Tag: vryheid

Kom ons gesels oor taalvryheid ter viering van Vryheidsdag

Op 27 April vier Suid-Afrika Vryheidsdag ter herdenking van sowel die eerste demokratiese verkiesing in 1994 as die ingebruikneming van die nuwe (tussentydse) Grondwet, wat gelyke regte en burgerlike vryhede vir alle landsburgers waarborg.  

Vandag, een en dertig jaar later, is baie Suid-Afrikaners te jonk om daardie eerste dag van vryheid te onthou, terwyl die herinnering daaraan vir ander vervaag het, of ʼn sekere mate van selftevredenheid ingesluip het. Ons huidige kommer oor die toestand van ons land en talle ander wêrelddele veroorsaak moontlik dat min van ons in ʼn feestelike luim verkeer; des te meer rede om die volgende vermaning deur Nelson Mandela ter harte te neem: “Vryheid mag nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Elke generasie moet dit bewaar en uitbrei.” [Eie vertaling.] 

Vryheid mag nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Elke generasie moet dit bewaar en uitbrei.

Vryheidsdag roep ons op om hulde te bring aan die opofferings wat in die stryd teen apartheid gemaak is, en om te besin oor die vryhede wat deur daardie opofferings verwerf is. En elke jaar herinner dit ons daaraan dat ons saam met daardie vryhede die verantwoordelikheid gekry het om ons individuele en gesamentlike kragte in te span om die die beste moontlike gebruik daarvan te maak en ook om ander se vryhede te bevorder.  

Die vorm en klank van vryheid 

Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. Die regte om te stem, om te lewe sonder om vervolging te vrees en om aan die openbare lewe deel te neem, is fundamentele regte. Maar hierdie regte is onvolledig sonder vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid die reg om in die taal van ʼn mens se keuse te praat, te dink, te skep en te kommunikeer. As jou stem nie gehoor word nie, kan jy nie deelneem nie. As jy nie kan verstaan nie, kan jy nie toegang tot regte verkry nie. Kortom, as jou taal uitgesluit word, word jy saam uitgesluit. 

Die Suid-Afrikaanse Grondwet word dikwels geloof as een van die progressiefste grondwette ter wêreld. Die Handves van Regte waarborg vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid, erken twaalf amptelike tale, en heg spesifiek waarde aan kulturele en taalkundige diversiteit.  

[us_separator]

Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. […] Kortom, as jou taal uitgesluit word, word jy saam uitgesluit.

[us_separator]

Vir talle Suid-Afrikaners, veral dié wie se moedertaal nie Afrikaans of Engels is nie, bly die reg om hulle ten volle in hulle huistaal uit te druk, egter meer van ʼn droom as die werklikheid. Engels oorheers in die akademie, regering, media en tegnologie, en is dus as’t ware die sleutel tot geleenthede. Engels is ook ʼn klassemerker: diegene wat vlot is in Engels verkry toegang tot werksgeleenthede, geregtigheid en aanlyn ruimtes; diegene wat Engels nie magtig is nie, bly agter. In hierdie proses word die waarde van Afrikatale verlaag en word hulle dikwels as erfenissimbole behandel, eerder as lewende gedagte- en kommunikasiestelsels. Só word kulturele trots weggekalwe en die oordrag van kennis tussen generasies aan bande gelê.  

Kom ons verpoos vir ʼn oomblik om te besin oor die uitwerking wat dit het op die daaglikse lewe van miljoene Suid-Afrikaners: ʼn Tshivenda-spreker wat nie aanlyn regsadvies in sy huistaal kan bekom nie; ʼn Xhosa-sprekende pasiënt wat sukkel om simptome aan ʼn Engelssprekende dokter te verduidelik; ʼn kind wie se moedertaal Sepedi is, maar wat Engels moet leer lees nog voordat sy haar eie taal behoorlik bemeester het. Wat beteken taalvryheid vir hulle? 

Kom ons verpoos vir ʼn oomblik om te besin oor die uitwerking wat dit het op die daaglikse lewe van miljoene Suid-Afrikaners: ʼn Tshivenda-spreker wat nie aanlyn regsadvies in sy huistaal kan bekom nie; ʼn Xhosa-sprekende pasiënt wat sukkel om simptome aan ʼn Engelssprekende dokter te verduidelik; ʼn kind wie se moedertaal Sepedi is, maar wat Engels moet leer lees nog voordat sy haar eie taal behoorlik bemeester het. Wat beteken taalvryheid vir hulle? 

