Tale is die draers van die tradisies, geskiedenis en identiteite van hul sprekers. Wanneer ʼn taal verdwyn, is ʼn unieke manier van dink, stories oordra en wêreldbeeld, vir altyd verlore. Op Vrydag 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag vir die 25ste keer wêreldwyd gevier om bewustheid van taalkundige en kulturele diversiteit te bevorder en om meertaligheid aan te moedig. Weet jy wat op 21 Februarie 1952 gebeur het toe Bengaalse studente in die destydse Oos-Pakistan (nou Bangladesj) betoog het vir die erkenning van Bengaals as ʼn amptelike taal?
ʼn Mymering oor die vryheid wat taal bring
Verbeel jou ʼn wêreld sonder taal. Kan ʼn mens jouself so-iets selfs voorstel? Is taal nie so vervleg met denke dat dit nie eintlik help ʼn mens dink as jy nie in taal dink nie? Hoe sou ʼn mens toegang tot jou eie gedagtes kry en hulle kommunikeer as ʼn mens dit nie in een of ander soort taal omsit nie?




