Tag: Taalbeleid

Tale maak saak! Internasionale Moedertaaldag 2025

Op Vrydag 21 Februarie word Internasionale Moedertaaldag vir die 25ste keer wêreldwyd gevier om bewustheid van taalkundige en kulturele diversiteit te bevorder en om meertaligheid aan te moedig. UNESCO het Internasionale Moedertaaldag in 1999 ingestel om die onontbeerlike rol van tale in die onderwys, kulturele bewaring en maatskaplike insluiting te beklemtoon, en aandag te vestig op die uitdagings wat bedreigde tale en meertalige gemeenskappe orals in die wêreld in die gesig staar.

Op 21 Februarie 1952 sterf vyf studente en word talle beseer tydens polisie-optrede by ʼn betoging in Bangladesj (destyds Oos-Pakistan) ter erkenning van Bengaals as ʼn amptelike taal. Vier jaar later word Bengaals inderdaad as amptelike taal amptelik erken.

Wat as ʼn nasionale beweging begin het, het gelei tot ʼn wêreldwye beweging ter bevordering van taalkundige regte. Internasionale Moedertaaldag dien tans as ʼn simbool van individue se reg om hul moedertaal aan te leer, te praat en te ontwikkel sonder om diskriminasie of onderdrukking te vrees.”

Dit gaan nie net oor die woorde nie

Tale is die draers van die tradisies, geskiedenis en identiteite van hulle sprekers. Wanneer ʼn taal verdwyn, is ʼn unieke manier waarop daar gedink is, stories vertel is en die wêreld verstaan is, vir altyd verlore. Die VN skat dat daar tans wêreldwyd ongeveer 8 300 tale bestaan, waarvan byna 40% as bedreig of ‘gedoem’ beskou word. Dit beteken dat geen kinders of jongmense daardie tale meer praat nie en dat net enkele bejaarde sprekers daarvan nog oorbly. Ongelukkig sluit dit die laaste van die vele Khoisan-tale in wat lank gelede in Suid-Afrika gepraat is. Nama is byvoorbeeld deur talle Khoisan-gemeenskappe in die Noord-Kaap gepraat, maar teen 2017 was daar minder as 2 000 Nama-sprekers oor – die meeste van hulle ouer as vyftig jaar; net drie bejaarde lede van die Khomani San het nog die N | uu-taal gepraat, en sover bekend was daar net twee sprekers oor van Kora, die taal van die Koranas.

Net soos dit in taal oor veel meer as kommunikasie gaan, gaan taalkundige verskeidenheid oor meer as die bewaring van woorde; dit gaan ook oor die bevordering van interkulturele dialoog en die versekering van regverdige toegang tot onderwys en geleenthede vir almal. Die tema van Internasionale Moedertaaldag 2025, “Tale maak saak!”, beklemtoon ook die dringende behoefte aan vooruitgang op die gebied van taalkundige verskeidenheid en insluiting as deel van die VN se Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte (SDG’s). Globalisering, taalbeleide wat dominante tale verder bevoordeel en tegnologiese vordering bedreig taalkundige verskeidenheid dikwels en lei tot die marginalisering van niedominante tale. Tans word minder as 100 tale grootskaals in digitale kommunikasie en op aanlyn platforms gebruik, wat die sprekers van minderheidstale se toegang tot inligting en leergeleenthede beperk. Omdat kommunikasie van tegnologie afhanklik is, is dit noodsaaklik om te verseker dat alle tale, met inbegrip van inheemse en minderheidstale, in die onderwys, die openbare lewe, en digitale ruimtes verteenwoordig word.

Meertaligheid en meer

Meertaligheid verwys na die gelyktydige bestaan van meer as twee tale in ʼn bepaalde gebied, of na die vermoë om meer as twee tale te praat. Dit het ʼn gonswoord geword in gesprekke oor onderwys en maatskaplike insluiting. Navorsing toon dat 40% van die wêreldbevolking geen toegang het tot onderwys in ʼn taal wat hulle praat of verstaan nie, wat dit moeilik maak vir kinders om hulle volle potensiaal te bereik.

Deur moedertale met onderwys te integreer, kan gemeenskappe geletterdheid bevorder, leeruitkomste verbeter, en ʼn dieper verbintenis met hulle kulturele identiteit bevorder.”