[us_image image=”32028″ align=”center”]

Meertaligheid moet vir almal geld 

In ʼn Suid-Afrika wat in die ware sin van die woord meertalig is, sal geen taal uitgesluit wees en sal nie een enkele persoon agterbly nie. As daar geen hulpbron- of infrastruktuurtekorte was nie, en geen gaping tussen beleide en die uitvoering daarvan nie, sou die regering in alle tale dienste gelewer het en daar sou volle toegang tot digitale en ander media gewees het. Die regering sou belê het in vertaal- en tolkdienste en taaltegnologieë vir inheemse tale; en daar sou ondersteuning wees vir inhoudskepping in onderverteenwoordigde tale – veral op digitale platforms. Daar sou regsaanspreeklikheid wees wanneer grondwetlike taalregte geïgnoreer word. En daar sou moedertaalonderrig en meertalige pedagogieë op alle skoolvlakke wees. 

Ons is nog nie heeltemal daar nie maar vryheid is immers nie ʼn bestemming nie; dit is ʼn aanhoudende strewe, ʼn wording. Taalaktivisme is besig om momentum op te bou, en daar is reeds veel om te vier en op voort te bou.  

[us_separator]

Ons is nog nie heeltemal daar nie maar vryheid is immers nie ʼn bestemming nie; dit is ʼn aanhoudende strewe, ʼn wording. Taalaktivisme is besig om momentum op te bou, en daar is reeds veel om te vier en op voort te bou.  

[us_separator]

Die Nal’ibali-leesveldtog  versprei kinderverhale in al die Suid-Afrikaanse tale om vroeë lees en die vertel van stories tuis aan te moedig, en projekte soos PRAESA bevorder vroeë geletterdheid in Afrikatale en werk daaraan om die skoolstelsel van onder af boontoe te verander. Terselfdertyd bied transtaling ʼn potensieel transformasionele benadering tot leer en onderwys wat taalkundige diversiteit regverdig toegevoeg in die klaskamer inbring op ʼn manier wat meertalige leerders en die waardes en kennis wat hulle bring, bemagtig.  

In hoër onderwys het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) ʼn taalbeleidsraamwerk (2020) gefinaliseer wat daarop gemik is om meertaligheid en die ontwikkeling van inheemse tale by Suid-Afrika se 26 openbare universiteite te bevorder, en in 2023 het die DHOO ongeveer R70 miljoen oor ʼn driejaartydperk bewillig om universiteite te help om hierdie mikpunte te bereik. Die Universiteit Stellenbosch (US) het die geld wat tot dusver ontvang is, gebruik om ʼn hupstoot te gee aan inisiatiewe om sosiale kohesie en insluiting deur middel van taal by die instansie te bevorder. Die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid aan die US is ʼn deurlopende inisiatief, en is iets waarvoor die hele Universiteitsgemeenskap gesamentlik op akademiese en sosiale vlak verantwoordelik is. Die skep van ʼn verwelkomende omgewing op die kampus en die bevordering van meertaligheid in die breë kampusgemeenskap is oorkoepelende doelwitte, en voorbeelde van meer praktiese inisiatiewe is die reeks Bou Gemeenskappe deur Meertaligheid-werkwinkels wat vir die studentegemeenskap en personeellede aangebied word, en Xhosa- en Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT)- kursusse wat gratis vir sowel studente as personeel aangebied word. Nog ʼn opwindende inisiatief by US is die ontwikkeling van Xhosa-terminologie.

[us_separator]

Die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid aan die US is ʼn deurlopende inisiatief, en is iets waarvoor die hele Universiteitsgemeenskap gesamentlik op akademiese en sosiale vlak verantwoordelik is.

[us_separator]

In die digitale ruimte bereik gemeenskapsuitgewers en -skeppers gehore, hulle vertel stories en bou kulturele kapitaal in aanlyn poetry slams, podsendings en TikTok-video’s in, onder meer, Xhosa, Setswana en Xitsonga, terwyl die Masakhane-inisiatief IT-spesialiste wat sprekers van Afrikatale is bymekaarbring om natuurlike taalverwerkingsinstrumente vir Afrikatale te ontwikkel, wat sal verseker dat hulle verteenwoordig word in KI, stemtegnologie en masjienvertaling.  

