goeie storie.”

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Die Klein Prinsie deur Antoine de Saint-Exupéry

Hoekom het hierdie boek jou so beïndruk?
Ek en hierdie boek het ’n lang geskiedenis, en dit herinner my aan iemand vir wie ek baie lief was. Ek onthou dat ek dit vir die eerste keer in Afrikaans gelees het toe ek nog baie jonk was – waarskynlik in een van my eerste jare op laerskool. Ek dink nie ek was op daardie jeugdige ouderdom al emosioneel en kognitief gereed om die dieper betekenis daarvan te begryp nie. Ek het nie van die boek gehou nie en dit het my bang gemaak. Ek het dit nie eers klaar gelees nie. Toe ek ouer geword het, het ek bewus geword van die ophef oor die boek en die gewildheid daarvan. Die lokprent vir die fliek is in 2015 vrygestel. Ek het groot waardering vir uitstekende animasie, en ek was onmiddellik verlief. Ek het die fliek in Desember daardie jaar saam met my beste maat gaan sien, ʼn paar weke voor my vertrek na Finland, en ek het geweet ek móét die boek lees. Ek was oorstelp deur die storie, die karakters en die lewenslesse, en die animasie was boonop manjifiek. Ná die fliek het ek by die huis gekom en my stiefpa, Nic, alles daarvan vertel. Die volgende dag het ek gesit en inkleur toe hy die boek langs my op my lessenaar neersit. Binne in het hy geskryf: “As die son daar anderkant nie genoeg skyn nie, weet dat ons trots is op jou.” Hy het dit onderteken met die letters KTLO, wat staan vir “Kick the lights out!”, die woorde waarmee hy my en my suster altyd aangemoedig het. Hy was ons grootste ondersteuner.

Ek het die boek tydens my vlug na Helsinki begin lees en die laaste stukkie gelees terwyl ek tougestaan het vir die klanktoets van die 5 Seconds of Summer Sounds Live Feels Live-konsert. Verlede jaar het ek my gunsteling-gedeelte by sy begrafnis gelees.

[us_hwrapper]

So het die klein prinsie die jakkals mak gemaak. Maar toe kom die uur van afskeid.

“Ag!” sê die jakkals. “Ek gaan huil.”

“Dis jou eie skuld,” sê die klein prinsie. “Ek wou jou nie seermaak nie, maar dis jy wat wou hê ek moet jou mak maak …”

“Natuurlik,” sê die jakkals.

“Maar nou gaan jy huil!” sê die klein prinsie.

“Natuurlik,” sê die jakkals.

“Maar dan het jy niks daardeur gewen nie!”

“Wat ek daardeur gewen het,” sê die jakkals, “is die kleur van die koring.

[/us_hwrapper]

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ek het nie regtig ʼn gunstelingouteur nie. Ek verkies wel sekere genres: fantasie, avontuur, raaisel- en liefdesverhale, drama, historiese fiksie en strokiesprente. Ook verkies ek sekere karakters: sterk, driedimensionele vrouekarakters met ʼn stem!

Boeke vind my gewoonlik, eerder as dat ek hulle vind, dus maak dit nie saak wie die outeur is nie, solank die verhaal wat vertel word, boeiend is.

Wat lees jy op die oomblik?
Die Practical Magic-reeks deur Alice Hoffman.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ongetwyfeld werklike boeke met papierbladsye. Dit, op sigself, is ʼn liefdesverhaal.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Ek het party van die Harry Potter-boeke weer gelees omdat ek nog baie jonk was toe ek hulle die eerste keer gelees het. Maar daar is niks soos om ʼn boek vir die heel eerste keer te lees nie. Dis nooit weer dieselfde nadat daardie eerste betowering verby is nie.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Die jakkals in Die Klein Prinsie (veral wanneer hy met James Franco se stem praat).

Het jy miskien ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Om eerlik te wees, is die hele Die Klein Prinsie ʼn belangrike lewensles, maar hierdie woorde van die jakkals het die grootste indruk op my gemaak:

[us_hwrapper]

“My geheim is baie eenvoudig. Hier is dit: Dis net met die hart dat jy werklik kan sien. Wat regtig belangrik is, is onsigbaar vir die oog.”

