Tag: Terry Pratchett

Boekgeselsie met Susan L

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees!

Vandeesmaand gesels ons met Susan Lotz. Sy is ʼn taalpraktisyn en inhoudskoördineerder by die Taalsentrum. “Onder andere koördineer ek inhoud en boodskapoordrag by die Taalsentrum om ʼn bewustheid van die Sentrum se bedrywighede aan te wakker en om meertaligheid aan die Universiteit te bevorder,” verduidelik sy.

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Daar is baie sulke boeke omdat ek groot genot put uit lees, maar die een wat ek vandag met julle wil deel, is The Cello Suites deur Eric Sieblin.

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Daar is baie sulke boeke omdat ek groot genot put uit lees, maar die een wat ek vandag met julle wil deel, is The Cello Suites deur Eric Sieblin.

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?
Van alle musiek luister ek die heel graagste na tjellomusiek en Johann Sebastian Bach is een van my gunstelingkomponiste. Hierdie boek is enersyds ʼn ode aan die tjello en andersyds ʼn mymering oor Bach en die omstandighede waaronder sy tjellosuites (waarvan ek vreeslik hou) neergeskryf is; dit was dus vir my ʼn louter vreugde om die boek te lees! Ook het dit die Katalaanse tjellis, Pablo Casals, aan my bekendgestel, wat op sigself ʼn wonderlike ontdekking was omdat dit my nog uitsonderlike musiek gegee het waarin ek my kan verlustig. Die boek is glad nie tegnies nie, dis goed geskryf en dis boeiend – die outeur weef verskeie storielyne saam en dus is dit moeilik om dit neer te sit! Dis ʼn ware fees van ʼn musikale reis wat op ’n diep vlak met my geresoneer het.

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ek dink dit hang af van op watter plek ek my bevind – ek het boeke deur skrywers soos Ingrid Winterbach, Lien Botha, Deon Meyer, Stieg Larsson, Laurie R King, Margaret Atwood, Jeanette Winterson, Neil Gaiman en Terry Pratchett al baie geniet. Ek het die Game of Thrones-boeke deur George RR Martin verslind, en verkies die boeke bó die verfilmde reeks. Twee Ierse outeurs na wie ek telkens terugkeer, is Niall Williams en Maggie O’Farrel.

Wat lees jy op die oomblik?
Where the Crawdads Sing, deur Delia Owens, en Skepsel deur Willem Anker (ʼn herlees omdat ek die Afrikaans waarin hierdie boek geskryf is, so geniet).

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Gedrukte boeke wen elke keer. Ek bestee soveel tyd daaraan om as deel van my werk en my lewe woorde op rekenaarskerms te lees dat dit vir my ʼn groot lekkerte is om woorde op papier te lees. Maar ek is aanpasbaar – as ek op my tablet toegang tot ʼn boek het, sal die tablet aan my sy bly totdat ek die boek klaar gelees het. Ek moet egter erken dat ek nogal hou van die idee dat minder bome afgekap word. Om dié rede koop eerder tweedehandse boeke, indien moontlik, of ek leen ʼn boek by iemand.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
The Cello Suites, om dit weer van voor af te geniet en omdat dit onmoontlik is om tydens die eerste lees al die inligting in te neem of te onthou; en Minoes, omdat dit so ʼn prettige boek is! Ook af en toe ʼn Harry Potter-boek (JK Rowling), om my geheue te verfris oor wie waar inpas, om terug te dink aan waar ek was toe ek hulle die eerste keer gelees het, en om met my niggies oor die stories en karakters te gesels. Four Letters of Love deur Niall Williams net omdat dit so dromerig is en dit voel asof ʼn mens saam met die karakters op die Ierse platteland is terwyl jy die storie lees. Ek soek boeke wat iets spesiaals vir my gedoen het, weer op.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Minoes (in Minoes deur Annie MG Schmidt, die Afrikaanse vertaling van die oorspronklike Nederlands). Minoes is ʼn kat en ʼn meisie – dikwels gelyktydig!

Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
ʼn Karakter soos Salander in The Girl with the Dragon Tattoo inspireer my en daag my uit om dapper te wees en te hanteer wat ook al hanteer moet word, en herinner my daaraan dat dit heeltemal in orde is om eksentriek te wees.