Vryheid is ʼn doenwoord 

Taalvryheid is nie selfverwesenlikend nie – dit is iets wat ons moet beliggaam, waarvolgens ons moet handel en wat ons moet verdedig om betekenis daaraan te gee. Wanneer ons kies om ons tale te praat, bevestig ons hulle waarde. Wanneer ons insluiting eis – in die klaskamer, tegnologie, gesondheidsorg of die media – betoon ons eer aan almal se reg om gehoor te word. En wanneer ons oor taalgrense heen onderrig, skep en luister, bou ons aan ʼn vryer, meer gelyke gemeenskap. 

[us_separator]

Wanneer ons kies om ons tale te praat, bevestig ons hulle waarde.

– deur Tania Botha, vertaal deur Ingrid Swanepoel 

[us_separator]
Tags: , , , , ,

Vryheidsdag: Gedagtes oor taal, uitdrukking en verantwoordelikheid

Spiderman het die spyker op die kop geslaan toe hy iets gesê het soos “baie mag bring baie verantwoordelikhede”. Dieselfde beginsel is op vryheid van toepassing, soos Eleanor Roosevelt tereg opgemerk het: “Saam met vryheid kom verantwoordelikheid.”

Terwyl ons in ʼn demokratiese, veeltalige Suid-Afrika woon, leer en floreer (en, wel, soms net oorleef), het ons ook die verantwoordelikheid om ook ʼn bietjie te stoei met die konsep van vryheid en die verantwoordelikhede wat hand aan hand gaan met ware vryheid, veral wanneer ons nadink oor wat Vryheidsdag, wat op 27 April gevier word, vir ons beteken.

Vryheid van uitdrukking

Volgens Article 19, ʼn internasionale dink-en-doen-organisasie wat gemoeid is met vryheid van uitdrukking, “maak vryheid van uitdrukking dialoogvoering moontlik, dit verhoog begrip, en dit verbreed die publiek se kennis”. Ons, as die Taalsentrum, stem saam. Die feit dat ons idees en inligting vryelik met mekaar kan deel, maak almal van ons slimmer en help ons gemeenskappe om te floreer.

As Suid-Afrikaners pluk ons vandag die vrugte van talle duur verworwe vryhede in ons land, waarvan ʼn baie belangrike een die vryheid is om in ons moedertaal of ʼn ander taal van ons keuse te kommunikeer. Boonop is daar ruimte vir baie stemme en baie menings – ruimte om gehoor te word.

 

Wat beteken vryheid vir ons by die Universiteit Stellenbosch (US) se Taalsentrum?

Vir ons is vryheid veel meer as ʼn blote konsep – dis ʼn rigsnoer wat sowel ons interaksie met die wêreld om ons as ons benadering tot leer en onderrig bepaal. Dit begin met vryheid van uitdrukking – die fundamentele reg om ons gedagtes, emosies en idees in ʼn taal van ons keuse te verwoord. In die modules, slypskole en kortkursusse wat ons aanbied, streef ons daarna om ruimtes te skep waar die deelnemers vry en veilig voel om hulle sonder enige voorbehoude uit te druk, om vrae te vra, en om deel te neem aan betekenisvolle dialoogvoering met diegene om hulle. Ons probeer ook om sulke ruimtes orals op die kampus te skep met ons taal- en tolkdienste.

Kreatiwiteit

Vryheid behels ook die vrymoedigheid om kreatief te wees – om nuwe taalkundige velde te ondersoek, om met verskillende maniere van uitdrukking te eksperimenteer en om die grense van tradisionele taalkonvensies te verskuif. Ons moedig die mense met wie ons saamwerk – hetsy studente, deelnemers of kliënte – aan om vrye teuels aan hulle verbeelding te gee en die krag van taal in te span om hulle unieke perspektiewe en ervarings oor te dra, of dit nou in Xhosa, Afrikaans, Engels of SA Gebaretaal is.

Vryheid is nie net die afwesigheid van eksterne beperkings nie, maar is ook die aanwesigheid van omgewings wat ons toelaat om ons volle potensiaal te verwesenlik en uitdrukking daaraan te gee.  Dit beteken dat ons inklusiewe omgewings moet skep waar diverse stemme en tale nie slegs gehoor en gesien word nie, maar hartlik verwelkom word. Dit kom neer op die kweek en aanmoediging van ʼn kultuur van verdraagsaamheid en wedersydse respek asook die bevordering van regverdige toegang tot geleenthede en hulpbronne – ook wat taal betref – basies ʼn meertalige ingesteldheid. By US en die Taalsentrum beteken dit byvoorbeeld om tydens lesings toegang tot tolkdienste te hê sowel as die geleentheid om die talle plaaslike en internasionale tale te hoor wat vryelik op ons kampusse en in ons gemeenskappe gepraat word.

