Tag: taal

Boekgeselsie met Christo dK

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees!

Vandeesmaand gesels ons met Christo de Kock. Hy is tans besig met ’n internskap by die Taalsentrum en het onlangs sy honneurs in Vertaalkunde voltooi. “Taal lê my baie na aan die hart en dis waarom dit vir my ʼn groot voorreg is om ʼn intern by die Taalsentrum te wees en elke dag met taal te kan werk.”

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
The Wordsmith (ook in Engels gepubliseer met die titel The List), deur die Ierse skrywer, Patricia Forde.

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?
Ek is baie lief vir taal, en sonder my taal kan ek nie ek wees nie. The Wordsmith is ʼn goeie weerspieëling van my liefde vir en behoefte aan taal en die absolute skoonheid daarvan. Die boek handel oor die idee dat mense nie sonder taal kan lewe nie. Sonder taal is ons tonge afgesny, by wyse van spreke. Maar taal is nie net daar ter wille van oorlewing nie. Om ʼn ryk, uitgebreide en kleurvolle woordeskat te hê, maak dat ons kan leef, dink, redeneer en skep, en nie net oorleef nie.

Ek kan ook byvoeg dat dit nie net die inhoud van die boek is wat my interesseer nie, maar dat ek ook aanklank vind by die outeur se taalgebruik. Dit vloei soos ʼn melodie en die outeur vertel nie net ʼn storie nie, maar sy kry dit ook reg om werklik te skilder met woorde – ʼn illustrasie van wat ons met taal kan verrig en watter potensiaal woorde het.

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Patricia Forde – sy het The Wordsmith geskryf.

Roald Dahl – Roald Dahl se stories is so kleurvol en tydloos, en kan deur enigeen gelees word – maak nie saak hoe jonk of oud nie. Net soos Forde kry hy dit reg om te speel met taal en die skoonheid daarvan te illustreer.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees op die oomblik Heidi deur Johanna Spyri. Ek hou daarvan om kinderstories te lees, want dis wat die jong onskuldige kind binne my lewendig hou. En ek is lus om my Duits weer bietjie op te skerp.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek het ʼn sterk voorkeur vir gedrukte boeke. Ek hou van goed wat tasbaar is. Om te lees is ook vir my ʼn sensoriese ervaring – ek wil die boek kan sien, kan voel. Ek wil selfs die papier kan ruik.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
The Wordsmith. Ek het dit meer as een keer gelees omdat ek weer op ʼn taalavontuur wou gaan. Maar ek het die boek ook in twee verskillende tale gelees. As jong vertaler wou ek graag sien watter vertaaluitdagings in die boek is en hoe die Nederlandse vertaler daarmee te werk gegaan het – eerstens omdat ek ʼn groot liefde vir Nederlands het en dit vir my interessant en leersaam was om die boek in Nederlands te lees, maar ook omdat ek graag eendag die boek in Afrikaans wil vertaal.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Roald Dahl se Matilda. Sy is intelligent en, ten spyte daarvan dat sy klein en vir ander onbelangrik is, laat sy nie toe dat ander oor haar loop nie. Sy is volwasse en ʼn groot voorstaander vir geregtigheid, en maak seker dat ander regverdig behandel word.

Het jy dalk ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel?

Moenie die waarde van jou taal onderskat nie.”  

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Heidi – Johanna Spyri (as jy lus is om ʼn bietjie Duits te lees)
The Book Thief – Markus Zusak
Brolloks en Bittergal – CJ Langenhoven
George’s Marvellous Medicine – Roald Dahl
Matilda – Roald Dahl
Die Bergengel – Carina Stander

Tags: , , ,

Kom ons vier daardie eerste een

Dis waarskynlik die taal waarin jy iets minder mooi sal sê as jy groot skrik. Die kans is groot dat jy ook in hierdie taal droom. As jy gelukkig is, sal jy kleuterversies daarin ken, en dalk selfs ʼn paar argaïese uitdrukkings en opgemaakte woorde…

ʼn Mens se moedertaal is ʼn soort instinktiewe taal – diep ingebedde kennis wat vir jou as volwassene voel asof dit eenvoudig nog altyd daar was, en iets wat op die vreemdste tye na vore kan kom. Dit is gepas om ʼn internasionale dag te hê om erkenning te gee aan hierdie baie persoonlike en kosbare hulpbron wat ons help om sin van die wêreld te maak. ʼn Mens se moedertaal of eerste taal dien ook as wegspringplek om meer tale te leer – soms met soveel sukses dat dit vir party mense later moeilik is om te onderskei tussen hul eerste en tweede taal.

Internasionale Moedertaaldag word elke jaar op 21 Februarie gevier. Vir ons by die Taalsentrum verskaf dit groot vreugde om erkenning aan hierdie dag te gee, en dit bevestig ook ons bestaansrede op ʼn baie diep vlak. Taal begin by die eerste taal wat jy aanleer, en die wonder van daardie eerste taal leef voort en verder deur al die ander tale waarvoor jy jouself oopstel. Wanneer jy leer skryf en praat in ʼn ander taal as jou moedertaal, stimuleer en verbreed dit interkulturele ervarings en dialoog tussen mense. Ons glo heelhartig dat kennis van en liefde vir verskillende tale kan bydra tot sterker verhoudings tussen mense, kulture en organisasies. Wanneer ons taalvaardigheid by die Taalsentrum aanmoedig en aankweek, moedig ons ons studente en kliënte aan om alles te gee wanneer hulle nuwe tale saam met ons aanleer – of dit nou Xhosa, Afrikaans of Engels is.

Internasionale Moedertaaldag nooi elkeen van ons uit om vir ʼn oomblik stil te staan en na te dink; om te onthou hoe dit vir elkeen van ons op ʼn talige manier begin het. Wat is jou verhouding met die taal waarmee jy jou wêreld die heel eerste keer kon benoem? Hierdie dag gee ons ʼn kans om daardie persoonlike en individuele beginpunt te waardeer en te erken. Die viering van hierdie dag help om ons onderskeie erfenisse te bewaar en moedig ons aan om deel te word van ʼn meertalige, kultuurryke samelewing wat ʼn tuiste is vir ʼn verskeidenheid tale. Maar dit begin alles met daardie baie belangrike eerste een: die moeder van alle tale.

deur Susan Lotz, Kim Wallmach en Zandile Kondowe

International Mother Language Day poster
Tags: , , ,