Tag: Opvoedkundige tolking

Aanlyn tolking in die klaskamer – nou selfs gladder!

US-dosente! Maak jou module van tolking gebruik, of wil jy graag van tolking in jou module gebruik maak?

Die tolke van die US Taalsentrum se Tolkdiens is aanlyn beskikbaar om te tolk vir studente wat van die diens gebruik wil maak.

Vir die tweede semester het ons probeer om die proses makliker en minder van ʼn administratiewe las te maak. Om dit te bewerkstellig, sal die Tolkdiens alle Engelse, Afrikaanse en Xhosa (waar van toepassing) sessies soos nodig vir tolking op MS Teams skeduleer.

Lees asseblief die volgende besonderhede aandagtig deur om seker te maak dat jou module op ons rooster bevestig word.

Wat het verander?

  • Jy hoef nie meer enige vergaderings te skeduleer nie. Die Tolkdiensspan sal al die nodige vergaderings skeduleer om tolking in jou module in te stel en jou dan uitnooi, sodat jy volle toegang het.
  • Daar sal slegs een skakel per taal (Afrikaans en/of Xhosa) vir die tolksessies wees, wat studente vir alle klasse in die week sal gebruik. Dit beteken dat jy slegs een keer een skakel op SUNLearn hoef te plaas. Studente sal nie toegang tot die opname van die vergadering of gesprek hê nadat hulle die sessie verlaat het nie.
  • Jy sal ‘Tolkgerei’ met skakels vir SUNLearn, QR-kodes wat jy in die klas kan gebruik en die kontakbesonderhede van die skakelpersoon vir tolking in jou module ontvang.
  • Jy moet die besonderhede van die geskeduleerde sessies bevestig deur die uitnodigings na die vergaderings te aanvaar en die e-pos wat jy van die skakelpersoon ontvang, te beantwoord. Die module sal slegs op ons rooster bevestig wees nadat jy die besonderhede bevestig het.

Wat het dieselfde gebly?

  • Jy het steeds volle toegang en MS Teams-toestemming vir al die vergaderings.
  • Jy kan steeds die opname vir die Engelse sessie – met ander woorde, jou eie lesing – begin en staak en die opname vir eie gebruik aflaai. Studente sal nie sonder jou goedkeuring toegang tot hierdie opnames hê nie.
  • Jy kan steeds besluit of die tolke die getolkde lesing moet opneem – ons sal nooit lesings sonder jou toestemming opneem nie. Jy kan die getolkde lesing vir eie gebruik aflaai. Studente sal nie sonder jou goedkeuring toegang tot hierdie opnames hê nie.
  • Jy kan steeds klasbywoning moniteer. Die Tolkdiens sal steeds boekhou van die studente wat van ons diens gebruik maak en kan hierdie lys op versoek aan jou beskikbaar stel. Wenk: Maak seker dat jou studente verstaan wat jy met ‘klasbywoning’ bedoel, as dit ʼn vereiste vir jou module is – dit wil sê, of hulle fisies in die klaskamer teenwoordig moet wees OF net sinchronies aanlyn na die lesing kan luister.
  • Jy moet die skakel of QR-kode vir die getolkde sessie(s) op SUNLearn en/of in die klas aan studente beskikbaar stel. Om die billike toepassing van die Taalbeleid te verseker, moet alle studente te alle tye toegang tot tolking hê in daardie modules wat volgens jou fakulteit se taalimplementeringsplan vir tolking aangewys is.

Wat kan jy voor die begin van die semester verwag?

  • Al die sessies wat nodig is om tolking in jou module moontlik te maak, sal teen 1 Februarie 2024 geskeduleer wees.
  • Jou skakelpersoon sal jou Tolkgerei teen 6 Februarie 2024 per e-pos aan jou stuur. Bevestig asseblief die besonderhede van die geskeduleerde sessies deur die uitnodigings na die vergaderings te aanvaar en teen 12:00 op 8 Februarie 2024 op jou skakelpersoon se e-pos te reageer. Stel asseblief die skakel op SUNLearn beskikbaar of dui teen 12:00 op 8 Februarie 2024 vir jou skakelpersoon aan hoe jy toegang tot tolking vir alle studente sal verseker.

Wat as jy die vergaderings self wil skeduleer?

