Tag: Suid-Afrikaanse tale

V en A met dr Schalk van der Merwe ter viering van tien jaar van Afrikaanse taal en kultuur vir Nederlandssprekende uitruilstudente

Dr Schalk van der Merwe, buitengewone senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch (US), is ’n gepubliseerde outeur en ’n ervare baskitaarspeler. Hy balanseer sy akademiese loopbaan met sy werk as professionele musikant, en put dikwels uit sy eie musiekervarings om sy navorsing te verryk. Van 2005 tot 2017 doseer hy geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch, met die fokus op Afrika-geskiedenis. Sedert 2019 is hy betrokke by die US se Internasionale Kantoor waar hy in verskeie vakgebiede doseer, van Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis tot populêre kultuur en identiteit.   

In sy doktorale navorsing wat hy in 2015 afgehandel het, het hy die politieke en kulturele dinamika van Afrikaanse musiek van die vroeë 20ste eeu tot in die post-apartheidsera ondersoek.

Hierdie studie het aanleiding gegee tot sy boek, On Record: Popular Afrikaans Music and Society, 1900–2017, wat temas dek soos Afrikanernasionalisme, sensuur tydens apartheid, klasseverskille, en rassepolitiek op die postapartheidspopmusiektoneel. Van der Merwe het tot dusvertot verskeie akademiese publikasies bygedra, met inbegrip van Fuck off! Fokofpolisiekar’s Afrikaans Punk in the Postcolony en Ghosts of the Popular: The Hidden Years Music Archive and the Interstices of South African Popular Music History (saam met Lizabé Lambrecht).  

Hy is reeds vir ‘n aantal jaar ‘n gereelde gasbesoeker by die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente, waar hy op verhalende wyse sleutelgebeure uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis met studente deel en bespreek. As deel van die kursus se tienjaarviering het ons hom ʼn paar vrae gevra.  

[us_separator]

Schalk, jy bied self twee kursusse aan by Stellenbosch Internasionaal as deel van die globleonderwysprogram (Global Education Programme). Vertel ons asseblief kortliks waaroor jou kursusse handel? 

Die een is “Overview of South African History”, wat ’n verkenning is van die groot temas in ons geskiedenis, van die eerste mense tot die Regering van Nasionale Eenheid (RNA). Die ander kursus is “South African Popular Culture and Identity”, wat meer interdissiplinêr is en byvoorbeeld kyk hoe die raakpunte van taal, ras en klas uitdrukking kry in kultuurpraktyke. Ons luister nogal baie na musiek in die klas, van hiphop, kwaito en amapiano tot Afrikaanse popmusiek. Ons kyk ook na dinge soos “sites of memory”, met spesifieke verwysing na Sophiatown en Distrik Ses.   

Jy is nou al vir omtrent drie jaar ‘n gereelde gas by die Afrikaanse taal- en kultuurkursus, waar jy ’n gaslesing aanbied wat fokus op ’n oorsig van die Suid-Afrikaanse geskiedenis. Wat dink jy is die verband tussen geskiedenis en herkoms wanneer dit kom by die vorming van ’n spesifieke kultuur en identiteit? Hoekom, sou jy sê, kan ’n mens ‘n beter begrip van ‘n kultuur kry deur meer van daardie kultuur se geskiedenis te leer? 

Dit voel of ek al langer betrokke is! O, ek dink die twee loop hand aan hand. Narratiewe soos ‘wie ek/ons is’ word gevorm onder, en in reaksie op, spesifieke historiese omstandighede. ʼn Mens moet hierdie omstandighede verstaan as jy kultuur en identiteit wil verstaan. ’n Goeie plaaslike voorbeeld en Suid-Afrika is ryk aan sulke voorbeelde is die ontwikkeling van ’n Afrikanervolksidentiteit en die gepaardgaande Afrikanerkultuur. Dit wat die meeste van ons waarskynlik onder hierdie terme verstaan, was nooit ’n gegewe uitkoms nie. Die idee van ’n ‘volk’ is iets wat doelbewus geskep is onder die vaandel van Afrikanernasionalisme namate dit vastrapplek gekry het in die politiek van die vroeë twintigste eeu. Daar was ook ander ideologieë in omloop, maar dié het mettertyd al hoe minder invloed gehad. Die feit dat daar so baie belê is in veral wit Afrikaanse skoolleerplanne wat sterk klem gelê het op volksidentiteit, het bygedra daartoe dat dit vandag nog redelik sterk voortbestaan.  

