Tag: multilingual mindset

Ons moedertale: Wat kry ons daaruit?

By die US se Taalsentrum deel ons UNESCO se oortuiging dat kulturele en taalkundige diversiteit belangrike boustene is vir volhoubare samelewings, en ons neem met oorgawe deel aan die wêreldwye viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie elke jaar.

Moedertaaldag gaan nie net net oor my en jou individuele moedertale nie, maar ook oor dié van die mense om ons. As ons verstaan dat die persoon langs ons se moedertaal net so kosbaar vir hulle is soos ons moedertaal vir ons is, en as ons dan daardie sentiment respekteer, het ons reeds goeie vordering gemaak.

Hoekom is moedertale belangrik, afgesien daarvan dat ons emosionele waarde heg aan die taal of tale waarmee ons grootgeword het en waarin ons onself heel eerste begin uitdruk het? Hoe kan hulle van praktiese nut vir ons wees, selfs wanneer ons dikwels in ʼn derde of vierde taal funksioneer om te verseker dat ons op ʼn manier kommunikeer wat ander mense help om te verstaan wat ons sê?

 

Moedertaalmomentum

Moedertale gee ons momentum – hulle is soos kenniswegspringblokke. Almal van ons gebruik ons moedertaal as ʼn ondersteunende raamwerk in die verkryging van kennis. Wanneer ʼn mens nuwe kennis inwin, begin jy gewoonlik met bekende inligting en verken die onbekende van daar af. As jy dus op ʼn plek begin waar jy weet wat ʼn sekere konsep in jou moedertaal is, het jy ʼn plek waar jy vastrapplek kan kry, en jy kan daardie bekendheid gebruik as wegspringplek om meer komplekse konsepte te verstaan, selfs wanneer jy in ʼn ander taal as jou moedertaal met hulle kennis maak.

Dus kan en moet studente hul moedertale op universiteit gebruik, selfs al is hulle taal nie een van die instansie se amptelike tale van onderrig en leer nie. As ons maar aan die US dink – die Universiteit het hom verbind tot die gebruik van Afrikaans, Engels en Xhosa, die amptelike tale van die Wes-Kaap. Afrikaans en Engels is die primêre tale waarin daar geleer word, onderrig verskaf word, en assessering gedoen word. Xhosa kan ook vir onderrig en leer gebruik word in gevalle waar daar die nodige kapasiteit is en dosente dit van pas vind om dit te gebruik, en waar daar ʼn opvoedkundige behoefte daaraan is. Verder is die Universiteit daartoe verbind om Xhosa as ʼn akademiese taal te ontwikkel en om Afrikaans te behou as ʼn taal waarin onderrig, leer, assessering en navorsing gedoen word. Die US is ook een van die min Suid-Afrikaanse universiteite wat werk om Suid-Afrikaanse Gebaretaal te ontwikkel en te bevorder. Dit is alles deel van ʼn nasionale mandaat vir tersiêre instellings om minstens een Afrikataal onder hul vlerk te neem en dan die beskikbare hulpmiddels daarop te fokus, terwyl dit wat reeds ontwikkel is, in stand gehou word. Dit is ʼn belangrike manier vir ons om die Suid-Afrikaanse Grondwet uit te leef. Deur tale op tersiêre vlak te respekteer, verhoog ons hulle status.

Die US se studente en personeel is in der waarheid ʼn veel meer diverse klomp as bloot sprekers van Afrikaans, Engels en Xhosa, maar dit is darem ʼn begin om met die algemeenste moedertale in die Wes-Kaap te werk. Ander Suid-Afrikaanse universiteite het ook onderneem om minstens een van die Afrikatale in hulle streke te ontwikkel. Op dié manier sal Zoeloe-sprekers byvoorbeeld ook kan baat by hulpbronne in Xhosa omdat hierdie twee tale ná aan mekaar is, en dieselfde geld vir ander tale wat nou aan mekaar verwant is. As moedertaalsprekers moet ons egter self ons eie tale kies wanneer die geleentheid hom voordoen.

Verhoging van die status

As ons ons tale se status wil behou of verhoog en hulle reikwydte wil uitbrei, kan ons dit op twee oorkoepelende maniere doen. Een daarvan is deur in daardie taal te skryf – deur letterkunde te skep – en sodoende te bewys dat jou taal in staat is om abstrakte denke en kreatiewe en komplekse idees uit te druk, en dat dit buigsaam genoeg is om dit te doen. Die tweede manier is deur terminologie te skep wat nuwe tegniese domeine beskryf.