Dit hang net af of ʼn mens ontvanklik daarvoor is – of jy dié waarhede kan absorbeer of werklik hóór.”

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?

Ja, hier is ʼn paar musiekstories:
The Cello Suites deur Eric Sieblin
A Genius in the Family deur Hilary en Piers du Pré
An Equal Music deur Vikram Seth (daar is selfs ʼn amptelike kompilasie op CD van al die stukke wat in die boek genoem word en dis waarskynlik ook op musiekstromingsdienste beskikbaar)
As It is in Heaven deur Niall Williams (met baie Vivaldi)
The Concert Pianist deur Conrad Williams

En nog ʼn paar aanbevelings:
The Little Prince deur Antoine de Saint Exupéry
Four Letters of Love deur Niall Williams
My Dream of You deur Nuala O’Faolain
After You’d Gone deur Maggie O’Farrel
The Girl with the Dragon Tattoo-trilogie deur Stieg Larsson
The Game of Thrones-boeke deur George RR Martin
The MadAddam-trilogie deur Margaret Atwood
Folly deur Laury R King
Extremely Loud and Incredibly Close deur Jonathan Safran Foer
Lighthousekeeping deur Jeanette Winterson
Forests of the Heart deur Charles de Lindt
Good Omens deur Terry Pratchett en Neil Gaiman
Die Witches-trilogie deur Terry Pratchett (en daarna sal jy ʼn slaaf wees!)

En iets in Afrikaans:
Skepsel deur Willem Anker
Die Aanspraak van Lewende Wesens deur Ingrid Winterbach
Wonderboom deur Lien Botha
Verlorenkop deur Celesté Fritze

Tags: , , , , , , , , , , ,

Boekgeselsie met Juanli T

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Juanli Theron, hoof van die Taalsentrum se Tolkdiens. Die Tolkdiens verskaf intydse opvoedkundige tolking tydens lesings, of aanlyn, as die lesing of tolking via MS Teams geskied. Tolking kan in Afrikaans, Engels of isiXhosa gedoen word, afhangend van die pedagogiese behoefte. Verder bied hulle  ook konferensietolking aan.

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of  ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?

Ek is seker ons sê dit almal, maar dis hopeloos te moeilik om een te kies! Die een boek wat ek wel gereeld wéér lees, en hierdie vakansie veral weer op die strand geniet het, is the sun and her flowers deur Rupi Kaur.

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?

Ek het hierdie digbundel nou al ʼn paar keer van voor tot agter gelees en saam met Rupi op reis gegaan deur die temas van wilting, falling, rooting, rising en blooming – haar sprankelende metafore vir die lewe en die liefde. Ek voel telkens ligter wanneer ek anderkant uitkom. Dit doen my siel goed!

Ek geniet Rupi Kaur se digstyl – kort en bondig met kleurvolle metafore, en altyd direk op die punt af.”  

Wie is jou gunstelingouteurs? Hoe só?
Ek het ʼn hele paar. Afgesien van die digkuns, is fantasie my gunsteling-genre. Ek geniet die werk van Terry Pratchett, Neil Gaiman, Erin Morgenstern, Terry Brooks en ander wat wêrelde kan skep en verbeeldingryke verhale kan vertel wat my wegvoer uit die doodgewoonheid van die alledaagse.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek is tans tussen boeke, wat ʼn baie vervelige plek is om te wees, maar ek is op soek na iets wat verfrissend nuut en boeiend is …

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek hou om verskillende redes van albei: Die gevoel van ʼn boek in my hande wanneer ek tydens ʼn vakansie tyd het om te ontspan EN die gerief daarvan om my boeke te alle tye en op alle plekke op my Kindle by my te hê. Ek sal maar eerder nie kies nie!

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Vivian Morris in Elizabeth Gilbert se City of Girls.

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Ek sal fantasieboeke altyd aanbeveel, veral aan kreatiewe mense of mense met A-tipe persoonlikhede wat kan doen met die wegbreek en ontvlugting wat fantasie bied. As hulle saam met die karakters kan lag en ontspan, des te beter.