[us_separator][us_image image=”32998″ align=”center”][us_separator size=”small”]

Dr Van der Merwe met uitruilstudente uit België en Nederland in die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente in 2017.

[us_separator]

Wat sou jy sê is die belangrikste aspekte van ons komplekse geskiedenis wat internasionale studente behoort te verstaan – veral wanneer dit kom by die geskiedenis en herkoms van Afrikaanssprekendes? 

Wanneer ek werk met internasionale studente – wat meestal uit Europa afkomstig is – is dit belangrik om kolonialisme en die impak daarvan noukeurig uit te stip. Hulle kom nie van koloniale en postkoloniale wêrelde af nie. In hulle wêreld is die konstruksie van byvoorbeeld ras nie so ’n sentrale historiese faktor nie, terwyl dit baie sentraal staan in Suid-Afrika se geskiedenis. Wanneer dit kom by die geskiedenis en herkoms van Afrikaans, is dit noodsaaklik om die taal se diversiteit uit te beeld, asook hoe dit in diens gestaan het van prosesse van sosiale verandering. Ek belig gewoonlik die slawe se invloed om die ontwikkeling van die taal en die kulturele elemente daarvan wat ons nog vandag kan raaksien, duidelik te maak. Die feit dat Afrikaans onder unieke omstandighede ontstaan het, en dat dit een van net vier tale is wat tydens die twintigste eeu gestandaardiseer is, is ook belangrike gesprekpunte. Uiteindelik voel ek dat Afrikaans, vir ’n jong taal, al baie lewenservaring opgedoen het. Dit was byvoorbeeld ’n taal van konflik en ’n taal van onderdrukking, maar ook een van verset en hoop. Afrikaanse literatuur is ryk, en die Afrikaanse verbeeldingswêreld is diep en mooi.  

Uiteindelik voel ek dat Afrikaans, vir ’n jong taal, al baie lewenservaring opgedoen het. Dit was byvoorbeeld ’n taal van konflik en ’n taal van onderdrukking, maar ook een van verset en hoop. Afrikaanse literatuur is ryk, en die Afrikaanse verbeeldingswêreld is diep en mooi.  

[us_separator][us_image image=”32986″ align=”center”][us_separator size=”small”]

Dr Van der Merwe (links) met dosent Helga Sykstus (tweede van links) en ‘n groep studente van België en Nederland by die ‘Eet Kreef Herleef!’-musiekkonsert by Woordfees, 2022.

[us_separator size=”large”][us_btn label=”Nuuskierig oor die Afrikaans-kursusse wat die Taalsentrum aanbied? Klik gerus hier!” link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fafrikaans-courses%2F|”][us_separator]

deur Helga Sykstus

[us_separator size=”large”]
Tags: , , , , , ,

Tien jaar van Afrikaanse taal en kultuur vir Nederlands-sprekende uitruilstudente: ’n Onderhoud met Sen Joostens

Sen Joostens het in 2020 die Afrikaanse taalen kultuurkursus vir Nederlanssprekende studente as  Belgiese uitruilstudent aan die US voltooi. Vandag fasiliteer hy die aanleer van Afrikaans aan studente en personeel aan KU Leuven. Hy is ook een van die samestellers van ’n handboek, Baie Afrikaans, wat onlangs in België verskyn het, en  waarvoor hy die Afrikaanse Taalraad se Junior Koker vir Afrikaans gewen het.  