Die verstekopsie is nou dat die Tolkdiens al die nodige vergaderings skeduleer om tolking in jou module te bewerkstellig. As jy self die vergaderings wil skeduleer, of vergaderings op ʼn spesifieke wyse wil opstel (bv. dat opnames in die Engelse sessie outomaties begin), stel ons asseblief teen 6 Februarie 2024 in kennis.

Ons sien uit na nog ʼn goeie semester van saamwerk!

As jy meer oor tolking wil weet, of tolking vir jou module wil aanvra, kontak gerus vir Christine Joubert of besoek die webblad van die Tolkdiens.

Tags: , , ,

Spanwerk laat die plan werk: Dosente se aanlyn meertaligheidsvennoot

Van die opvoedkundige tolke en die dosente waarmee hulle saamwerk

Sukses moet gevier word! Die Taalsentrum se Tolkdiens het onlangs ʼn samewerkingsviering met van die dosente wat van tolking in hulle klaskamers gebruik maak, gehou.

Daar is saam besin oor ʼn semester van samewerking om ʼn meertalige klaskamer-ervaring van hoë gehalte vir studente te bied. Vir sommige van die dosente was dit die eerste keer dat hulle die tolke saam met wie hulle werk, in lewende lywe gesien het – iets wat gelyktydig ʼn opwindende en vreemde ervaring kan wees!

Opvoedkundige tolking is ʼn gratis diens wat deur die US Taalsentrum se Tolkdiens gelewer word. Dit is beskikbaar vir modules wat volgens fakulteite se taalimplementeringsplanne daarvoor kwalifiseer of waar daar ʼn pedagogiese behoefte bestaan.

Studente kan geweldig baat by ʼn meertalige onderrig- en leerruimte. Wanneer verskillende tale ingebring word, bied dit aan studente onder meer die geleentheid om leermateriaal uit verskillende perspektiewe te benader en dit maak dit moontlik vir meer stemme om outentiek gehoor te word. Dit is daarom uiters noodsaaklik dat dosente die gebruik en werking van opvoedkundige tolking op ons kampus verstaan en studente aanmoedig om gebruik te maak daarvan.

Die benutting van tolking op ons kampus strek dus veel wyer as situasies waar studente nie die dosent se taal van aanbieding verstaan nie. Soms verkies studente om vir die eerste paar weke van klasse na die lesings in Afrikaans te luister omdat hulle dalk onseker is oor die Engels en die vakterminologie.

Deur intyds na die volledige klas in Afrikaans te kan luister, kan dit hulle help met daardie oorbrugging van skool na universiteit. Soos dr Christine Steenkamp (Fisika) dit stel:

In die gevalle waar studente na ʼn maand of twee ophou gebruik maak van tolking beteken dit nie vir ons dat die tolking onsuksesvol was nie. Dit beteken dalk juis dat dit gewerk het, want die oorbrugging is gedoen en die student kan met selfvertroue vorentoe beweeg.”

Tydens die geleentheid is sommige van die voordele wat tolking vir dosente inhou ook uitgelig. Prof Hermann Swart (Sielkunde) het verduidelik dat dit vir hom baie beteken om te weet dat hy ʼn vennoot aanlyn het wat die Afrikaans behartig sodat hy sy beste self kan wees terwyl hy in Engels doseer. Om meer studente se voorkeurtaal in die klas in te sluit is ʼn gedeelde doelwit tussen dosent, tolk en student, en die feit dat hy op die tolke kan staatmaak om die inhoud in Afrikaans weer te gee vir studente wat dit beter in Afrikaans verstaan of eenvoudig in Afrikaans verkies, dra daartoe by dat hy meer ontspanne kan wees.

Remerta Basson (Finansiële Rekeningkunde) het gedeel hoe beïndruk sy is met die tolke se kennis van vakterminologie en die outentieke en natuurlike manier waarop hulle die inhoud in die getolkte lesings oordra.

Danksy die innovasie van die tegnologiespan in die Tolkdiens, is intydse aanlyn tolking bykans naatloos geïntegreer in die klaskamers. Vir die studente is dit so maklik soos om daar en dan in die klas ʼn oorfoon ʼn oor te sit! Vind gerus meer uit oor opvoedkundige tolking deur die Tolkdiens by juanli@sun.ac.za te e-pos of ons webblad te besoek.