[/us_hwrapper]

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Almal, van jonk tot oud, behoort Die Klein Prinsie te lees.

 

Tags: , , , , , ,

Boekgeselsie met Sabrina T

Leer ken ons deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Sabrina Thompson, ’n skryfvaardighedewerksessie-aanbieder by die Skryflab en junior lektor in Gevorderde Familiereg in die Departement Privaatreg aan die Fakulteit Regsgeleerdheid. Haar studievelde en haar passies is die reg rakende gender- en kinderregte. Sy het verlede jaar haar LLM cum laude behaal en hoop om ’n PhD oor kinderregte te doen.

My eerste liefde en vertrekpunt moet die Harry Potter-boeke deur JK Rowling wees. My ma het hulle vir my begin voorlees toe ek omtrent ses was. Daar is so baie ander boeke waarvoor ek lief is: To Kill a Mockingbird deur Harper Lee, The Great Gatsby deur F Scott Fitzgerald, Humble Pie deur Gordon Ramsay, Sorted deur Jackson Bird, The Librarian of Auschwitz deur Antionio Iturbe … die lys kom net nie klaar nie.

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?
Daar is baie lesse uit die Harry Potter-reeks te leer. Die grootste een wat ek in my hart saamdra, is dat ’n mens nooit iets moet laat vaar waarin jy glo en waarvoor jy wil veg nie. Harry Potter hanteer volkome volwasse temas wat op ’n pakkende en slim manier aan kinders oorgedra word. Ek dink byvoorbeeld aan Domperdorius se woorde in Harry Potter en die Gevangene van Azkaban: ’n Mens kan selfs in die donkerste tye geluk vind; jy moet net onthou om die lig aan te skakel. Wanneer tye kom waarin ek aan myself twyfel, slaan ek altyd weer my Harry Potters oop.

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ek het te veel geliefde skrywers dat ek almal kan opnoem! Ek is gek na Lucinda Riley, Kirsten Hannah en Jojo Moyes vir ligte leesgoed. Hulle al drie voer ’n mens weg en verskaf gewoonlik ’n leeservaring wat jy kan geniet sonder om jou brein te veel in te span. Ek is ook baie lief vir Jackson Bird, William Shakespeare, Jane Austin, Anastasia Thomson en soveel ander, onder meer die klassieke werke asook biografieë … en ons kan nooit die romanse agterweë laat nie!

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ongetwyfeld fisieke boeke. Daar is net iets daaraan as ’n mens die bladsye van ’n boek hanteer wat dit ’n besondere ervaring maak. Ek dink ook dat die fisieke gewig wat jy in jou hand voel, soos ’n anker werk – ’n vaste punt tussen die verbeeldingswêreld wat jy betree het en die werklikheid. Die fisieke voorwerp vorm ’n blywende aanknopingspunt.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Eerlikwaar … hulle almal. Dit gebeur selde dat ek ’n boek net een keer lees. My boekrak is vir my ’n bron van trots, en ek herrangskik dit elke af en toe. Ek dink graag daaraan as my eie minibiblioteek.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Harry Potter, sonder twyfel.

Het jy dalk ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Weer eens, die Harry Potter-boeke het my geleer dat ’n mens jouself moet wees en nie moet tou opgooi wanneer jy die opdraandes tref nie.

[us_hwrapper]

Iets anders wat die reeks my laat besef het, is dat dit in die haak is om foute te hê en foute te maak, solank jy daaruit leer.”

[/us_hwrapper]

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Wel, buiten die Harry Potter-reeks, enigiets deur Lucinda Riley en Jojo Moyes, en die moderne klassieke werke soos To Kill a Mocking Bird deur Harper Lee en The Beautiful and the Damned deur F Scott Fitzgerald. My raad sou wees dat ’n mens moet oplet wanneer enige boek jou belangstelling boei – daar is waarskynlik iets wat jy moet hoor tussen die bladsye vasgevang.

Tags: , , , , ,