Ons het met Sen gesels tydens sy onlangse besoek aan die US om hom te vra oor sy ervaring van ons Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente, wat vanjaar tien jaar se fasilitering van kulturele leer vier. “Afrikaans is ’n warm taal …  ’n taal wat moontlikhede skep, wat ’n mens baie geleenthede kan gee”, vertel Sen. “Ja, daar is baie redes hoekom ’n mens Afrikaans wil leer.” 

Kyk gerus die hele onderhoud op ons YouTube-kanaal.  

Tags: , , , , , ,

Kom ons gesels oor taalvryheid ter viering van Vryheidsdag

Op 27 April vier Suid-Afrika Vryheidsdag ter herdenking van sowel die eerste demokratiese verkiesing in 1994 as die ingebruikneming van die nuwe (tussentydse) Grondwet, wat gelyke regte en burgerlike vryhede vir alle landsburgers waarborg.  

Vandag, een en dertig jaar later, is baie Suid-Afrikaners te jonk om daardie eerste dag van vryheid te onthou, terwyl die herinnering daaraan vir ander vervaag het, of ʼn sekere mate van selftevredenheid ingesluip het. Ons huidige kommer oor die toestand van ons land en talle ander wêrelddele veroorsaak moontlik dat min van ons in ʼn feestelike luim verkeer; des te meer rede om die volgende vermaning deur Nelson Mandela ter harte te neem: “Vryheid mag nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Elke generasie moet dit bewaar en uitbrei.” [Eie vertaling.] 

Vryheid mag nooit as vanselfsprekend aanvaar word nie. Elke generasie moet dit bewaar en uitbrei.

Vryheidsdag roep ons op om hulde te bring aan die opofferings wat in die stryd teen apartheid gemaak is, en om te besin oor die vryhede wat deur daardie opofferings verwerf is. En elke jaar herinner dit ons daaraan dat ons saam met daardie vryhede die verantwoordelikheid gekry het om ons individuele en gesamentlike kragte in te span om die die beste moontlike gebruik daarvan te maak en ook om ander se vryhede te bevorder.  

Die vorm en klank van vryheid 

Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. Die regte om te stem, om te lewe sonder om vervolging te vrees en om aan die openbare lewe deel te neem, is fundamentele regte. Maar hierdie regte is onvolledig sonder vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid die reg om in die taal van ʼn mens se keuse te praat, te dink, te skep en te kommunikeer. As jou stem nie gehoor word nie, kan jy nie deelneem nie. As jy nie kan verstaan nie, kan jy nie toegang tot regte verkry nie. Kortom, as jou taal uitgesluit word, word jy saam uitgesluit. 

Die Suid-Afrikaanse Grondwet word dikwels geloof as een van die progressiefste grondwette ter wêreld. Die Handves van Regte waarborg vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid, erken twaalf amptelike tale, en heg spesifiek waarde aan kulturele en taalkundige diversiteit.  

[us_separator]

Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. […] Kortom, as jou taal uitgesluit word, word jy saam uitgesluit.

[us_separator]

Vir talle Suid-Afrikaners, veral dié wie se moedertaal nie Afrikaans of Engels is nie, bly die reg om hulle ten volle in hulle huistaal uit te druk, egter meer van ʼn droom as die werklikheid. Engels oorheers in die akademie, regering, media en tegnologie, en is dus as’t ware die sleutel tot geleenthede. Engels is ook ʼn klassemerker: diegene wat vlot is in Engels verkry toegang tot werksgeleenthede, geregtigheid en aanlyn ruimtes; diegene wat Engels nie magtig is nie, bly agter. In hierdie proses word die waarde van Afrikatale verlaag en word hulle dikwels as erfenissimbole behandel, eerder as lewende gedagte- en kommunikasiestelsels. Só word kulturele trots weggekalwe en die oordrag van kennis tussen generasies aan bande gelê.  