Tags: , ,

Afrikadag 2023: Ons Afrika, ons toekoms

Om die vele fasette en wonder van Afrika te erken, word Meimaand aan Afrika opgedra.

Afrikadag self word op 25 Mei gevier om die stigting van die Organisasie vir Afrika-eenheid (nou bekend as die Afrika-unie), op 25 Mei 1963 te herdenk. Op hierdie dag, 60 jaar gelede, onderteken leiers van 30 van die 32 onafhanklike Afrikastate ʼn stigtingsakte in Addis Abeba, Etiopië. Daar onderneem hulle om nasiebou deur eenheid en vryheid van onderdrukking aan te moedig.

Die Taalsentrum het besluit om vandeesmaand die belangrike rol wat tolke tot dusver op die Afrika-vasteland gespeel het om taalgrense oor te steek, uit te lig – van die professionele taalkundiges en pryssangers van stamgebonde Afrika-samelewings tot hedendaagse tolke wat nasiebou fasiliteer en toegang tot dienste bewerkstellig deur in nasionale parlemente, kongresse, howe en hospitale te tolk. En natuurlik dink ons ook aan die opvoedkundige tolke wat dit moontlik maak dat universiteitslesings in Afrikaans, Engels, Xhosa en Suid-Afrikaanse Gebaretaal aangebied kan word.

Die gebruik om in Afrika van een taal na ʼn ander te tolk, het reeds duisende jare gelede ontstaan, soos dit ook elders die geval is.

[us_hwrapper]

In baie Afrika-samelewings het die professionele taalkundiges of pryssangers tot ʼn lang linie begaafde meertalige oratore behoort wat pryssange op belangrike openbare geleenthede aangehef het om die oorwinnings en roem van die stamhoof en sy voorsate te besing.”

[/us_hwrapper]

Die orale kuns van Wes-Afrikaanse griots (sanger-digters) en Suider-Afrikaanse iimbongi (pryssangers) word tot vandag toe nog voortgesit, met die pryssangers wat as hedendaagse politieke kommentators optree.

Die verhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie van 1996 tot 1998 was die eerste blootstelling wat menige Suid-Afrikaners aan die wonder van simultane tolking in Suid-Afrika se 11 amptelike tale gehad het. Tolke het tydens die verhore van die Waarheids- en Versoeningskommissie versoening gefasiliteer. Sedertdien het hulle gehelp om Suid-Afrika op te bou by nasionale en provinsiale wetgewers, munisipale raadsvergaderings en kongresse. Ander belangrike werkgewers vir tolke in Afrika sluit in die Afrika-unie, Pan-Afrika-parlement, UNON (die Verenigde Nasies se Kantoor in Nairobi), SADC (die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) en die Afrika-ontwikkelingsbank.

Gebaretaaltolke is wêreldwyd bekend vir die toegang tot onderwys wat hulle vir Dowe studente fasiliteer, maar wat minder bekend is, is dat gesproketaaltolke dieselfde kan doen vir horende studente. Verskeie Suid-Afrikaanse universiteite maak universiteitslesings op hierdie manier toeganklik vir studente wat nie noodwendig so gemaklik in die taal van onderrig is nie. Aan die US werk ons opvoedkundige tolke in Afrikaans, Engels, Xhosa en Suid-Afrikaanse Gebaretaal.

Ons gee graag erkenning aan die rol wat tolking oor die jare heen gespeel het om Afrika en sy mense met mekaar te help verbind en sodoende vooruitgang te help bewerkstellig. Ons by die Taalsentrum beskou onsself as bevoorreg om deel van hierdie verhaal te wees, en ook om deel van die toekoms van Afrika te wees – ons Afrika.

As jy dalk ʼn tolk is wat in Afrika werk, deel asseblief jou ervaring met ons. E-pos ons by taalsentrum@sun.ac.za.

Bron: Wallmach, K. 2015. Africa. In Pöchhacker, F. (ed.) Encyclopaedia of Interpreting Studies. Londen: Routledge.

Blog deur Dr Kim Wallmach, Direkteur van die Taalsentrum; vertaal deur Susan Lotz

Tags: , , , , , , , , ,