Hierdie artikel het oorspronklik in die Weekend Argus van 29 Augustus 2026 verskyn.
Die buitengewone krag van taal kan kwalik oorbeklemtoon word; nie alleen dra dit inligting oor nie, dit skep en bewaar kennis, bewerkstellig betekenis en beïnvloed persepsies, pak onreg aan, bou verhoudings, en gee uiting aan identiteit. In ʼn meertalige Suid-Afrika is taal boonop die poort na geleenthede; dit bepaal toegang tot die onderwys, gesondheidsorg, billikheid en burgerlike deelname. Daarom spreek dit feitlik vanself dat taalwerk kragtige en noodsaaklike werk is.
Wêreldwyd is hierdie taalwerkers merendeels vroue. Terwyl ons in Augustus die bydraes vier en huldig wat vroue in die verlede tot ons land en nasie gelewer het, en steeds lewer, behoort ons na te dink oor vroue se oorheersing van die taalberoepe en wat dit beteken teen die agtergrond van erkenning, vergoeding en die langtermynvolhoubaarheid van hierdie noodsaaklike en hooggeskoolde werk.

Tania Botha
Taalwerk, is dit vrouewerk?
Internasionaal is velde soos vertaling, tolking, redigering, kopieskryf, taalonderrig en ander kommunikasieberoepe van die kennisekonomie-sektore wat deur vroue oorheers word, en vroue verteenwoordig 70 tot 80% van die werksmag. Suid-Afrika doen hierdie wêreldwye prentjie gestand. Volgens Sensus 2022 oorheers vroue heelwat van die dissiplines wat by die taalberoepe aansluit, terwyl vroue tot 77% persent van gegradueerdes in die onderwys, tale, linguistiek, letterkunde en kommunikasie uitmaak.
Die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum is ’n goeie voorbeeld hiervan. Volgens die Direkteur van die Sentrum, dr Kim Wallmach, bestaan die bestuurspan uitsluitlik uit vroue en daar is slegs drie mans in ’n groep van 47 hooggekwalifiseerde permanente en kontrakpersoneel. Elkeen van hierdie individue dra gespesialiseerde vaardighede by tot die uiteenlopende verskeidenheid taalwerk wat die Sentrum verrig ter bevordering en uitbreiding van meertaligheid in die Universiteit se akademiese en sosiale ruimtes. Dit sluit in taalonderrig, akademiese en algemene vertaling, redigering en terminologie-ontwikkeling, asook onderwys- en konferensietolking, en onderrig in verskeie fakulteite. Vroue lewer verder ’n verskeidenheid taal- en kommunikasiedienste aan eksterne kliënte.
Vroue oorheers eweneens die vryskutsektor en volgens die Suid-Afrikaanse vryskutverening (Safrea) se 2026-tariefverslag identifiseer 71% van die respondente as vroulik. Uit al die respondente het meer as 91% aangedui dat hulle een of ander tersiêre opleiding het. Dit is werklik merkwaardig, veral omdat slegs 12% Suid-Afrikaners oor ’n naskoolse kwalifikasie beskik, en dit bevestig dat taalpraktisyns ’n hooggeskoolde arbeidsmag uitmaak.
Die redes vir hierdie oorverteenwoordiging is sowel histories as struktureel van aard. Taal was vir ’n groot deel van die moderne era een van die min velde waarin vroue toegelaat is om ’n loopbaan uit te kerf. Die onderwys, vertaling, en sekretariële skryfwerk is gesien as verlengingstukke van vroue se sogenaamde natuurlike eienskappe – verbale vaardigheid, geduld, empatie – en is gevolglik as “geskikte” werk vir vroue beskou.
Verder het deeltydse en vryskutwerkmodelle buigsaamheid en ’n mate van outonomie en beheer oor werkure gebied, en vroue kon tuis werk en ’n balans tussen hul beroepslewe, gesinsverantwoordelikhede en maatskaplike verwagtinge bewerkstellig. Jongmeisies is terselfdertyd aangemoedig om in die letterkunde, tale, en die kunste (naas sosiale vaardighede) te studeer, wat hulle op unieke wyse vir loopbane in tale of die onderwys sou voorberei wanneer sodanige geleenthede opduik.
Daarom is dit nie verbasend nie dat vroue in buitengewoon hoë getalle tot hierdie beroepe toegetree het. Só het taalwerk tot die voortsetting van heersende gendernorme bygedra, selfs al het dit vir geslagte vroue ’n deur na die professionele lewe geopen.
Die feminiseringsparadoks
Die oorheersing van vroue in die taalberoepe laat belangrike vrae ontstaan oor die waarde wat die samelewing aan verskillende soorte werk toeken. Navorsers het gevind dat daar in verskeie velde beroepe is wat veral vroue in diens het en dat dié beroepe dikwels laer status, laer vergoeding en minder erkenning behels as ander beroepe wat vergelykbare kundigheidsvlakke verg. Of, om dit prontuit te stel: hoe meer vroue in ’n beroep, hoe laer is die status en die betaling daaraan verbonde.
Die patroon wat as die feminiseringsparadoks (of straf, in sterker feministiese terme) bekend staan, is goed gedokumenteer in verpleging, die onderwys, en maatskaplike werk – en taalberoepe is geen uitsondering nie. Alhoewel dié beroepe gevorderde taalkundige bevoegdheid, kulturele kennis, ontledingsvermoë en vakkundigheid verg, word dit dikwels as sekondêre of steundienste eerder as strategiese of kennisintensiewe beroepe beskou.
