Tag: Jostein Gaarder

Boekgeselsie met Vernita B

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Vernita Beukes, ʼn dosent en koördineerder van taalverwerwingskursusse by die Taalsentrum. Sy sê: “Ek het regtig die beste werk in die wêreld! Ek kry as deel van my werk die geleentheid om vir internasionale studente van regoor die wêreld Afrikaans te leer. Hulle sê mos nie verniet dat as jy doen wat jou passie is, jy nooit ʼn dag in jou lewe sal hoef te werk nie! Ek is ook betrokke by die voorleesprojek van die Vriende van Afrikaans. Hier kry ek die geleentheid om vir kinders in kleuterskole voor te lees! Hoe gelukkig is ek?”

Ek is mal oor my man, hond en familie en vriende, en lees en reis is bo-aan my lysie van dinge wat ek graag doen. “Daar is net een ding wat ek haat en dit is tamaties!” bieg sy.

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
Lees was nog altyd deel van my lewe. My ma het elke dag vir ons voorgelees. Van sub A (graad een) af het ek ook ongelooflike onderwysers gehad wat my liefde vir boeke en lees net nog verder aangewakker het. Ek was ʼn onderwysstudent en dr Anker het vir ons Die Klein Prinsie deur Antoine de Saint-Exupéry voorgelees. Afgesien van sy mooi stem het die waarhede in daardie boek my ook diep getref.

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?
Die gedeelte in die boek op bladsy 72 (in my weergawe, in elk geval) het my lewensfilosofie geraak. In daardie aanhaling verduidelik die jakkals vir die Klein Prinsie dat dit net met die hart is wat jy werklik kan sien. Wat regtig belangrik is, is onsigbaar vir die blote oog.

[us_hwrapper]

Ek probeer regtig met my hart na mense luister en kyk.”

[/us_hwrapper]

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Ek het baie gunstelingouteurs, want ek voel dat op sekere stadiums in jou lewe sekere outeurs meer met jou praat. Jojo Moyes het my al die ugly cry laat doen en John Grisham, Clive Cussler en Sofia Segovia het weer my laat verdwyn in hulle wêrelde.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees op die oomblik twee boeke: The Help deur Kathryn Stockett en The Murmur of Bees deur Sofia Segovia.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Niks, maar niks kom naby die reuk van ʼn nuwe boek nie.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Die Klein Prinsie, onder andere, omdat dit my gunstelingboek is en die waarhede daarin my elke keer opnuut tref.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Claire Randall van die Outlander-reeks. Sjoe! Om in Skotland te woon kan nogals vir my werk!

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?

  • The Giver of Stars deur Jojo Moyes
  • Evening Class deur Maeve Binchy
  • Sophie’s World deur Jostein Gaarder
Tags: , , , , ,

Boekgeselsie met Elzette W

Leer ons ken deur die boeke wat ons lees! Vandeesmaand gesels ons met Elzette Wickens, ʼn taalpraktisyn by die Taalsentrum se Taaldiens. “Ek redigeer en vertaal tekste vir Universiteits- en eksterne kliënte, in Afrikaans en Engels. Ek leer byna elke dag iets omdat ek met inhoud uit soveel uiteenlopende velde werk.”

Elzette hanteer ook taalnavrae vanaf kliënte sowel as niekliënte. “Dít kan nogal ʼn skattejag raak, want mense kontak ons meestal oor probleemgevalle waarvoor hulle nie elders sommerso oplossings kon kry nie. Ek is op my gelukkigste as ek kan voel ek het ʼn goed versorgde teks gelewer of ek het die taai bondel van ʼn taaltameletjie losgewoel gekry.”

Wat is die titel van jou gunstelingboek, of ʼn boek wees wat ʼn diep indruk op jou gemaak het, of ʼn boek wat jy om die een of ander rede as onvergeetlik ervaar het?
The Christmas Mystery deur Jostein Gaarder (die outeur van ­Sophie’s World).

