Dit gaan nie net oor die woorde nie
Tale is die draers van die tradisies, geskiedenis en identiteite van hulle sprekers. Wanneer ʼn taal verdwyn, is ʼn unieke manier waarop daar gedink is, stories vertel is en die wêreld verstaan is, vir altyd verlore. Die VN skat dat daar tans wêreldwyd ongeveer 8 300 tale bestaan, waarvan byna 40% as bedreig of ‘gedoem’ beskou word. Dit beteken dat geen kinders of jongmense daardie tale meer praat nie en dat net enkele bejaarde sprekers daarvan nog oorbly. Ongelukkig sluit dit die laaste van die vele Khoisan-tale in wat lank gelede in Suid-Afrika gepraat is. Nama is byvoorbeeld deur talle Khoisan-gemeenskappe in die Noord-Kaap gepraat, maar teen 2017 was daar minder as 2 000 Nama-sprekers oor – die meeste van hulle ouer as vyftig jaar; net drie bejaarde lede van die Khomani San het nog die N | uu-taal gepraat, en sover bekend was daar net twee sprekers oor van Kora, die taal van die Koranas.
Net soos dit in taal oor veel meer as kommunikasie gaan, gaan taalkundige verskeidenheid oor meer as die bewaring van woorde; dit gaan ook oor die bevordering van interkulturele dialoog en die versekering van regverdige toegang tot onderwys en geleenthede vir almal. Die tema van Internasionale Moedertaaldag 2025, “Tale maak saak!”, beklemtoon ook die dringende behoefte aan vooruitgang op die gebied van taalkundige verskeidenheid en insluiting as deel van die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s). Globalisering, taalbeleide wat dominante tale verder bevoordeel en tegnologiese vordering bedreig taalkundige verskeidenheid dikwels en lei tot die marginalisering van niedominante tale. Tans word minder as 100 tale grootskaals in digitale kommunikasie en op aanlyn platforms gebruik, wat die sprekers van minderheidstale se toegang tot inligting en leergeleenthede beperk. Omdat kommunikasie van tegnologie afhanklik is, is dit noodsaaklik om te verseker dat alle tale, met inbegrip van inheemse en minderheidstale, in die onderwys, die openbare lewe, en digitale ruimtes verteenwoordig word.
Meertaligheid en meer
Meertaligheid verwys na die gelyktydige bestaan van meer as twee tale in ʼn bepaalde gebied, of na die vermoë om meer as twee tale te praat. Dit het ʼn gonswoord geword in gesprekke oor onderwys en maatskaplike insluiting. Navorsing toon dat 40% van die wêreldbevolking geen toegang het tot onderwys in ʼn taal wat hulle praat of verstaan nie, wat dit moeilik maak vir kinders om hulle volle potensiaal te bereik.