Suid-Afrika bied verskeie voorbeelde van hierdie paradoks. Alhoewel taalonderwysers ’n sentrale rol in geletterdheid, meertalige onderwys en opvoedkundige sukses oor die algemeen vervul, werk hulle dikwels in omgewings wat hulpbrontekorte en swaar administratiewe ladings ervaar. Mediese tolke speel ’n deurslaggewende rol by die fasilitering van kommunikasie tussen geneeskundiges en pasiënte wat nie onderling ’n taal deel nie en verseker onder meer dat pasiënte diagnoses, behandelingsopsies en mediese advies kan verstaan.
Tog word hierdie werk dikwels as ’n bykomende diens eerder as ’n gespesialiseerde professionele vaardigheid beskou. Alhoewel redakteurs, vertalers en kopieskrywers vorm aan regeringskommunikasie, akademiese publikasies, korporatiewe beeldbemarking en openbare diskoers gee, bly hul bydraes oor die algemeen tipies onsigbaar.
Alhoewel redakteurs, vertalers en kopieskrywers vorm aan regeringskommunikasie, akademiese publikasies, korporatiewe beeldbemarking en openbare diskoers gee, bly hul bydraes oor die algemeen tipies onsigbaar.”
Vryskutwerk: Geleentheid of noodsaaklikheid?
Die groei in vryskutwerk voeg nog ’n dimensie by hierdie situasie. Die Safrea 2026-tariefverslag meld dat meer as ’n kwart van die respondente vir minder as ses jaar vryskutwerk doen, wat daarop dui dat die uitbreiding van afstandwerk tydens en ná die Covid-19-pandemie die verskuiwing na die onafhanklike praktyk versnel het. Buigsaamheid word as ’n groot pluspunt gesien, omdat dit taalpraktisyns in staat stel om ’n ewewig tussen professionele werk en ander verantwoordelikhede te handhaaf.
Tog is vryskutwerk nie altyd ’n keuse nie en buigsaamheid kom dikwels ten koste van inkomstesekerheid. Meer as ’n derde van die respondente het aangedui dat hulle die vryskutbedryf betree het juis omdat geskikte permanente poste nie beskikbaar was nie. Die verslag het verder wydverspreide bewys van te lae pryse uitgewys, terwyl heelwat professionele persone tariewe hef wat nie hul werklike kundigheid, tyd en besigheidskoste weerspieël nie. Krimpende mediabegrotings, verhoogde mededinging deur digitale projekwerkplatforms, en die vinnige oorname deur generatiewe kunsmatige intelligensie plaas bykomende afwaartse druk op tariewe, veral vir nie-spesialistaaldienste.
Hierdie bevindinge behoort ook gesien te word teen die breër werklikhede van die Suid-Afrikaanse arbeidsmark. Vroue dra steeds ’n oneweredige deel van die huishoudelike en versorgingsverantwoordelikhede terwyl vroulike gegradueerdes hoër werkloosheid as hul manlike eweknieë ervaar. In hierdie konteks kan vryskuttaalwerk sowel geleentheid as noodsaak verteenwoordig: ’n beroep wat buigsaamheid en outonomie bied, maar ook een wat hooggekwalifiseerde praktisyns aan inkomste-onsekerheid en ongelyke professionele erkenning blootstel.
Herbesinning oor die waarde van die taalpraktyk
Die oorverteenwoordiging van vroue in die taalberoepe bied ’n lens waardeur ondersoek ingestel kan word na hoe samelewings waarde aan verskillende kundigheidsvorme toeken. Alhoewel kommunikasie dikwels as ’n “sagte” vaardigheid beskryf word, maak taal die kern van iedere instelling uit. Dit fasiliteer opvoeding, navorsing, gesondheidsorg, geregtigheid, diplomasie, en handel. Die vertaling van ’n regsdokument, die redigering van ’n wetenskaplike artikel, die tolking van ’n mediese konsultasie, of die ontwikkeling van meerltalige opvoedkundige materiaal vereis veel meer as taalkundige vlotheid; dit verg skerp oordeel, kulturele bevoegdheid, etiese bewustheid en hooggespesialiseerde kennis.
Die uitdaging is daarom nie dat vroue die taalberoepe oorheers nie. Dit is eerder om te verseker dat hierdie beroepe erkenning en vergoeding verdien op maniere wat die ware sosiale en ekonomiese waarde daarvan weerspieël. In Suid-Afrika is meertaligheid nie alleen ’n grondwetlike verbintenis nie, dit is ook ’n praktiese noodsaaklikheid.
Vroue in die taalberoepe oorbrug elke dag linguistieke en kulturele gapings, vergemaklik toegang tot noodsaaklike dienste, dra kennis oor, en verstewig sosiale samehorigheid. Hulle werk ondersteun die land se meertalige demokrasie. Ware waardering vir dié vroue se werk behels meer as blote erkenning vir werkprestasie; dit beteken ’n volgehoue verbintenis tot billike betaling, professionele ontwikkeling, werksekerheid en diepgaande respek vir die onontbeerlike bydraes wat vroue as professionele persone lewer.
Die uitdaging is daarom nie dat vroue die taalberoepe oorheers nie. Dit is eerder om te verseker dat hierdie beroepe erkenning en vergoeding verdien op maniere wat die ware sosiale en ekonomiese waarde daarvan weerspieël.”
– deur Tania Botha. Tania Botha is ’n opvoedkundige tolk by die Universiteit Stellenbosch se Taalsentrum. Vertaal deur Celesté Fritze



