Vryheidsdag roep ons op om hulde te bring aan die opofferings wat in die stryd teen apartheid gemaak is, en om te besin oor die vryhede wat deur daardie opofferings verwerf is. Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. In ‘n Suid-Afrika wat in die ware sin van die woord meertalig is, sal geen taal uitgesluit word nie en niemand sal agterbly nie. Ons is nog nie heeltemal daar nie – maar vryheid is immers nie ʼn bestemming nie; dit is ‘n aanhoudende strewe, ‘n wording. Taalaktivisme is besig om momentum op te bou, en daar is reeds veel om te vier en op voort te bou.