 

’n Baie menslike behoefte

Die konsep van vryheid behels ook ons fundamentele menslike behoefte aan outonomie, waardigheid en selfuitlewing. Dit is ʼn dinamiese en ontwikkelende beginsel wat die kern van ons menswees vorm en wat vooruitgang, geregtigheid en die strewe na ʼn meer regverdige en gelyke wêreld – ʼn wêreld waar daar plek is vir alle stemme en waar alle stories vertel en waardeer kan word. Kortom: ʼn meertalige en multikulturele wêreld.

Sluit by ons by die Taalsentrum aan wanneer ons die transformerende krag van taal aangryp en leer by die outentieke stemme van diegene om ons op die kampus, in ons lesingsale en by ons aan huis – ook oor vryheid.

Voel die vryheid!

– deur Esther van der Vyver (vertaal deur Ingrid Swanepoel)

 

 

Tags: , , , ,

Soveel vorme van vryheid

“Ek was nie bewus daarvan dat hierdie vorm van persoonlike vryheid bestaan ​​nie, want ek het dit nog nie voorheen ervaar nie …”

Liselotte Voets, ’n Belgiese uitruilstudent van die Katolieke Universiteit Leuven (KU Leuven) wat die US verlede jaar besoek het as deel van haar meestersgraad in filosofie, het die Taalsentrum se Afrikaanskursus vir Nederlandssprekende studente gevolg terwyl sy in Suid-Afrika was.

Sy deel haar gedagtes hier in Afrikaans oor vryheid, ter viering van Vryheidsdag op 27 April.

In Februarie 2022 het my vyf en ’n halve maande uitruil in Stellenbosch begin. Die keuse vir Suid-Afrika was vir my baie voor die hand liggend: die kulture, die mense, die natuur, die geskiedenis, die berge en die klimaat het my baie aangetrek. Al hierdie dinge het natuurlik ’n baie groot en goeie indruk op my gelaat. Een van die indrukke wat ek egter self baie onderskat het, is die manier waarop ek nou na vryheid kyk. As ek op ’n intuïtiewe manier moet verduidelik hoe ek vryheid in Suid-Afrika ervaar het, moet ek in die eerste plek aan die landskap dink. Vir my verteenwoordig die uitgestrektheid van die land op ’n baie simboliese manier wat dit beteken om vry te wees in Suid-Afrika. Daar is nog soveel spasie om te vul. Die moontlikhede bly en lyk eindeloos. As jy dit met België vergelyk – waar ek van kom –, moet jy tot die gevolgtrekking kom dat byna alles daar bebou is. Dit is regtig uitdagend om ’n stuk grond te vind wat nog ’n oop vlakte na die horison is; nie bedek met mure, huise, strate, dorpe en stede nie.

[us_hwrapper]

Dit voel of jy oral en heeltyd dopgehou word en jy kan nie regtig ontsnap of by die landskap inskakel nie.”

[/us_hwrapper]

Nou dat ek terug is in België, vind ek dit nog moeiliker om te verduur en mis ek Suid-Afrika des te meer. In België het ons natuurlik meer (’n gevoel van) sekuriteit. Die prys wat ons hiervoor moet betaal, is ons persoonlike vryheid. Ek was egter nie bewus daarvan dat hierdie vorm van persoonlike vryheid bestaan ​​nie, want ek het dit nog nie voorheen ervaar nie. Miskien is dit ook iets tipies Europees om vryheid soos ons dit ken as die enigste vorm van vryheid te beskou en geen ruimte vir ander interpretasies te laat nie. Maar dit is natuurlik ’n teenstrydigheid in terme. Ek moes geweet het dat ‘vryheid’ nie in één siening vasgevang kan word nie. Hierdie vorm van persoonlike vryheid het ek ook opgemerk by die Suid-Afrikaners self wat ek ontmoet het: hulle word nie geleef nie (hulle lewens word nie bereël en gereguleer nie), maar lééf self, verwelkom ander mense met ope arms en begin die dag met goeie moed. Die – absoluut nie te onderskat nie – prys van Suid-Afrika se enorme persoonlike vryheid is natuurlik dat baie aan hulleself oorgelaat word. Hulle moet self oorleef. Vanuit daardie perspektief het ek die indruk gekry dat sommige die Suid-Afrikaanse landskap meer as ’n soort leegheid beskou as ’n oop toekoms. Ek dink én hoop van harte dat dit nog kan verander.

Blog deur Liselotte Voets

Tags: , , , , , , ,