Hoekom het hierdie boek jou só beïndruk?Ek het nog nooit voorheen so ʼn boek gelees nie. Dis ʼn storie waarin die spanning byna ongemerk opbou, met parallelle verhaallyne wat in teenoorgestelde rigtings beweeg. Enersyds is daar ʼn fantasieverhaal wat nietemin die verloop van die werklike geskiedenis volg; andersyds ʼn verhaal in die “werklike wêreld” met “gewone mense”. Maar dalk is eersgenoemde die werklikheid, wat ons een venstertjie op ʼn slag begin raaksien? Dis ʼn meesleurende karnaval sowel as stof tot nadenke. Een van die min boeke wat ek meer as een keer herlees het.

Wie is jou gunstelingouteur(s)? Hoe só?
Somerset Maugham, wat emosie so kan vasvang dat dit jou eie gemoed binnesypel. PG Wodehouse, vir die fyn spot met sosiale konvensies sonder om geniepsig te wees. Ken Follett, vir sy lieflike reeks wat in die Middeleeuse Engeland en Frankryk afspeel, vol kastele en kloosters en swaarde. Bill Bryson, vir die manier waarop hy inligting en aweregse humor vervleg, maar bowenal vir sy Mother Tongue, wat een van my grootste gunstelinge is. Hergé se Kuifie-reeks en Alba Bouwer se Rivierplaas-reeks. Die wenners wat saamgaan na die spreekwoordelike verlate eiland is Dr Seuss en Astrid Lindgren; as ek met hulle uitgekuier geraak en hulle boeke ontgroei het, kan julle maar die ligte afskakel.

Sr Seuss Ca in the HatDr Seuss se Cat in the Hat-karakter (kopiereg: Random House)

Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees nooit net een boek op ʼn slag nie. Op die oomblik is daar boekmerke in The Missing Ink: How handwriting made us who we are, The Queen’s Gambit, My Life with BoB: Flawed heroine keeps book of books, plot ensues, en Common Places: Mythologies of everyday life in Russia. Plus nog ʼn paar, hier en daar.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Ek is ʼn verbaasde maar heelhartige Kindle-aanhanger. Ek lees net nuusartikels op ander toestelle, en gedrukte boeke net as die fotomateriaal daarin belangrik is. Hoekom sou jy ʼn swaar voorwerp wou vashou, dalk jou plek wou verloor, nie dadelik ʼn vreemde of interessante woord wou naslaan nie, nie treffende gedeeltes moeiteloos wou onderstreep nie, nie ʼn ingeboude leeslampie wou hê nie … en nie ál die boeke waarin jy tans lees, tegelykertyd byderhand wou hê nie?

 

[us_hwrapper]

Reis lig en red ’n boom!”

[/us_hwrapper]

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Jane Austin se werk, veral Pride and Prejudice – seker al agt keer. Ek jil elke keer van plesier. Daardie openingsreël …

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Kaptein Sardyn

Het jy dalk ʼn lewensles uit ʼn boek of by ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Niemand hou by CS Lewis kers vas nie. Maar ek glo nie dis die regte forum hiervoor nie.

Watter boek of boeke kan jy by jou vriende, studente en enige iemand anders aanbeveel?
Die lys is nimmereindigend, want ek lees meestal oor onderwerpe wat vir my interessant klink, eerder as die werk van sekere skrywers. ʼn Paar:

  • Worldly Goods: A new history of the Renaissance (Lisa Jardine)
  • C’est La Folie (Michael Wright; ʼn Engelse boek, net die titel is Frans)
  • Travels With My Briefcase (Peter Biddlecombe)
  • Sixty Million Frenchmen Cant Be Wrong: Why we love France but not the French (Jean Nadeau & Julie Barlow)
  • Rationality: What it is, why it seems scarce, why it matters (Steven Pinker)
  • Shantaram (Gregory David Roberts)
  • Sy Kom met die Sekelmaan (Hettie Smit)
  • Hessie en Holderstebolder (Korky Paul & Valerie Thomas)
  • Zanzibarstraat (Niki Daly)
Tags: , , , , , , , ,