Kom ons verpoos vir ʼn oomblik om te besin oor die uitwerking wat dit het op die daaglikse lewe van miljoene Suid-Afrikaners: ʼn Tshivenda-spreker wat nie aanlyn regsadvies in sy huistaal kan bekom nie; ʼn Xhosa-sprekende pasiënt wat sukkel om simptome aan ʼn Engelssprekende dokter te verduidelik; ʼn kind wie se moedertaal Sepedi is, maar wat Engels moet leer lees nog voordat sy haar eie taal behoorlik bemeester het. Wat beteken taalvryheid vir hulle? 

Kom ons verpoos vir ʼn oomblik om te besin oor die uitwerking wat dit het op die daaglikse lewe van miljoene Suid-Afrikaners: ʼn Tshivenda-spreker wat nie aanlyn regsadvies in sy huistaal kan bekom nie; ʼn Xhosa-sprekende pasiënt wat sukkel om simptome aan ʼn Engelssprekende dokter te verduidelik; ʼn kind wie se moedertaal Sepedi is, maar wat Engels moet leer lees nog voordat sy haar eie taal behoorlik bemeester het. Wat beteken taalvryheid vir hulle? 

[us_image image=”32028″ align=”center”]

Meertaligheid moet vir almal geld 

In ʼn Suid-Afrika wat in die ware sin van die woord meertalig is, sal geen taal uitgesluit wees en sal nie een enkele persoon agterbly nie. As daar geen hulpbron- of infrastruktuurtekorte was nie, en geen gaping tussen beleide en die uitvoering daarvan nie, sou die regering in alle tale dienste gelewer het en daar sou volle toegang tot digitale en ander media gewees het. Die regering sou belê het in vertaal- en tolkdienste en taaltegnologieë vir inheemse tale; en daar sou ondersteuning wees vir inhoudskepping in onderverteenwoordigde tale – veral op digitale platforms. Daar sou regsaanspreeklikheid wees wanneer grondwetlike taalregte geïgnoreer word. En daar sou moedertaalonderrig en meertalige pedagogieë op alle skoolvlakke wees. 

Ons is nog nie heeltemal daar nie maar vryheid is immers nie ʼn bestemming nie; dit is ʼn aanhoudende strewe, ʼn wording. Taalaktivisme is besig om momentum op te bou, en daar is reeds veel om te vier en op voort te bou.  

[us_separator]

Ons is nog nie heeltemal daar nie maar vryheid is immers nie ʼn bestemming nie; dit is ʼn aanhoudende strewe, ʼn wording. Taalaktivisme is besig om momentum op te bou, en daar is reeds veel om te vier en op voort te bou.  

[us_separator]

Die Nal’ibali-leesveldtog  versprei kinderverhale in al die Suid-Afrikaanse tale om vroeë lees en die vertel van stories tuis aan te moedig, en projekte soos PRAESA bevorder vroeë geletterdheid in Afrikatale en werk daaraan om die skoolstelsel van onder af boontoe te verander. Terselfdertyd bied transtaling ʼn potensieel transformasionele benadering tot leer en onderwys wat taalkundige diversiteit regverdig toegevoeg in die klaskamer inbring op ʼn manier wat meertalige leerders en die waardes en kennis wat hulle bring, bemagtig.  

In hoër onderwys het die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) ʼn taalbeleidsraamwerk (2020) gefinaliseer wat daarop gemik is om meertaligheid en die ontwikkeling van inheemse tale by Suid-Afrika se 26 openbare universiteite te bevorder, en in 2023 het die DHOO ongeveer R70 miljoen oor ʼn driejaartydperk bewillig om universiteite te help om hierdie mikpunte te bereik. Die Universiteit Stellenbosch (US) het die geld wat tot dusver ontvang is, gebruik om ʼn hupstoot te gee aan inisiatiewe om sosiale kohesie en insluiting deur middel van taal by die instansie te bevorder. Die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid aan die US is ʼn deurlopende inisiatief, en is iets waarvoor die hele Universiteitsgemeenskap gesamentlik op akademiese en sosiale vlak verantwoordelik is. Die skep van ʼn verwelkomende omgewing op die kampus en die bevordering van meertaligheid in die breë kampusgemeenskap is oorkoepelende doelwitte, en voorbeelde van meer praktiese inisiatiewe is die reeks Bou Gemeenskappe deur Meertaligheid-werkwinkels wat vir die studentegemeenskap en personeellede aangebied word, en Xhosa- en Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT)- kursusse wat gratis vir sowel studente as personeel aangebied word. Nog ʼn opwindende inisiatief by US is die ontwikkeling van Xhosa-terminologie.