Plurilinguïsme, ʼn term wat taamlik onlangs geskep is, beteken meer as bloot om meervoudige tale te ken. Dit beklemtoon die vermoë om oor tale heen te kommunikeer en te put uit ʼn uiteenlopende taalkundige en kulturele repertoire. Anders as die tradisionele uitgangspunt dat dit nodig is om individuele tale afsonderlik te bemeester, erken plurilinguïsme gedeeltelike vaardighede, waar individue verskillende tale gebruik, afhangend van konteks en behoefte. Hiervolgens is effektiewe kommunikasie, eerder as die vermoë om ʼn taal vlot of foutloos te praat, die uiteindelike doelwit van taalverwerwing.

Deur plurilinguale onderwys te bevorder en kinders van jongs af aan te moedig om meervoudige tale te leer, kan gemeenskappe individue toerus met die vaardighede om in ʼn geglobaliseerde wêreld te floreer terwyl hulle stewige bande met hul moedertaal behou. By die US maak plurilinguïsme deel uit van ʼn meertalige ingesteldheid – ʼn benadering wat beteken dat ʼn mens gewillig is om sprekers van ander tale tegemoet te kom deur aanvaarding en waardering vir dit wat hulle diversiteit tot die gesprek bydra.

[us_image image=”31117″ size=”medium”]

Kom ons onthou wanneer ons Moedertaaldag 2025 vier dat taal meer as woorde is: dit is ook identiteit, erfenis en verbintenis. Of jy nou een of baie tale praat, elke poging om ʼn moedertaal te bewaar, te leer of te bevorder dra by tot ʼn meer insluitende en taalkundig ryke wêreld. Tale máák saak, en ons moet hulle beskerm.

–  deur Tania Botha

Tags: , , , , , ,

Moedertaaldag 2022: Kom ons kyk verder as ons eie taal

International Mother Language Day poster

Ons vier elke jaar op 21 Februarie Moedertaaldag. Dis gepas om op hierdie dag ʼn tydjie af te staan om daardie eerste taal te vier; dié een wat dit vir elkeen van ons moontlik gemaak het om ons belewenis van die wêreld te begin uitdruk. Baie mense is so gewoond daaraan om elke dag in hulle moedertaal sake te doen dat dit hulle nie eers opval nie. Vir ander is dié luukse nie beskore nie.

ʼn Alternatiewe manier om ons eie moedertaal te vier, is om uit te reik en die moedertale van die mense om ons doelbewus te leer en te gebruik. Van vanjaar af het ons die voorreg om alle amptelike kommunikasie aan die hele US in die drie amptelike tale van ons provinsie, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te ontvang (en te skep).

Dit beteken dat daar baie meer Xhosa-vertalings as ooit tevore by die Universiteit gedoen word. En baie van ons wil graag inklusief wees en meertaligheid orals in die Universiteit aangryp, selfs al is dit nie as deel van amptelike kommunikasie nie.

Dit is nou maar eenmaal so dat bitter min US-personeellede eiehandig tekste in Afrikaans, Engels én Xhosa die lig kan laat sien. Ons het almal ʼn mate van taalsteun nodig. En steun is daar, in baie verskillende gedaantes. Die bronne wat ʼn mens inspan, hang onder meer af van die doel waarvoor die betrokke materiaal gebruik gaan word. Hoe groter die beoogde gehoor en hoe meer permanent die materiaal, hoe versigtiger moet ʼn mens wees om te verseker dat die vertaling van ʼn goeie gehalte is. Dit is ook van toepassing op inligting wat wetlik bindend of lewensveranderend is – of wat lewensbedreigend kan wees as dit verkeerd verstaan word.

Google Translate kan nuttig wees om in die verbygaan die strekking van ʼn woord, ʼn frase of ʼn geskrewe stuk te verkry. Ons moet egter onthou dat, hoe merkwaardig dit ook al is dat ʼn masjien kan ‘vertaal’, masjienvertalings beperkings het. As ons, as die gebruikers van die tegnologie, nie daardie beperkings begryp en rekening hou met die gepaardgaande risiko’s nie, maak ons maklik gekke van onsself. Masjienvertalings kan nie aflei wat die konteks van woorde is nie, en konteks bepaal gewoonlik alles.

