Dis vir ons die belangrikste

Dis vir ons die belangrikste

Ons mantra

Bereik die wêreld en die mense daarin deur middel van beter kommunikasie en begrip.

Ons missie

Ons bied taalverwante produkte en dienste wat op navorsing begrond is aan mense met uiteenlopende opvoedkundige agtergronde, sodat hulle hul kommunikasievaardighede – soos lees, skryf, praat en luister – kan verbeter en sodoende groter sukses in hulle studies, loopbaan en persoonlike lewe kan behaal.

Ons leef ons missie uit deur die volgende strategiese prioriteite voor oë te hou:
  • Bevorder meertaligheid binne die Universiteit én elders deur ons studente en personeel geleenthede vir taalverwerwing te gee wat meertalige sprekers en denkers kweek.
  • Verskaf taalondersteuning waar dit die nodigste is – om ons studente en kliënte in hulle studies, loopbaan en persoonlike lewe te help slaag.
  • Verskaf professionele diens van gehalte wat ons vir bepaalde behoeftes aanpas in samewerking met diegene vir wie ons dienste daargestel is.
  • Help institusionele taalbesluite en ‑beleide vorm gee en deurvoer deur ons betrekkinge met belanghebbendes by wyse van skakeling, samewerking en wedersyds voordelige vennootskappe op te bou.
  • Prioritiseer navorsing wat beste praktyk rig en wat ons help om dit wat ons doen, en hoe ons dit doen, te herevalueer en daaroor te besin.
Ons strategiese prioriteite is op die Universiteit se kern- strategiese temas begrond:
  • ’n Florerende Universiteit Stellenbosch
  • ’n Transformerende studente-ervaring
  • Doelgerigte vennootskappe en inklusiewe netwerke
  • Genetwerkte en samewerkende onderrig en leer
  • Navorsing vir impak
  • Voorkeurwerkgewer
’n Uiteensetting van ons prioriteite

Hoekom meertaligheid?
Aangesien ons deel van ’n toonaangewende Afrika-universiteit is, glo ons dat meertaligheid belangrik is. Ons glo dat meertaligheid meer behels as die blote vermoë om verskeie tale te kan besig. Dit behels ook om aan mense ’n stem te gee, ongeag die taal wat hulle gebruik. Dit gaan daaroor om die waarde van dit wat gesê word, te erken – ongeag of dit in Engels, Afrikaans, Xhosa of SA Gebaretaal uitgedruk word. Meertaligheid spreek tot ons diverse land, en stel ons in staat om mekaar te bereik op maniere wat ons andersins nie sou kon nie.

Die Taalsentrum streef daarna om hierdie waardes uit te leef deur aan ons studente en personeel toegang te gee tot geleenthede om taal aan te leer op ’n manier wat hulle help om meertalige sprekers en denkers te word wat wêreldwyd gewaardeerde lede van spanne in die werkplek uitmaak. Meertaligheid rus ons studente toe om uit ’n breër en meer diverse kennisbasis te put; om met die gemeenskap om te gaan op ’n manier wat tot die hart spreek, nie net tot die denke nie; om dinamiese professionele persone te wees wat beter probleemoplossings-, luister- en interpersoonlike vaardighede kan beoefen; en om afgeronde persone te wees wat ingeligte besluite kan neem wat meer as hulle eie denkwyses in ag neem.

Het jy geweet dat om meer as een taal aan te leer, jou brein se gesondheid kan baat?

Hoekom taalondersteuning?

As ’n denkleier in taal en kommunikasie is die Taalsentrum daarop ingestel om die voorkeurverskaffer vir taal- en kommunikasiebehoeftes aan die Universiteit Stellenbosch en omliggende gemeenskappe te wees, en om ons studente en kliënte in hulle reis na sukses te ondersteun.

Hoekom gehalte?
Aangesien die Taalsentrum deel van ’n geloofwaardige en gevestigde universiteit is, lewer ons professionele dienste van gehalte wat vir bepaalde behoeftes pasgemaak word. Ons span kundiges is hoogs gekwalifiseerd,  opgelei en bekwaam.

Hoekom skakeling?
Die Taalsentrum is ’n geïntegreerde vennoot aan die Universiteit Stellenbosch, en daarom help ons om aan institusionele taalbesluite en ‑beleide vorm te gee én dit deur te voer deur gesonde betrekkinge met belanghebbendes te bevorder. Ons oogmerk is om elke gehoor werklik te bereik en met hulle te skakel om dienste van gehalte aan hierdie toenemend diverse gemeenskap te lewer.

Hoekom navorsing?
Aangesien navorsing die grondslag is van alles wat ons doen, neem ons aktief deel aan konteksspesifieke navorsing om beste praktyk te rig en om te verseker dat ons die teoretiese grondslae van ons werksaamhede voortdurend krities beskou en bywerk. Ons glo in samewerking en die uitruiling van idees. Klik hier vir ons lys publikasies en huidige navorsingsbedrywighede.

Ons waardes

Ons onderskryf die Universiteit se waardes van uitnemendheid, deernis, gelykheid, respek en verantwoordbaarheid.

Ons heg die volgende betekenis aan hierdie waardes:

Ons hou woord; ons doen ons ondernemings en ooreenkomste gestand.
Ons is toeganklik, deursigtig, reguit en duidelik.

Alles wat ons doen, word deur ons geesdrif vir taal gekenmerk. Ons rig ons besluite en keuses oor ons werk volgens dit wat vir ons studente en kliënte die beste sou wees. Ons skep ’n opbouende emosionele ervaring vir diegene met wie ons omgaan en wat aan ons programme deelneem. Ons is hier om besondere leerervarings te skep, en ons taalverwante dienste word professioneel verrig en betyds gelewer.

Ons is trots op wat ons vermag. Ons gee om oor resultate, maar nie ten koste van mense nie. Ons behandel mekaar gelykwaardig, billik en met agting. Ons hou onsself en mekaar verantwoordbaar vir ons werksprestasie, en ons doen altyd ons woord gestand.

Ons is presies, deeglik en akkuraat in ons werk. Ons evalueer en herevalueer voortdurend die prosesse wat ons ingestel het om sulke akkuraatheid te verseker.

Ons stel ons oop vir nuwe idees. Ons is voortdurend op die uitkyk vir maniere om te ontwikkel en te verbeter. Ons verwelkom nie net voortgesette verandering met die oog op ’n volhoubare toekoms nie, maar dryf dit ook aan.

Ons pak ons werk en ondernemings met vreugdevolle, optimistiese, opbouende energie aan.

This post is also available in: English Afrikaans

Menu