[us_separator]

Die bevordering van ʼn meertalige ingesteldheid aan die US is ʼn deurlopende inisiatief, en is iets waarvoor die hele Universiteitsgemeenskap gesamentlik op akademiese en sosiale vlak verantwoordelik is.

[us_separator]

In die digitale ruimte bereik gemeenskapsuitgewers en -skeppers gehore, hulle vertel stories en bou kulturele kapitaal in aanlyn poetry slams, podsendings en TikTok-video’s in, onder meer, Xhosa, Setswana en Xitsonga, terwyl die Masakhane-inisiatief IT-spesialiste wat sprekers van Afrikatale is bymekaarbring om natuurlike taalverwerkingsinstrumente vir Afrikatale te ontwikkel, wat sal verseker dat hulle verteenwoordig word in KI, stemtegnologie en masjienvertaling.  

Vryheid is ʼn doenwoord 

Taalvryheid is nie selfverwesenlikend nie – dit is iets wat ons moet beliggaam, waarvolgens ons moet handel en wat ons moet verdedig om betekenis daaraan te gee. Wanneer ons kies om ons tale te praat, bevestig ons hulle waarde. Wanneer ons insluiting eis – in die klaskamer, tegnologie, gesondheidsorg of die media – betoon ons eer aan almal se reg om gehoor te word. En wanneer ons oor taalgrense heen onderrig, skep en luister, bou ons aan ʼn vryer, meer gelyke gemeenskap. 

[us_separator]

Wanneer ons kies om ons tale te praat, bevestig ons hulle waarde.

– deur Tania Botha, vertaal deur Ingrid Swanepoel 

[us_separator]
Tags: , , , , ,

Tien jaar van Afrikaanse taal en kultuur vir Nederlandssprekende studente aan die US: ’n Onderhoud met dosent Helga Sykstus

Vanjaar is dit tien jaar sedert Helga Sykstus, ’n dosent en koördineerder aan die US Taalsentrum met meer as 20 jaar ervaring, die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente geloods het. Hierdie kursus bied vir uitruilstudente van Nederland of België die kans om ’n dieper begrip en waardering van die Afrikaanse taal en kultuur te ontwikkel. Dit is daarom sóveel meer as net ’n taalkursus – dit is meer ’n 3D-ervaring van Afrikaans binne ’n Suid-Afrikaanse konteks: van die letterkunde, geskiedenis en politiek tot die kuns, musiek, resepte en valse vriende wat Afrikaans so divers, ryk, en lekker maak om te luister, lees en praat. 

Ter viering van die tiende bestaansjaar van hierdie unieke kursus – wat elke jaar talle belangstellende studente uit die Lae Lande lok – gesels ons met Helga oor dié besondere aanbod. 

[us_separator size=”small” show_line=”1″]

Waarom het jy in 2015, vanjaar tien jaar gelede, besluit om hierdie baie spesifieke kursus op die been te bring? Hoe verskil hierdie kursus van die Taalsentrum se kursusse vir plaaslike en internasionale deelnemers uit ander lande as Nederland of België wat geen Afrikaans kan praat nie?  

