Vir baie mense gaan die feestyd en familiesamesyn hand aan hand. Terselfdertyd is dit ʼn ongeskrewe reël dat jy die een of ander tyd met die een of ander verlangse familielid stry gaan kry of – selfs erger – net nie meer iets gaan hê om te sê nie. ʼn Ongemaklike swye volg …
In 2010 het navorsers aan die Universiteit van Groningen ondersoek ingestel na die pouse in ʼn gesprek en bevind dat dit omtrent vier sekondes neem vir ʼn stilte om ondraaglik te word. Hoe nou gemaak?
Die Internet het baie raad oor hoe om ongemaklike stiltes te vermy, maar die voorstelle is meer ingestel op gesprekke met vreemdelinge of kollegas, en helaas nie met mens se eie familielede nie. Die ongemak kan net vererger as jy vir neef Wilhelm vra: “Waar kom jy vandaan?” of, die hemel behoed ons: “Waarom is jy hier?”
Daar is egter ʼn paar gawe idees in sommige van die artikels, soos die kommunikasiedeskundige Victor Sander se voorstel dat jy ‘jy-vrae’ gebruik. Die idee is basies dat jy vrae vra wat die woord ‘jy’ bevat, byvoorbeeld “Wat doen jy in jou vrye tyd?”. Sanders sê as mens dit doen, impliseer jy ʼn belang in die persoon met wie jy gesels, wat hulle meer betrokke by die gesprek laat voel.
Maar Melissa Dahl, skrywer van Cringeworthy: A Theory of Awkwardness, stel voor dat stilte nie iets is waarvoor mens bang moet wees nie. Dahl het bevind die hoofrede waarom ʼn stilte ongemaklik voel, is omdat daar ʼn hoë mate van onsekerheid heers. Mense is geneig om nie daarvan te hou as hulle nie weet wat om volgende te sê of te doen nie. As mens dít weet, is dit bloot ʼn kwessie van iets kry om oor seker te wees …
So, wees seker daarvan dat jou familie lief is vir jou, wees seker daarvan dat dit nié jou beurt is om die skottelgoed te was nie en weet dat tant Alma na nóg ʼn glas wyn oor haar worshond gaan begin gesels.