ʼn Onlangse klassieke voorbeeld was ʼn geval van aanwysings op die kampus in Xhosa, wat veronderstel was om urinale in ʼn gebou op die kampus aan te dui. Google Translate is geraadpleeg, en die resultaat, wat tot by die uitlegstadium by die drukker gegaan het, sou ons almal in die verleentheid gebring het as die ekwivalent van daardie masjienvertaalde aanwysings in ons onderskeie moedertale op die kampus aangebring sou wees vir almal om te sien. Gelukkig is die ramp net betyds afgeweer, ʼn taalpraktisyn is geraadpleeg, en vandag kan ʼn mens daardie urinale op die kampus vind danksy aanwysings in duidelike, aanvaarbare Xhosa, Afrikaans en Engels.

[us_hwrapper]

ʼn Beter manier om vertalings te bekom, is natuurlik om uit die staanspoor ʼn professionele taalpraktisyn te raadpleeg. Die Universiteit het ʼn hele Taaldiens tot sy beskikking by die Taalsentrum, met opgeleide personeel wat reg staan om te vertaal, te redigeer of raad te gee oor taalsake.”

[/us_hwrapper]

Om die beste eindresultaat spesifiek vir vertaling in Xhosa te verseker, sal dit help om van die volgende bewus te wees wanneer ʼn vertaling beplan word:

  • Xhosa is ʼn agglutinerende of saamklewende taal: Dit kombineer veel meer elemente in een woord as waarvan ʼn oningeligte Afrikaans- of Engelssprekende persoon sou kon droom. Dink byvoorbeeld aan singathanda, wat beteken ‘ons wil graag …’. Hierdie eienskap kan ellelange Xhosa-woorde tot gevolg hê, en moontlik selfs sinne wat uit een enkele woord bestaan.
  • Xhosa is ook ʼn taal waarin daar baie geparafraseer of omskryf word, soos wat in Frans die geval is. Samestellings word selde gebruik – ‘lessenaarlaai’ sal byvoorbeeld in Frans omskryf word as ‘die laai van ʼn lessenaar’. Op dieselfde manier sal ʼn mens in Xhosa eerder sê ‘sentrum vir taal’ (iziko leelwimi) as ‘taalsentrum’. Hierdie eienskap kan die taal pragtig verryk as dit op ʼn behendige manier toegepas word, en kan vereis dat ʼn mens sommige Engelse begrippe verduidelik sodat die Xhosa-vertaler dit in Xhosa kan parafraseer.
  • Geskrewe Xhosa benodig minstens 20% meer plek as die Afrikaanse en Engelse ekwivalente. Jou vertaling sal altyd langer wees as die bronteks. Die twee punte wat hierbo genoem word, het jou dalk ʼn aanduiding gegee van hoekom dit die geval sal wees.
  • Leenwoorde is nie altyd die beste oplossings in vertalings nie. Hulle versteur dikwels die gladde gang van die taal, soos wat anglisismes in Afrikaans doen. Sommige Xhosa-vertalers kry dit reg om uitstekende beskrywende oplossings te skep wat die taal verryk en die betekenis foutloos vasvang, sonder om die leesbaarheid van die teks in te boet. Kry so ʼn vertaler in jou span!
  • Nuwe terminologie word tans ontwikkel vir die nuwe omgewings waar ons Xhosa by die Universiteit begin gebruik. Kies jou vertaler goed; een wat deel uitmaak van ʼn netwerk van vertalers – ʼn praktykgemeenskap – wat mekaar en bestaande betroubare bronne raadpleeg oor vertaalekwivalente en terminologie.
  • Raadpleging neem tyd – ʼn Xhosa-vertaling kan langer neem as ʼn Afrikaanse of Engelse vertaling van dieselfde teks. Begin dus vroegtydig!

By die US kan ons almal deel wees van hierdie geleentheid om Xhosa verder te ontwikkel, al is dit nie ons moedertaal nie. Ons sal dit nie op ons eie – elkeen in ons eie klein hoekie – kan doen nie, maar as ons saam daaraan werk om ʼn meertalige ingesteldheid by die US te kweek, en namate ons vorder, dit met mekaar deel wat ons reeds geleer het, is daar wonderbaarlike potensiaal.

Probeer vanjaar iemand anders se moedertaal huldig. In dié proses sal jy jou eie moedertaal heel waarskynlik nog meer begin waardeer …

– deur Susan Lotz, geïnspireer deur die Taalsentrum se Xhosa-werkgroep (vertaal deur Ingrid Swanepoel)

Tags: , , , , , , , , , , , ,