Die Afrikaanskursusse wat as deel van US Internasionaal, die Universiteit se internasionale kantoor, se globale onderrigprogram (GEP) vir buitelandse studente aangebied word, is al vir meer as twee dekades ’n instelling. Daar was dus voor 2015 reeds ’n kursus wat spesifiek gemik is op Nederlandssprekendes, maar die kursus het ’n meer literêre fokus gehad en vanweë die koste en tekort aan ’n aanbieder was daar seker so drie jaar wat ons die kursus moes stop. Ek en ’n oud-kollega, Karlien Cillie, het toe aan die begin van 2015 besluit dat ons graag weer die kursus op die been wil bring, maar met ’n ietwat ander kleur en geur. Albei van ons het as deel van ons studies in Nederland en België studeer en het dus nie net ’n kennis van die taal gehad nie, maar ook die voorreg gehad om iets van die kulture te kon beleef. Ons het gevoel dat om bloot ’n tradisionele taalkursus vir Nederlandssprekendes aan te bied, te beperkend is en dat ons soveel meer met ’n kursus kan bereik wat ook ’n sterk fokus op die kultuur het van die mense wat die taal praat. Die saadjie is geplant, ons voorstel is aanvaar en in Julie 2015 het ons ons eerste groep studente van Nederland en België gehad. 

Wat is die grootste verskille tussen Nederlands en Afrikaans? 

Die verskille wat ons in die kursus behandel, is hoofsaaklik verskille in die betekenis van woorde en konsepte asook grammatikale strukture soos voornaamwoorde, lidwoorde, werkwoorde en tye. Dit is vir my heerlik om vir studente te wys dat ten spyte daarvan dat Afrikaans op die oog af soveel ooreenstem met Nederlands, daar ontsettend baie verskille tussen die tale is en dat hulle deur die aanleer van hierdie woorde en konsepte nie net ’n “nuwe” taal aanleer nie, maar ook iets van die kultuur leer. Dit maak vir hulle ’n ander wêreld oop. Studente kry blootstelling aan leenwoorde uit ander tale, woorde soos “gogga”, “kierie”, “piesang”, “baklei”, “sambreel” en “kombers”, en dan fokus ons ook op die talle valse vriende tussen Afrikaans en Nederlands soos “amper”, “boodskappe”, “mug”, “geit”, “kaal”, “motor”, “stoep”, “vies” en “vaak”. En dan is daar menigte woorde wat ons verskillend gebruik of wat glad nie in Nederlands voorkom nie, byvoorbeeld “besig”, “oplaai”, “vervelend”, “bobbejaan”, “spookasem” en “hoendervleis”. Die lysie is oneindig lank!  

Tot watter mate (en hoe) word kultuur by hierdie kursus betrek? Hoe skakel dit met jou siening oor die rol van die taaldosent?  

As ’n mens kies om vir ’n tydperk in ’n ander land te woon, glo ek, moet jy die moeite doen om minstens op ’n basiese vlak met plaaslike mense in hul taal te kan kommunikeer. Jy wil tog deel word van die gemeenskap, en een van die beste maniere om dit reg te kry is deur taal – nog te meer as jy Nederlandssprekend is en in ’n Afrikaanse gemeenskap woon. Dit gaan egter nie net oor kommunikasie nie. Deur die aanleer van die taal begin jy ook deel word van die kultuur, ’n kultuur wat veel, veel meer as braai en rugby en die groot vyf behels. Taal is ’n sleutel tot kultuur, veral in ’n land soos Suid-Afrika.  

[us_separator]
[us_image image=”31739″ size=”us_600_600_crop”][us_separator size=”small”]

’n Besoek aan die Afrikaanse Taalmonument in Paarl. 

[us_separator]

Taal is ’n sleutel tot kultuur, veral in ’n land soos Suid-Afrika.  

[us_image image=”31679″ size=”us_600_600_crop” align=”center”][us_separator size=”small”]

’n Toer deur die kleurvolle Bo-Kaap, waar verskeie variasies van Afrikaans gehoor kan word en Kaapse Maleise kos soos koesisters en bobotie koning kraai. 

[us_separator]

Watter temas en aktiwiteite betrek jy by hierdie kursus? 

