Tag: vertaling van podsendings

Podsendingvertaling om meertalige aanlyn leer te ondersteun – voorbeelde

Die US Taalsentrum se Tolkdiens bied ʼn podsendingvertaaldiens aan dosente wat ʼn professionele en vinnige manier nodig het om aanlyn lesinginhoud in meer as een taal beskikbaar te stel.

Wat is podsendingvertaling?

Podsendingvertaling in die US se opvoedkundige konteks verwys na die vertaling en heropname van opgeneemde lesingoudio vir aanlyn leer.

Die podsendingvertalings word deur ʼn span US-tolke in hul ‘tuisateljees’ gedoen. As opvoedkundige tolke aan die US dra ons jare se ervaring van die tolking van intydse lesings tot die proses by. Die podsendingvertaaldiens is beskikbaar vir oudio- en video-opnames.

Hier is ’n voorbeeld van hoe ’n podsendingvertaling lyk:

Dosent se oorspronklike podsending

Vertaalde podsending

Wat behels die podsendingvertaalproses?

Voorbereiding

Voordat ons die opgeneemde lesing kan begin vertaal, moet ons die toepaslike hulpbronne raadpleeg om te verseker dat ons podsending die US se onderriguitnemendheid weerspieël. Die podsending word toegeken aan ’n tolk wat vertroud is met die vakgebied. Ons luister eers na die podsending en berei vertaalde terminologie voor, gebaseer op bestaande terminologielyste en vertaalde skyfies wat dosente aan ons beskikbaar maak. Waar daar geen terminologielyste of vertaalde skyfies beskikbaar is nie, of waar die vertaling vaag kan wees, kontak ons die dosent om te bevestig dat ons die voorkeurterminologie gebruik om die konsep te verduidelik soos die dosent dit bedoel het.

Vertaling

Verskillende tolke benader die vertaalproses op verskillende maniere. Party tolke verkies om eers die podsending te transkribeer, dit te vertaal en dit dan op te neem – dit beteken dat meer tyd aan voorbereiding bestee word. Ander tolke verkies om die podsending te tolk soos ʼn intydse lesing getolk sou word – hoewel daar ook voorbereiding gedoen word, beteken dit gewoonlik dat meer tyd aan post-produksie bestee word.

Post-produksie

Of ons nou die podsending transkribeer en vertaal, en of ons dit tolk soos ons ’n intydse lesing sou tolk, post-produksie is uiters belangrik om te verseker dat ons ʼn gehalteproduk lewer wat die bedoelde boodskap akkuraat, samehangend en volledig oordra.

Ons redigeer die klankopname om ʼn koherente boodskap wat ook natuurlik klink te lewer, en, waar nodig, sinkroniseer ons die klankopname met die video om die tydsberekening van skyfies en animasie daarvan en gebare met laserwysers te belyn met dit wat gesê word.

Gehaltebeheer

Voordat ons die vertaalde podsending aan die dosent lewer, gaan ons projekkoördineerder, Christine Joubert, elke vertaalde podsending na om te verseker dat dit volledig is en dat die klankgehalte goed is.

Die Tolkdiens se Gehalteversekeringsportefeulje assesseer podsendings meer omvattend op ʼn kwartaallikse grondslag – hierdie assesserings is baie strawwer. Punte word toegeken volgens assesseringskriteria soos die akkuraatheid van die vertaling, die mate waartoe die vertaling al die inligting in die oorspronklike podsending oordra, hoe duidelik die tolk praat, of die woordeskat toepaslik is vir die vakgebied, en korrektheid van die terminologie. Die Gehalteversekeringsportefeulje is gretig om saam met dosente aan die assessering van podsendingvertalings te werk – as jy graag betrokke wil raak by die gehalteversekeringsproses, of as jy meer wil weet oor wat die proses behels, kontak gerus vir Sanet de Jager of Risha Lötter.

Hier is hoe jy jou vertaalde lesing kan laat vertaal

Tags:

Ondersteuning aan dosente: Vertaling van klankopnames van lesings (podsendings)

Dosente kan steeds verseker dat studente meertalige toegang tot hul lesings het. Een manier om dit reg te kry is om klank- of videogrepe in Afrikaans en Engels aan student beskikbaar te maak. Ons kan help deur die opgeneemde podsendings te tolk en om te sit in meertalige klanklêers.

Volg asseblief die volgende stappe om jou podsending te laat vertaal:

  1. Neem jou podsending tuis of op kantoor op en stuur dit vir ons. Probeer Techsmith as jy nog nie podsendings vantevore gemaak het nie. Dit is ʼn gebruikersvriendelike toepassing wat op die meeste US-rekenaars geïnstalleer is. As dit nog nie geïnstalleer is nie, kan IT-dienste jou daarmee help. Jy kan ook enige ander opnameprogram waarmee jy vertroud is, gebruik, soos Audacity of Adobe Audition.
  2. Hou asseblief in gedagte dat die riglyne vir die oorgang na aanlyn onderrig die feit uitlig dat podsendings nie noodwendig ʼn volle 50-minuutlesing hoef te wees nie, maar dat ʼn kort, bondige oorsig oor nuwe materiaal vir studente genoeg is. Probeer om jou podsending so kort as moontlik te hou sodat ons soveel moontlik dosente kan help.
  3. Wanneer jy jou podsending voltooi het, kan jy dit via www.wetransfer.com aan Christine Joubert by christinejoubert@sun.ac.za stuur. WeTransfer is ʼn gratis toepassing waarmee ʼn mens groot aanhangsels elektronies kan versend. Dit is baie maklik om te gebruik: Voeg net Christine se e-posadres in, haak jou lêer aan en druk send. Moet asseblief nie die lêer as ʼn e-posaanhangsel in Outlook stuur nie – die lêer sal te groot wees om te stuur.
  4. Gebruik asseblief die volgende konvensie om jou lêer ʼn naam te gee:
    Datum_Modulenaam_Taal, byvoorbeeld 30032020_Sosiologie114_Afr.
    Ons sal dit lewer as 30032020_Sociology114_Eng.
  5. Ons sal ons bes doen om jou getolkde podsending so gou moontlik te lewer. Ons sal minstens twee dae nodig hê, wat die dag waarop jy dit aan ons stuur, uitsluit.
  6. Jou podsending sal ook via WeTransfer aan jou gelewer word. WeTransfer sal vir jou ʼn kennisgewing e-pos met ʼn skakel na die aflaaiwerf. Laai die lêer daar af en laai dit op na SUNLearn.

Kontak Christine Joubert gerus om meer inligting te bekom of om ons posendingdiens aan te vra.

 

Tags: , ,