Waarskynlik moet elke enkele taal met die uitsondering van Engels (omdat terminologie skynbaar veel natuurliker in Engels geskep word as deel van die proses van nuwe uitvindings en ontwikkelings) gedurig sy status verhoog om in ons moderne wêreld by te hou. Elke ander taal, of dit nou Frans, Duits, Chinees, Afrikaans of Xhosa is, word uitgedaag om tred te hou, en selfs Engels bly nie altyd voor nie! Ook mag Engels dalk oor die terminologie beskik, maar die betekenis van die betrokke konsepte spreek soms nie vanself nie. Terminologie in Xhosa, Afrikaans of selfs Frans is dikwels meer beskrywend en dus duideliker verstaanbaar vir die sprekers van die betrokke taal. Dink maar aan “koppelaar” in Afrikaans vir “clutch” in Engels, of die Zoeloe-woord vir “wetsontwerp” (“bill in Engels), naamlik “umthethosivivinywa”, wat letterlik beteken “ʼn wet wat besig is om gemaak te word”. Daar is talle ander voorbeelde. Maar kies ons om daardie mooi woorde aan te gryp en te gebruik, of val ons outomaties terug op die Engelse woorde?

ʼn Groot voordeel daarvan om ʼn taal se status te verhoog en om verskeie tale te gebruik, is dat ons ons omgewings sodoende meer inklusief maak. Wanneer mense hulle tale in verskillende ruimtes sien en ervaar, herinner dit hulle daaraan dat hulle deel is van iets wat groter as hulleself is.

Verskillende kante van dieselfde munt

Wanneer ons vanjaar Moedertaaldag vier, moet ons dalk oor die volgende twee vrae nadink: Wat doen jou moedertaal vir jou, en wat doen jy vir jou moedertaal? Wanneer jy jou moedertaal gebruik om te leer, en in jou daaglikse lewe en in amptelike onderhandelinge, help jy nie net jouself nie, maar ook ondersteun en bewaar jy jou taalerfenis. Deur jou taal te gebruik, help verseker jy dat daardie taal lewendig bly en in die toekoms steeds sal voortbestaan.

En dan, wanneer ons nog ʼn tree vorentoe neem en mekaar se moedertale begin leer, ondersteun en versterk ons daardie tale selfs nog meer terwyl ons nuwe maniere vind om mekaar te begryp en te waardeer.

– deur Susan Lotz, dr Kim Wallmach, Sanet de Jager en Jackie van Wyk, vertaal deur Ingrid Swanepoel

 

 

 

Tags: , , , ,

Moedertaaldag 2022: Kom ons kyk verder as ons eie taal

International Mother Language Day poster

Ons vier elke jaar op 21 Februarie Moedertaaldag. Dis gepas om op hierdie dag ʼn tydjie af te staan om daardie eerste taal te vier; dié een wat dit vir elkeen van ons moontlik gemaak het om ons belewenis van die wêreld te begin uitdruk. Baie mense is so gewoond daaraan om elke dag in hulle moedertaal sake te doen dat dit hulle nie eers opval nie. Vir ander is dié luukse nie beskore nie.

ʼn Alternatiewe manier om ons eie moedertaal te vier, is om uit te reik en die moedertale van die mense om ons doelbewus te leer en te gebruik. Van vanjaar af het ons die voorreg om alle amptelike kommunikasie aan die hele US in die drie amptelike tale van ons provinsie, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa, te ontvang (en te skep).

Dit beteken dat daar baie meer Xhosa-vertalings as ooit tevore by die Universiteit gedoen word. En baie van ons wil graag inklusief wees en meertaligheid orals in die Universiteit aangryp, selfs al is dit nie as deel van amptelike kommunikasie nie.