Behalwe vir die taalkomponent fokus ek op onderwerpe soos die oorsprong van Afrikaans, die gemeenskappe wat Afrikaans praat en die verskillende vorme van Afrikaans. Studente kry ook ’n oorsig oor Suid-Afrikaanse geskiedenis met verwysing na sekere belangrike momente in ons geskiedenis. Ons kyk na Afrikaanse musiek en hoe musiek as kulturele teks gebruik kan word. ’n Ander tema is ons verhouding met land en grond. Al hierdie temas word gebruik om ’n dieper verstaan van die Suid-Afrikaanse, maar dan meer spesifiek die komplekse en diverse Afrikaanse kultuur en identiteit, te kry. Behalwe vir hierdie kritiese besprekings gaan ons ook op ’n paar uitstappies. Ek neem studente vir begeleide toere na die Stellenbosch Village Museum, die Afrikaanse Taalmonument en die Distrik Ses Museum. En ek nooi altyd ’n staatmaker-gasspreker wat met die studente oor hul vakgebied of ervarings kom praat. Alles natuurlik in Afrikaans.  

[us_separator]
[us_separator]

Al hierdie temas word gebruik om ’n dieper verstaan van die Suid-Afrikaanse, maar dan meer spesifiek die komplekse en diverse Afrikaanse kultuur en identiteit, te kry.

Die kursus plaas groot klem op identiteit. Hoekom? En hoe pak jy dit aan om aan jou studente te verduidelik wat as algemeen kenmerkend van die Afrikaanse kultuur beskou word? 

Wel, elkeen van ons word in ’n sekere kultuur of kulture gebore, maar identiteit is dan iets wat deur verskeie faktore gevorm en beïnvloed word. En ek dink dit is problematies om net oor kultuur te praat sonder om identiteit te betrek. Dit is vir my belangrik dat studente ’n onderskeid kan tref tussen iets soos Afrikaanse kultuur (wat opsigself kompleks is), en hoe dit verskil van identiteit. Ek moedig studente aan om na te dink oor hulle eie identiteit en die faktore wat ’n rol speel in die vorming en moontlike verandering van identiteit.

[us_image image=”31727″ size=”us_600_600_crop” align=”center”][us_separator size=”small”]

Die 2023-groep besoek Vergelegen Wynlandgoed.

[us_separator]

So, byvoorbeeld, vorm taal vir heelwat Suid-Afrikaners en veral Afrikaanssprekendes ’n groot deel van hul identiteit, terwyl dit nie noodwendig die geval vir die gemiddelde persoon van Nederland of België is nie. Die Belge wat Vlaams praat het egter gewoonlik weer ’n sterker verhouding met taal as iemand van Nederland. So ook speel herkoms, of waar jy groot geword het, ’n rol in die vorming van identiteit. Studente sê keer op keer dat die gesprekke oor kultuur en identiteit wat ons in die kursus voer, dikwels die eerste keer is dat daar van hulle verwag word om daaroor te besin.   

Dit is vir my belangrik dat studente ’n onderskeid kan tref tussen iets soos Afrikaanse kultuur (wat opsigself kompleks is), en hoe dit verskil van identiteit. Ek moedig studente aan om na te dink oor hulle eie identiteit en die faktore wat ’n rol speel in die vorming en moontlike verandering van identiteit. […] Studente sê keer op keer dat die gesprekke oor kultuur en identiteit wat ons in die kursus voer, dikwels die eerste keer is dat daar van hulle verwag word om daaroor te besin.   

[us_separator]

Wat, volgens jou, is die belangrikste uitkomste van die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandse en Belgiese studente? 

Om ’n begrip en waardering te ontwikkel vir die diverse en komplekse Afrikaanse kultuur in al haar vorme binne die breër konteks van Suid-Afrika.  

[us_separator]

Ervaar jy dat internasionale studente oor die afgelope tien jaar hierdie uitkomste kon bereik? Is daar ander insigte en ervarings wat jy al opgelet het studente wat hierdie kursus voltooi met hulle saamneem Nederland of België toe? 

Ek dink die uitkomste word definitief bereik, ja! 

