Tag: Menseregtedag

Taal as mensereg: Menseregtedag 2025

Op Vrydag 21 Maart vier ons Menseregtedag in Suid-Afrika – ses dekades nadat die gebeure by Sharpeville op dieselfde dag in 1960 sou maak dat dié datum vir ewig deel word van demokratiese Suid-Afrika se erfenis.

Sedert die afskaffing van apartheidswetgewing en die demokratiese verkiesing van Nelson Mandela as Suid-Afrika se president in 1994, word Suid-Afrikaners met die herdenking van hierdie dag uitgenooi om na te dink oor sowel hulle eie regte as die van ander; om te dink oor die lang en moeilike stryd vir gelyke regte vir almal in Suid-Afrika, en om te onthou om aan te hou om gelyke menseregte vir almal – ongeag velkleur, gender, geloof, seksuele oriëntasie of nasionaliteit – ten alle tye te respekteer en te beskerm.

Taalregte

Ons Grondwet en Handves van Regte bevestig ons almal se reg op lewe, gelykheid en menslike waardigheid. Wat baie mense dalk nie besef óók in die Handves van Regte as fundamentele menseregte genoem word nie, is die reg tot taal, kultuur en gemeenskap, en die reg om aan kulturele en taalkundige gemeenskappe te behoort. Ons Grondwet maak spesifiek voorsiening vir die beskerming van taalregte. Die Pan Suid-Afrikaanse Taalraad (PANSALB) is juis gestig met die doel om die ontwikkeling en gebruik van alle tale in Suid-Afrika te bevorder, en om respek vir daardie tale aan te moedig.

Ons Grondwet maak spesifiek voorsiening vir die beskerming van taalregte.”

 

Taalkundige menseregte

Wêreldwyd word daar navorsing gedoen en besin oor individue en hele gemeenskappe se taalkundige menseregte, oftewel “linguistic human rights”. Taalkundige menseregte behels daardie regte wat die gebruik van en waardes wat taal betref verskans: van die reg om ’n taal van jou keuse te praat, die reg tot toegang tot vertaling of tolking wanneer jy nie ’n taal verstaan nie, tot die reg om enige taal van jou keuse aan te leer.

Al ons Suid-Afrikaanse tale is eintlik minderheidstale, of tale met beperkte verspreiding; nie een Suid-Afrikaanse taal word as moedertaal deur ’n meerderheid Suid-Afrikaners gepraat nie. Engels is egter die de facto lingua franca in Suid-Afrika. Gevolglik is dit sprekers van ander tale as Engels wat dikwels uitdagings ervaar met betrekking tot die beskerming van hul taalkundige regte. Dit is juis waarom dit so belangrik is om meertaligheid en ’n meertalige ingesteldheid te bevorder en te beskerm. Dit is soos ons Grondwet bepaal: Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons diversiteit. Dit is ons verantwoordelikheid as landsburgers, en as regering, om seker te maak dat ons daardie strewe gestand doen.

Taal vergestalt die regte van individue in die sin dat taal in die eerste plek nodig is om wetgewing op te teken. Verder maak taal hierdie wetgewing – en regte – toeganklik vir individue, mits dit in ’n taal gekommunikeer word wat ’n individu verstaan. Individue het ook die wetlike reg om in die hof in hul eie taal aangehoor te word. Verder bemagtig taal mense om protes aan te teken. Taal is daarom nie net die magtige draer van identiteit, kultuur en gemeenskap nie, maar ook van geregtigheid.

Taal is dus nou vervleg met menseregte. Taal kan ook gebruik word om uit te sluit, en daarom moet ons, wanneer ons vir taalkundige menseregte pleit, nie uit die oog verloor dat inklusiwiteit en aanvaarding die grondslag van ons taalbesluite moet wees nie.

Taal kan ook gebruik word om uit te sluit, en daarom moet ons, wanneer ons vir taalkundige menseregte pleit, nie uit die oog verloor dat inklusiwiteit en aanvaarding die grondslag van ons taalbesluite moet wees nie.”

Die reg om ’n taal te kies, en die reg om daardie taal te gebruik, is onlosmaaklik verbonde aan die beskerming van die mens se waardigheid, veiligheid en sosiale en kulturele identiteit. Of soos Steve Zeitlin dit in Folklife Magazine verwoord: “Language rights are human rights”.

– deur Andréa Müller en dr Kim Wallmach

Tags: , , , , , ,

Kry daardie klapklanke onder die knie vir Menseregtedag

Op 23 Februarie het die Minister van Kuns en Kultuur, Nathi Mthwethwa, nuwe name vir sommige dorpe en stede in die Oos-Kaap aangekondig. Van die name is Port Elizabeth, nou Gqeberha; Maclear, nou Nqanqarhu; en King William’s Town, wat voortaan as iQoonce sal bekend staan. Die meeste mense – of hulle nou Afrikaans, Engels of selfs Xhosa praat – voel heel onseker oor die klapklanke in hierdie nuwe name en is maar bra versigtig om hulle te probeer uitspreek. Die herbenamings lyk nie of dit baie goed ontvang is nie, en daar is mense wat besig is met petisies om die naamsveranderinge te probeer omkeer.

Maar kan ons iets positief hieruit put?

Zandile Kondowe, Xhosa-dosent by die Taalsentrum, vertel van ʼn ervaring wat inderdaad die hart verwarm. Toe sy oor die nuwe name met van haar eertydse en huidige studente gesels, het hulle heerlik saam gesels – selfs op sosiale media. Hulle het sommer ook ingespring en mense begin leer hoe om die nuwe name uit te spreek en waardering vir hulle aan te kweek. “Op hierdie manier het hierdie studente nie net waardering en eerbied vir my as hulle Xhosa-dosent uitgedruk nie, maar hulle het ook gewys dat hulle alle Xhosa-sprekers respekteer en dat hulle boonop vir Xhosa as taal en die Xhosakultuur eerbied en waardering het. Om hulle toewyding só te sien het my herinner aan Neville Alexander, wat ʼn groot voorstander daarvan was om Afrikatale op kragdadige maniere en in verskillende sosiale domeine te gebruik.”

Vir Zandile is haar studente se toewyding ook ʼn wonderlike voorbeeld van respek vir menseregte. “In plaas daarvan om die manier waarop die nuwe dorpe se name uitgespreek moet word te kritiseer, het hulle dit op hulself geneem om te leer hoe om hulle uit te spreek en daarna ook uitgereik om ander te help wat sukkel met die uitspraak.”

Zandile wil graag enigeen by die Universiteit wat onseker is oor die uitspraak van hierdie name uitnooi om haar te e-pos by kondowe@sun.ac.za. Ons wil baie, baie graag help en jou leer hoe om die name uit te spreek. Boonop het ons heerlike, interaktiewe Xhosa-kortkursusse waarvoor mense kan inskryf!”

Kyk gerus na twee kort video’s van Zandile se studente om jou vere reg te skud vir daardie klapklanke!

Adnene Janse van Rensburg help ons om die klapklanke baas te raak:

En hier is nog hulp van Austin Pepar:

– deur Zandile Kondowe en Susan Lotz

Tags: , , , ,