Tags: , , , , , , , , ,

Boekgeselsie met Alta vR

 

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.

Alta is baie lief vir lees en vir reis, en as dié twee elemente gekombineer kan word, nog beter.

Wat is die titel van die gunstelingboek(e) waarvan jy wil vertel? Iets wat ek onlangs geniet het, is Lucinda Riley se Seven Sisters-reeks, wat tans uit sewe boeke bestaan. Dit is gebaseer op die sterswerm (star cluster) Pleiades wat in verskeie kulture beskryf word. Die reeks begin met die heengaan van sewe aangenome susters se pa, en die briewe wat hy aan elke dogter geskryf het met leidrade oor waar elkeen vandaan kom as hulle sou kies om hulle bloedfamilie op te spoor. Teen die einde van die sewende boek raak dit duidelik dat daar ’n agtste boek oor die pa sal moet wees. Met die outeur se afsterwe is lesers nog steeds nie seker of daardie laaste boek geskryf is en gepubliseer gaan word nie. Die onsekerte laat my so effens dink aan Game of Thrones...

Hoekom is dit ʼn gunsteling?
Vier hoofredes: Eerstens, die leser reis saam met elke suster na verskeie dele van die wêreld (soos Brasilië, Skotland, Kenia en Ierland) waar twee storielyne jou boei, een in die hede en een in die verlede, waarna hierdie twee storielyne saamgesnoer word. Tweedens, dis sterk vrouekarakters wie se lewens skielik omver gewerp word, en die leser ervaar elke suster se innerlike reis in haar soeke na haar identiteit en bestaansrede. Derdens, die oudste suster is soos ek ʼn vertaler. En vierdens, ek het voorgraads musiek studeer, en die tweede suster het familiebande met die Noorweegse komponis Edvard Grieg. So ná daardie eerste boeke kon ek nie die res van die reeks weerstaan nie.

Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Ek is lief vir fantasie, veral Terry Pratchett en Neil Gaiman. En Nataniël se rubrieke laat my telkens skater van die lag.

Wat lees jy op die oomblik?
The Artist’s Way deur Julia Cameron, waarin ek reeds ʼn hele paar idees gekry het oor hoe om my kreatiwiteit weer te ontdek en te ontwikkel.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Daar is geen opsie nie – ek wil definitief die gedrukte boek se papier in my hande voel.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Elders deur Erns Grundling, waarin hy sy pelgrimstog op die Camino (die Franse roete) beskryf. Dit het my aangespoor en ek het in Oktober 2019 die Portugese Kusroete saam met ʼn groep van die tydskrif Weg gaan stap. Ek is uiters dankbaar dat ek daardie reis nié uitgestel het tot later nié. Buen Camino!

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Die kat Maurice in Terry Pratchett se The Amazing Maurice and his Educated Rodents. Maurice is ʼn straatkat en swendelaar wat – met die hulp van ʼn paar slim rotte – geld maak uit mense se goedgelowigheid. Hierdie boek is pure pret!

Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel?
Die onlangse heengaan van ʼn liewe kollega het my herinner aan ʼn boek uit my kinderdae: Michael Ende se sprokiesroman Momo wat uit Duits in Afrikaans vertaal is. Dit is ʼn tydlose verhaal oor die “grys menere” wat mense se tyd steel. Die dogtertjie Momo is die enigste een wat raaksien wat besig is om te gebeur. Sy is bang, maar ook dapper genoeg om die gesteelde tyd te gaan soek en aan die mense terug te gee. Ons kan ongelukkig nie verlore tyd inhaal nie, daarom probeer ek hard om hiérdie oomblik ten volle te beleef en om herinneringe saam met my geliefdes te skep.

Watter boeke kan jy aanbeveel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Tracy Chevalier: Sy kombineer historiese feite met verbeelding om in Girl with a Pearl Earring ʼn agtergrondstorie te weef oor die beroemde skildery deur die Nederlandse skilder Jan Vermeer. Lees gerus ook haar ander boeke. Enigiets deur Marita van der Vyver – ook haar kosboeke. En dan veral: énigiets wat jou hardop laat skater van die lag!

 

 

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , , , , , ,