Tag: Lees

Boekgeselsie met Elzette W

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Elzette Wickens, ʼn taalpraktisyn by die Taalsentrum se Taaldiens. “Ek redigeer en vertaal tekste vir Universiteits- en eksterne kliënte, in Afrikaans en Engels. Ek leer byna elke dag iets omdat ek met inhoud uit soveel uiteenlopende velde werk.”

Elzette hanteer ook taalnavrae vanaf kliënte sowel as niekliënte. “Dít kan nogal ʼn skattejag raak, want mense kontak ons meestal oor probleemgevalle waarvoor hulle nie elders sommerso oplossings kon kry nie. Ek is op my gelukkigste as ek kan voel ek het ʼn goed versorgde teks gelewer of ek het die taai bondel van ʼn taaltameletjie losgewoel gekry.”

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wees wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
The Christmas Mystery deur Jostein Gaarder (die outeur van ­Sophie’s World).

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?Ek het nog nooit voorheen so ʼn boek gelees nie. Dis ʼn storie waarin die spanning byna ongemerk opbou, met parallelle verhaallyne wat in teenoorgestelde rigtings beweeg. Enersyds is daar ʼn fantasieverhaal wat nietemin die verloop van die werklike geskiedenis volg; andersyds ʼn verhaal in die “werklike wêreld” met “gewone mense”. Maar dalk is eersgenoemde die werklikheid, wat ons een venstertjie op ʼn slag begin raaksien? Dis ʼn meesleurende karnaval sowel as stof tot nadenke. Een van die min boeke wat ek meer as een keer herlees het.

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Somerset Maugham, wat emosie so kan vasvang dat dit jou eie gemoed binnesypel. PG Wodehouse, vir die fyn spot met sosiale konvensies sonder om geniepsig te wees. Ken Follett, vir sy lieflike reeks wat in die Middeleeuse Engeland en Frankryk afspeel, vol kastele en kloosters en swaarde. Bill Bryson, vir die manier waarop hy inligting en aweregse humor vervleg, maar bowenal vir sy Mother Tongue, wat een van my grootste gunstelinge is. Hergé se Kuifie-reeks en Alba Bouwer se Rivierplaas-reeks. Die wenners wat saamgaan na die spreekwoordelike verlate eiland is Dr Seuss en Astrid Lindgren; as ek met hulle uitgekuier geraak en hulle boeke ontgroei het, kan julle maar die ligte afskakel.

Sr Seuss Ca in the HatDr Seuss se Cat in the Hat-karakter (kopiereg: Random House)

Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees nooit net een boek op ʼn slag nie. Op die oomblik is daar boekmerke in The Missing Ink: How handwriting made us who we are, The Queen’s Gambit, My Life with BoB: Flawed heroine keeps book of books, plot ensues, en Common Places: Mythologies of everyday life in Russia. Plus nog ʼn paar, hier en daar.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek is ʼn verbaasde maar heelhartige Kindle-aanhanger. Ek lees net nuusartikels op ander toestelle, en gedrukte boeke net as die fotomateriaal daarin belangrik is. Hoekom sou jy ʼn swaar voorwerp wou vashou, dalk jou plek wou verloor, nie dadelik ʼn vreemde of interessante woord wou naslaan nie, nie treffende gedeeltes moeiteloos wou onderstreep nie, nie ʼn ingeboude leeslampie wou hê nie … en nie ál die boeke waarin jy tans lees, tegelykertyd byderhand wou hê nie?

 

[us_hwrapper]

Reis lig en red ’n boom!”

[/us_hwrapper]

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Jane Austin se werk, veral Pride and Prejudice – seker al agt keer. Ek jil elke keer van plesier. Daardie openingsreël …

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Kaptein Sardyn

Het jy dalk ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Niemand hou by CS Lewis kers vas nie. Maar ek glo nie dis die regte forum hiervoor nie.

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Die lys is nimmereindigend, want ek lees meestal oor onderwerpe wat vir my interessant klink, eerder as die werk van sekere skrywers. ʼn Paar:

  • Worldly Goods: A new history of the Renaissance (Lisa Jardine)
  • C’est La Folie (Michael Wright; ʼn Engelse boek, net die titel is Frans)
  • Travels With My Briefcase (Peter Biddlecombe)
  • Sixty Million Frenchmen Cant Be Wrong: Why we love France but not the French (Jean Nadeau & Julie Barlow)
  • Rationality: What it is, why it seems scarce, why it matters (Steven Pinker)
  • Shantaram (Gregory David Roberts)
  • Sy Kom met die Sekelmaan (Hettie Smit)
  • Hessie en Holderstebolder (Korky Paul & Valerie Thomas)
  • Zanzibarstraat (Niki Daly)
Tags: , , , , , , , ,

Boekgeselsie met Ydalene C

Leer ken ons deur die boeke wat ons lees! Elke maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.

Hierdie maand gesels ons met Ydalene Coetsee, ʼn dosent in akademiese geletterdhede by die Taalsentrum. Ydalene is ‘n ywerige leser vir wie die versoeking groot is om selfs te probeer lees wanneer sy in die berge stap. Sy moet egter erken, sê sy, dat sy darem die uitsig ook baie geniet.

Wat is die titel van die boek waarvan jy ons wil vertel?
The Overstory deur Richard Powers, wat in 2019 die Pulitzerprys vir fiksie gewen het.

Hoekom is dié boek onvergeetlik?
Alhoewel ek al vir die afgelope 50 jaar minstens twee boeke ʼn week lees, is daar nie baie boeke wat die manier waarop ek lewe drasties sal verander nie. The Overstory is egter só ʼn boek. Dis ʼn roman oor bome, en het my geïnspireer om sedert ek die boek gelees het, my liefde vir die natuur meer proaktief uit te uitleef.

Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Dis Philip Yancey. Hy pas ingewikkelde beginsels op só ʼn manier op die daaglikse lewe toe dat sy lesers ʼn meer vervulde lewe kan leef.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek is altyd besig om minstens drie boeke te lees. Omdat Covid-19 my vanjaar daarvan weerhou het om tydens die wintervakansie te reis, geniet ek warmer weer deur Frances Mayes se A year in the World te lees; ek is ook besig om ʼn boekklubpraatjie voor te berei oor Confessions deur Jaume Cabre, ʼn Katalaanse skrywer; en ek lees Vonke uit die koeroeklip deur Gert Sarrisam, wat handel oor iemand wat ek as kind geken het.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Hierdie pandemie verplig my om veels te veel ure voor ʼn skerm deur te bring. Nou verkies ek weer papierboeke. Hulle ruik en voel beter, en soms het hulle selfs pragtige omslae!

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Ek het baie van die klassieke werke meer as een keer gelees omdat ek die meeste van hulle vir die eerste keer gelees het toe ek omtrent 20 was, en hulle toe nog nie ten volle sou kon verstaan nie. Boonop is ek geneig om só vinnig te lees dat ek soms belangrike inligting of dinge om oor na te dink nie raaksien nie.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Huppelkind, omdat hy my herinner aan ʼn baie gelukkige en ongekompliseerde tyd gedurende my kinderdae. Ook het hierdie boek ʼn liriese kwaliteit wat ʼn mens aanmoedig om in die son te huppel en te dans.

Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Myns insiens is die grootste wyshede te vinde in antieke godsdienstige tekste: Prediker, Rumi, Kahlil Gibran.

Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende en enige iemand anders aanbeveel?
Daar is geen perke aan die groei wat ʼn mens in jouself en die wêreld teweeg kan bring as jy boeke lees nie. As jy die wêreld wil verander, begin deur te lees oor mense wat dit reeds gedoen het. (Die mees onlangse biografie wat ek gelees het, was Empress Dowager Cixi (deur Jung Chang) oor die Chinese vorstin wat China vir Westerse invloede oopgestel het.) Lees wat jy geniet, dink oor wat jy lees, en pas dit wat jy gelees het, toe om ons wêreld te verbeter.

Tags: , , , , , , ,

Boekgeselsie met Eppie M

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunstelingboek.

Eppie McFarlane is ʼn TEFL-instrukteur by die Taalsentrum en ʼn Engelstweedetaal-onderwyser. (TEFL is die kwalifikasie wat mense in staat stel om onderrig te gee in Engels as vreemde taal. Lees gerus hier meer oor die Taalsentrum se TEFL-kursus.)

  1. Eppie, wat is die titel van jou gunstelingboek?​ Outlander
  2. Hoekom is dit jou gunstelingboek?​ Dis ʼn uitstekende, geloofwaardige sage wat pragtig geskryf en deeglik nagevors is.
  3. Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só? Op die oomblik Diana Gabaldon, weens haar uitmuntende skryfstyl en navorsing.
  4. Wat lees jy tans?​ Die boeke van die Outlander 7-reeks. Ek is nou so te sê klaar met die sesde boek en ek het die agtste boek op my Kindle. Ons het na die reeks gekyk en ek geniet dit terdeë om die boeke te lees.
  5. Watter boek het jy al meer as eenkeer gelees? Vertel vir ons hoekom? Ek het al baie boeke herlees. Lees is vir my ontvlugting – ek bevind my vinnig in ʼn fiktiewe wêreld wanneer ek lees, en ek hou van stories wat goeie nuus deel. Omdat geskiedenis my fassineer, ontsnap ek graag na ʼn fiktiewe historiese verhaal. As iets goed geskryf is, sal ek dit lees. Ek het al talle goeie moderne romans gelees en ek geniet klassieke werke, maar ek sal nie uit my eie vrye wil wetenskapsfiksie, gruwelverhale, Harry Potter of Lord of the Rings lees of na flieks of storiereekse oor hulle kyk nie.
  6. Wie is jou gunsteling- literêre karakter? Op die oomblik Claire Beauchamp, want die outeur het haar op ʼn baie interessante manier laat ontwikkel in die tydvak waarin die verhaal afspeel.
  7. Watter boek of boeke sal jy by jou studente aanbeveel?​ Dis ʼn moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van die vlak waarop die studente is, hulle belangstellings, en die soort boeke wat hulle graag lees. Romans kan werk vir studente op ʼn hoër vlak (gevorderde intermediêr en hoër) maar dunner boeke, ook geskikte niefiksieboeke, is geskik vir laervlakstudente. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om kos te maak en ek deel dikwels resepte en kookboeke met my studente. Ek vra hulle ook om hulle gunstelingresepte neer te skryf – ek het al ʼn hele versameling resepte! Reisgidse kan vir die laer vlakke gebruik word, asook ander interessante niefiksieboeke, soos dié wat handel oor plante, diere en plekke waar die studente woon of wat hulle van plan is om te besoek. Poësie werk gewoonlik nie vir EVT-studente (studente wat besig is om Engels as ʼn vreemde taal te leer) nie, en strokiesprentverhale uiteraard ook nie, omdat alles nie uitgespel word nie. Dit kom daarop neer dat ʼn mens nie kan veralgemeen nie. Ek sou eerder leesstof aanbeveel as ek weet vir wie spesifiek, omdat studente sulke uiteenlopende behoeftes het.
Tags: , , , , , , , , , ,