Dit is nou maar eenmaal so dat bitter min US-personeellede eiehandig tekste in Afrikaans, Engels én Xhosa die lig kan laat sien. Ons het almal ʼn mate van taalsteun nodig. En steun is daar, in baie verskillende gedaantes. Die bronne wat ʼn mens inspan, hang onder meer af van die doel waarvoor die betrokke materiaal gebruik gaan word. Hoe groter die beoogde gehoor en hoe meer permanent die materiaal, hoe versigtiger moet ʼn mens wees om te verseker dat die vertaling van ʼn goeie gehalte is. Dit is ook van toepassing op inligting wat wetlik bindend of lewensveranderend is – of wat lewensbedreigend kan wees as dit verkeerd verstaan word.

Google Translate kan nuttig wees om in die verbygaan die strekking van ʼn woord, ʼn frase of ʼn geskrewe stuk te verkry. Ons moet egter onthou dat, hoe merkwaardig dit ook al is dat ʼn masjien kan ‘vertaal’, masjienvertalings beperkings het. As ons, as die gebruikers van die tegnologie, nie daardie beperkings begryp en rekening hou met die gepaardgaande risiko’s nie, maak ons maklik gekke van onsself. Masjienvertalings kan nie aflei wat die konteks van woorde is nie, en konteks bepaal gewoonlik alles.

ʼn Onlangse klassieke voorbeeld was ʼn geval van aanwysings op die kampus in Xhosa, wat veronderstel was om urinale in ʼn gebou op die kampus aan te dui. Google Translate is geraadpleeg, en die resultaat, wat tot by die uitlegstadium by die drukker gegaan het, sou ons almal in die verleentheid gebring het as die ekwivalent van daardie masjienvertaalde aanwysings in ons onderskeie moedertale op die kampus aangebring sou wees vir almal om te sien. Gelukkig is die ramp net betyds afgeweer, ʼn taalpraktisyn is geraadpleeg, en vandag kan ʼn mens daardie urinale op die kampus vind danksy aanwysings in duidelike, aanvaarbare Xhosa, Afrikaans en Engels.

[us_hwrapper]

ʼn Beter manier om vertalings te bekom, is natuurlik om uit die staanspoor ʼn professionele taalpraktisyn te raadpleeg. Die Universiteit het ʼn hele Taaldiens tot sy beskikking by die Taalsentrum, met opgeleide personeel wat reg staan om te vertaal, te redigeer of raad te gee oor taalsake.”

[/us_hwrapper]

Om die beste eindresultaat spesifiek vir vertaling in Xhosa te verseker, sal dit help om van die volgende bewus te wees wanneer ʼn vertaling beplan word:

  • Xhosa is ʼn agglutinerende of saamklewende taal: Dit kombineer veel meer elemente in een woord as waarvan ʼn oningeligte Afrikaans- of Engelssprekende persoon sou kon droom. Dink byvoorbeeld aan singathanda, wat beteken ‘ons wil graag …’. Hierdie eienskap kan ellelange Xhosa-woorde tot gevolg hê, en moontlik selfs sinne wat uit een enkele woord bestaan.
  • Xhosa is ook ʼn taal waarin daar baie geparafraseer of omskryf word, soos wat in Frans die geval is. Samestellings word selde gebruik – ‘lessenaarlaai’ sal byvoorbeeld in Frans omskryf word as ‘die laai van ʼn lessenaar’. Op dieselfde manier sal ʼn mens in Xhosa eerder sê ‘sentrum vir taal’ (iziko leelwimi) as ‘taalsentrum’. Hierdie eienskap kan die taal pragtig verryk as dit op ʼn behendige manier toegepas word, en kan vereis dat ʼn mens sommige Engelse begrippe verduidelik sodat die Xhosa-vertaler dit in Xhosa kan parafraseer.
  • Geskrewe Xhosa benodig minstens 20% meer plek as die Afrikaanse en Engelse ekwivalente. Jou vertaling sal altyd langer wees as die bronteks. Die twee punte wat hierbo genoem word, het jou dalk ʼn aanduiding gegee van hoekom dit die geval sal wees.
  • Leenwoorde is nie altyd die beste oplossings in vertalings nie. Hulle versteur dikwels die gladde gang van die taal, soos wat anglisismes in Afrikaans doen. Sommige Xhosa-vertalers kry dit reg om uitstekende beskrywende oplossings te skep wat die taal verryk en die betekenis foutloos vasvang, sonder om die leesbaarheid van die teks in te boet. Kry so ʼn vertaler in jou span!
  • Nuwe terminologie word tans ontwikkel vir die nuwe omgewings waar ons Xhosa by die Universiteit begin gebruik. Kies jou vertaler goed; een wat deel uitmaak van ʼn netwerk van vertalers – ʼn praktykgemeenskap – wat mekaar en bestaande betroubare bronne raadpleeg oor vertaalekwivalente en terminologie.
  • Raadpleging neem tyd – ʼn Xhosa-vertaling kan langer neem as ʼn Afrikaanse of Engelse vertaling van dieselfde teks. Begin dus vroegtydig!

By die US kan ons almal deel wees van hierdie geleentheid om Xhosa verder te ontwikkel, al is dit nie ons moedertaal nie. Ons sal dit nie op ons eie – elkeen in ons eie klein hoekie – kan doen nie, maar as ons saam daaraan werk om ʼn meertalige ingesteldheid by die US te kweek, en namate ons vorder, dit met mekaar deel wat ons reeds geleer het, is daar wonderbaarlike potensiaal.

Probeer vanjaar iemand anders se moedertaal huldig. In dié proses sal jy jou eie moedertaal heel waarskynlik nog meer begin waardeer …

– deur Susan Lotz, geïnspireer deur die Taalsentrum se Xhosa-werkgroep (vertaal deur Ingrid Swanepoel)

Tags: , , , , , , , , , , , ,

ʼn Mymering oor die vryheid wat taal bring

Verbeel jou ʼn wêreld sonder taal. Kan ʼn mens jouself so-iets selfs voorstel? Is taal nie so vervleg met denke dat dit nie eintlik help ʼn mens dink as jy nie in taal dink nie? Hoe sou ʼn mens toegang tot jou eie gedagtes kry en hulle kommunikeer as ʼn mens dit nie in een of ander soort taal omsit nie?

In sy boek, The language instinct, is Steven Pinker besig met dieselfde gedagte wanneer hy skryf: “Taal is so nou met die menslike ervaring verweef dat dit skaars moontlik is om ‘n mens die lewe daarsonder voor te stel. Die kans is groot dat waar daar twee of meer mense saam op enige plek op aarde is, hulle vroeër of later woorde sal wissel” – of gebare sal uitruil. Dowe mense gebruik gebaretale net soos horende mense gesproke tale gebruik: om te lag, te huil en dinge te vier, en die resultaat kan net so emotief en skeppend wees.

Die blote gedagte dat ons dit nie werklik kan weerstaan om ons taalinstink met ander te deel nie, laat ʼn mens dink aan hoe vry taal en die vermoë om dit te gebruik, ons maak. Taal bevry die gedagtes in ons eie koppe deur vir ons ʼn manier te gee waarop ons daardie gedagtes kan uitdruk, en iemand anders in die proses heel moontlik heel bly te maak (of te belas). Taal bied die geleentheid om uitdrukking te gee, om gehoor te word, en sodoende kontak te maak. Verskillende tale mag deur verskillende reëls en konvensies gerig word, maar die wawye, oop vryheid wat in die vermoë lê om taal te gebruik en iets te skep wat nog niemand anders ooit op daardie presiese manier gesê het nie, is werklik iets om ‘n mens aan te verwonder. Dink aan gedigte, meningstukke, blogs, essays of boeke oor dieselfde temas deur verskillende outeurs: dieselfde goue draad kan deur hulle almal loop, maar daar is soveel verskillende maniere om ʼn ding te sê. Maak hierdie gedagte jou nie sommer lus om dadelik aan die skryf te gaan nie?

Ons ervaar ʼn tyd waarin ons vryheid van beweging en vryheid van assosiasie deur die risiko om mekaar aan te steek, gekortwiek word. Terwyl sommige van ons fisieke vryhede tans ingeperk word om die verspreiding van die pandemie wat ons in die gesig staar, te beteuel, is ons intellektuele vryheid onbelemmerd.

Vir Vryheidsdag vanjaar kies ons by die Taalsentrum om die vryheid wat ons in taal het, te vier – die oneindige moontlikhede wat taal bring wanneer ons onsself uitdruk, met mekaar skakel en ons lewens leef, selfs al is ons fisieke radius – tydelik – kleiner.

– deur Susan Lotz en Kim Wallmach

Volle verwysing:
Pinker, Steven. 1994. The language instinct: The new science of language and mind. Penguin Books: Londen. 3

Tags: , , , , , , , ,