Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Selene Delport, koördineerder van skryfvaardighede-werksessies vir nagraadse studente by die Skryflab.
Selene het in 2006 as ʼn konsultant by die Skryflab aangesluit, en in 2009 het sy die skryfvaardighede-werksessies vir nagraadse studente begin aanbied. “Danksy my werk by die Skryflab is ek in die bevoorregte posisie dat ek al na verskeie lande kon reis, waaronder Kenia, Uganda, Tanzanië, Ghana, Eswatini en Lesotho. ʼn Stukkie van my hart het agtergebly in elke land wat ek besoek het.” Van haar werksplek sê sy: “Die Skryflab, as ʼn liminale en transformerende ruimte, het my sóveel geleer – veral hoe om studente te help om te navigeer tussen institusionele strukture wat soms baie beperkend en dempend kan wees, sonder om self ʼn medepligtige in daardie strukture te word.”
Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Dis darem ʼn vreeslike vraag om aan ʼn leser te stel. 😅
Ek is nog altyd lief vir lees. ʼn Paar van my gunstelingkinderboeke is Matyn die Stermannetjie (Lochner de Kock), Huppelkind (WO Kühne), en Grobbelaartjie van Velskoendorp (Oscar Prozesky). Ek besit nog die meeste van my kinderboeke, wat al taamlik gehawend lyk van al die liefdevolle lees en herlees oor dekades heen.
Nou, as volwassene, is ek nog altyd lief vir kinderverhale. Ek herlees Alice in Wonderland (Lewis Carroll) en The Wind in the Willows (Kenneth Grahame) nog gereeld. En natuurlik is ek gek oor fantasie (JRR Tolkien, Terry Pratchett, Neil Gaiman) en fiksie vir jong volwassenes. Ek dink dat fantasie en fiksie vir jong volwassenes dikwels nie genoeg erkenning kry nie, veral wanneer dit die pennevrug van Afrika-skrywers is. Twee van my gunstelingskrywers in hierdie genre is Tochi Onyebuchi en Lily Herne.
Onyebuchi is ʼn Nigeriese skrywer wat Beasts Made of Night geskryf het. Dit handel oor die verhaal van Taj, wat ʼn ‘aki’ is – iemand uit die lae stand wat gehuur word om die sondes van die hoër stande te verorber sodat hulle sonder gewetenswroeging kan lewe. Beasts Made of Night is een van daardie boeke wat gesorg het dat ek ʼn rukkie moet wag voor ek die volgende boek kan aanpak. Onyebuchi se karakteruitbeelding van Taj maak dit vir lesers byna onmoontlik om nie op ʼn diep emosionele vlak by hom betrokke te raak nie. Ek wag angstig op die vervolg, Crown of Thunder.
Lily Herne is die skuilnaam van ʼn moeder-en-dogter-skryfpaar. Hulle het die Deadlands-saga geskryf, wat afspeel in ʼn post-apokaliptiese Suid-Afrika wat vervuil is van die zombies. Ek het die eerste drie boeke klaar gelees en ek is verbete op soek na die laaste boek in die reeks, Ash Remains. (As iemand weet waar ek ʼn eksemplaar kan koop of leen, laat weet my asseblief!)
Hoekom het hierdie boek so ʼn diep indruk op jou gemaak?
Al hierdie boeke, en talle ander, het ʼn blywende indruk op my gemaak. Die redes daarvoor verskil – party van hulle gee die leser ʼn kykie in die lewe van mense of karakters wat in die gewone verloop van die lewe nie platforms in kanonieke werke of openbare ruimtes sou kry nie; party van hulle verskaf leesgenot bloot omdat hulle so heerlik eienaardig is.
Een boek wat nogal ʼn indruk op my gemaak het, is Musrum. Dis verreweg die eienaardigste boek wat ek nog gelees het. Dis ʼn Britse publikasie, deur Erick Thacker, ʼn Metodiste-predikant, en Anthony Earnshaw, ʼn kunstenaar, kunsonderwyser en ateïs. Die boek het voortgevloei uit ʼn briefwisseling tussen dié twee. Dit bevat ʼn groot aantal tekeninge – sommiges met godsdienstige temas, ander met simmetriese patrone, en party selfs in die vorm van landkaarte. Die letterwerk en betekenis van MUSRUM verander gedurig. Die prent op die eerste bladsy gee ʼn mens ʼn idee van hoe wonderlik vreemd hierdie boek is. Ek is nog steeds nie seker of MUSRUM ʼn briljante meesterstuk of bloot genotvolle onsin is nie.”
Inleidingsblady, Musrum.
Wie is jou gunstelingouteur of -outeurs? Hoe só?
Weereens is daar verskeie. Een van my gunstelingouteurs is Yvonne Vera. Haar digterlike prosa verwoord onuitspreeklike traumas: gewelddadige bevrydingsoorloë en hulle nadraai in Nehanda en The Stone Virgins; die verskriklike verlies van ʼn kind in Without a Name; en brutale geweld teen vroue in Under the Tongue en Butterfly Burning. Haar stories bring egter ook die veerkragtigheid wat mense aan die dag kan lê, na vore.
Wat lees jy op die oomblik?
Ek is besig met ʼn lekker ligte boek – Fiona Snyckers se The Cat That Had a Clue. Dis die eerste boek in ʼn reeks genaamd The Cat’s Paw Cozy Mysteries. Dié stories is speurverhale in die trant van Agatha Christie, met heelparty katte wat daarin voorkom.
Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek hou van albei. Daar is niks beter as die gevoel en reuk van ʼn fisiese boek nie, maar dis nou maar een maal soveel geriefliker om in die bed ʼn Kindle-boek te lees.
Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Daar is baie: Gandalf in Tolkien se Lord of the Rings, Alice in Carroll se Alice in Wonderland, Grace in Atwood se Alias Grace, en Tiffany Aching in Pratchett se Discworld-romans. Ek dink ek hou soveel van hierdie karakters omdat hulle nooit regtig vaste identiteite het nie; hulle is deurlopend aan die ontwikkel en verander – soms op ʼn heldhaftige manier en soms op verontrustende maniere.
Het jy dalk ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou vorige antwoorde genoem het nie?
Die beste raad ooit kom uit Douglas Adams se The Hitchhiker’s Guide to the Galaxy: “ʼn Handdoek … is van groot praktiese waarde”. [“A towel … has great practical value”.]
Maar alle grappies op ʼn stokkie. Sheldon B. Kopp se If You Meet the Buddha on the Road, Kill Him! The Pilgrimage of Psychotherapy Patients is ʼn lewensveranderende boek. Wat die meeste aanklank by my gevind het, is Kopp se beskrywing van situasie-etiek:
“Reëls sal begin om as tentatiewe riglyne te dien. Elke daad sal as ʼn persoonlike ervaring beoordeel moet word, in die lig van die eksistensiële betekenis daarvan, eerder as om dit te gaan vergelyk met ʼn reël wat iemand lank gelede en ver weg op ʼn kliptablet uitgekerf het.”
[“Rules will come to serve as tentative guidelines. Each act will have to be judged as a personal experience, in terms of its existential meaning, rather than by checking it out against a rule carved on a stone tablet long ago and far away.”]
Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende of enige iemand anders aanbeveel?
My aanbeveling is om enige boeke te lees wat jy wil, maar om wyd te lees. Chimamanda Ngozi Adichie waarsku ons teen die “gevaar van die enkele storie”. As ons wyd lees, vrywaar dit ons teen die “onvoltooide” stories oor ander mense en ander plekke, dit help ons om ons “gelykwaardige mensheid” te herken en om “die een of ander soort paradys weer terug te kry”.