’n Paar jaar gelede het Liselotte Voets, ’n Belgiese uitruilstudent van die Katolieke Universiteit Leuven (KU Leuven) wat die US besoek het as deel van haar meestersgraad in filosofie, ons Afrikaanskursus vir Nederlandssprekende studente gevolg terwyl sy in Suid-Afrika was. Sy het na die kursus haar gedagtes in Afrikaans oor vryheid in ’n Taalsentrum-blog gedeel, en dit het my hart warm gemaak dat sy ook een van my studente was.  

Een van my ander studente het verlede jaar vir my die volgende geskryf, en dit vat so bietjie saam wat ek gereeld as terugvoer kry: “Baie dankie vir al die moeite en toewyding wat jy in ons Afrikaanse klasse insit. Ek het nie net soveel oor Suid-Afrika en sy kultuur geleer nie, maar ook baie oor myself. Die lesse en aktiwiteite het my gehelp om dinge op ’n nuwe manier in perspektief te sien en my wêreldbeskouing te verbreed. Ek waardeer die ruimte wat jy skep vir openhartige gesprekke en vir die geleenthede wat ons het gehad om die land en sy mense op so ’n unieke manier te ervaar. Met opregte waardering.” 

Lees hier meer oor die Afrikaanse taal- en kultuurkursus vir Nederlandssprekende studente aan die US. 

[us_separator][us_image image=”31715″][us_separator size=”small”]

Musikant Frazer Barry (regs) is een van die gereelde gaste wat Helga (middel) nooi om met die studente te gesels oor Afrikaanse musiek, kultuur en identiteit. 

[us_separator show_line=”1″]
[us_cta title=”Maar wat as jy nie Nederlandssprekend is nie en steeds Afrikaans wil leer? ” title_size=”21px” btn_label=”Klik hier vir meer inligting” btn_link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fafrikaans-courses%2F|title:Afrikaans-kursusse%20by%20die%20US%20Taalsentrum|target:_blank|” btn_style=”2″]Daar is verskeie opsies. As jy n uitruilstudent is, kan jy ons Beginnerafrikaans vlak 1-kursus deur US Internasionaal neem. As jy n plaaslike US-student is, is ons Kampusafrikaanskursus net reg vir jou, en as jy onverbonde aan die Universiteit is, is Afrikaans 123 die aangewese kursus om te volg. As jy verkies om teen jou eie pas te leer, kan jy ook ons EdX-kursus om Afrikaans te begin aanleer, oorweeg. En as jy onseker is oor wat jou te doen staan, kan jy gerus vir Helga e-pos by hbuys@sun.ac.za. [/us_cta][us_separator]
[us_cta title=”Het jy geweet?” title_size=”21px” controls=”bottom” btn_label=”Vind hier meer uit oor ons Xhosa kursusse” btn_link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fisixhosa-courses%2F|title:Xhosa%20kursusse|target:_blank|” btn_style=”2″ second_button=”1″ btn2_label=”Vind hier meer uit oor ons SASL kursus ” btn2_link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fproduct%2Fsouth-african-sign-language-beginner-level-1a%2F|target:_blank|” btn2_style=”2″]Jy kan ook Xhosa of Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL) deur die Taalsentrum aanleer. Die kursusse is interaktief en baie pret. [/us_cta]
[us_cta title=”Wil jy jou eie ding doen met ons aan jou sy? ” title_size=”21px” controls=”bottom” btn_label=”Leer meer oor ons EdX-kursusse” btn_link=”url:https%3A%2F%2Fwww.edx.org%2Fcertificates%2Fprofessional-certificate%2Fstellenboschx-multilingual-mastery-embracing-linguistic-diversity|title:EdX|target:_blank|” btn_style=”2″]Oorweeg ook gerus ons EdX-kursusse om Afrikaans, Xhosa of SASL onafhanklik en teen jou eie pas te begin leer. [/us_cta]

– deur Andréa Müller en Helga Sykstus

[us_separator size=”large”]
Tags: , , , , , ,