Verbeel jou ʼn wêreld sonder taal. Kan ʼn mens jouself so-iets selfs voorstel? Is taal nie so vervleg met denke dat dit nie eintlik help ʼn mens dink as jy nie in taal dink nie? Hoe sou ʼn mens toegang tot jou eie gedagtes kry en hulle kommunikeer as ʼn mens dit nie in een of ander soort taal omsit nie?
In sy boek, The language instinct, is Steven Pinker besig met dieselfde gedagte wanneer hy skryf: “Taal is so nou met die menslike ervaring verweef dat dit skaars moontlik is om ‘n mens die lewe daarsonder voor te stel. Die kans is groot dat waar daar twee of meer mense saam op enige plek op aarde is, hulle vroeër of later woorde sal wissel” – of gebare sal uitruil. Dowe mense gebruik gebaretale net soos horende mense gesproke tale gebruik: om te lag, te huil en dinge te vier, en die resultaat kan net so emotief en skeppend wees.
Die blote gedagte dat ons dit nie werklik kan weerstaan om ons taalinstink met ander te deel nie, laat ʼn mens dink aan hoe vry taal en die vermoë om dit te gebruik, ons maak. Taal bevry die gedagtes in ons eie koppe deur vir ons ʼn manier te gee waarop ons daardie gedagtes kan uitdruk, en iemand anders in die proses heel moontlik heel bly te maak (of te belas). Taal bied die geleentheid om uitdrukking te gee, om gehoor te word, en sodoende kontak te maak. Verskillende tale mag deur verskillende reëls en konvensies gerig word, maar die wawye, oop vryheid wat in die vermoë lê om taal te gebruik en iets te skep wat nog niemand anders ooit op daardie presiese manier gesê het nie, is werklik iets om ‘n mens aan te verwonder. Dink aan gedigte, meningstukke, blogs, essays of boeke oor dieselfde temas deur verskillende outeurs: dieselfde goue draad kan deur hulle almal loop, maar daar is soveel verskillende maniere om ʼn ding te sê. Maak hierdie gedagte jou nie sommer lus om dadelik aan die skryf te gaan nie?
Ons ervaar ʼn tyd waarin ons vryheid van beweging en vryheid van assosiasie deur die risiko om mekaar aan te steek, gekortwiek word. Terwyl sommige van ons fisieke vryhede tans ingeperk word om die verspreiding van die pandemie wat ons in die gesig staar, te beteuel, is ons intellektuele vryheid onbelemmerd.
Vir Vryheidsdag vanjaar kies ons by die Taalsentrum om die vryheid wat ons in taal het, te vier – die oneindige moontlikhede wat taal bring wanneer ons onsself uitdruk, met mekaar skakel en ons lewens leef, selfs al is ons fisieke radius – tydelik – kleiner.
– deur Susan Lotz en Kim Wallmach
Volle verwysing:
Pinker, Steven. 1994. The language instinct: The new science of language and mind. Penguin Books: Londen. 3