Tag: Internasionale Moedertaaldag

Ons moedertale: Wat kry ons daaruit?

By die US se Taalsentrum deel ons UNESCO se oortuiging dat kulturele en taalkundige diversiteit belangrike boustene is vir volhoubare samelewings, en ons neem met oorgawe deel aan die wêreldwye viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie elke jaar.

Moedertaaldag gaan nie net net oor my en jou individuele moedertale nie, maar ook oor dié van die mense om ons. As ons verstaan dat die persoon langs ons se moedertaal net so kosbaar vir hulle is soos ons moedertaal vir ons is, en as ons dan daardie sentiment respekteer, het ons reeds goeie vordering gemaak.

Hoekom is moedertale belangrik, afgesien daarvan dat ons emosionele waarde heg aan die taal of tale waarmee ons grootgeword het en waarin ons onself heel eerste begin uitdruk het? Hoe kan hulle van praktiese nut vir ons wees, selfs wanneer ons dikwels in ʼn derde of vierde taal funksioneer om te verseker dat ons op ʼn manier kommunikeer wat ander mense help om te verstaan wat ons sê?

 

Moedertaalmomentum

Moedertale gee ons momentum – hulle is soos kenniswegspringblokke. Almal van ons gebruik ons moedertaal as ʼn ondersteunende raamwerk in die verkryging van kennis. Wanneer ʼn mens nuwe kennis inwin, begin jy gewoonlik met bekende inligting en verken die onbekende van daar af. As jy dus op ʼn plek begin waar jy weet wat ʼn sekere konsep in jou moedertaal is, het jy ʼn plek waar jy vastrapplek kan kry, en jy kan daardie bekendheid gebruik as wegspringplek om meer komplekse konsepte te verstaan, selfs wanneer jy in ʼn ander taal as jou moedertaal met hulle kennis maak.

Dus kan en moet studente hul moedertale op universiteit gebruik, selfs al is hulle taal nie een van die instansie se amptelike tale van onderrig en leer nie. As ons maar aan die US dink – die Universiteit het hom verbind tot die gebruik van Afrikaans, Engels en Xhosa, die amptelike tale van die Wes-Kaap. Afrikaans en Engels is die primêre tale waarin daar geleer word, onderrig verskaf word, en assessering gedoen word. Xhosa kan ook vir onderrig en leer gebruik word in gevalle waar daar die nodige kapasiteit is en dosente dit van pas vind om dit te gebruik, en waar daar ʼn opvoedkundige behoefte daaraan is. Verder is die Universiteit daartoe verbind om Xhosa as ʼn akademiese taal te ontwikkel en om Afrikaans te behou as ʼn taal waarin onderrig, leer, assessering en navorsing gedoen word. Die US is ook een van die min Suid-Afrikaanse universiteite wat werk om Suid-Afrikaanse Gebaretaal te ontwikkel en te bevorder. Dit is alles deel van ʼn nasionale mandaat vir tersiêre instellings om minstens een Afrikataal onder hul vlerk te neem en dan die beskikbare hulpmiddels daarop te fokus, terwyl dit wat reeds ontwikkel is, in stand gehou word. Dit is ʼn belangrike manier vir ons om die Suid-Afrikaanse Grondwet uit te leef. Deur tale op tersiêre vlak te respekteer, verhoog ons hulle status.

Die US se studente en personeel is in der waarheid ʼn veel meer diverse klomp as bloot sprekers van Afrikaans, Engels en Xhosa, maar dit is darem ʼn begin om met die algemeenste moedertale in die Wes-Kaap te werk. Ander Suid-Afrikaanse universiteite het ook onderneem om minstens een van die Afrikatale in hulle streke te ontwikkel. Op dié manier sal Zoeloe-sprekers byvoorbeeld ook kan baat by hulpbronne in Xhosa omdat hierdie twee tale ná aan mekaar is, en dieselfde geld vir ander tale wat nou aan mekaar verwant is. As moedertaalsprekers moet ons egter self ons eie tale kies wanneer die geleentheid hom voordoen.

Verhoging van die status

As ons ons tale se status wil behou of verhoog en hulle reikwydte wil uitbrei, kan ons dit op twee oorkoepelende maniere doen. Een daarvan is deur in daardie taal te skryf – deur letterkunde te skep – en sodoende te bewys dat jou taal in staat is om abstrakte denke en kreatiewe en komplekse idees uit te druk, en dat dit buigsaam genoeg is om dit te doen. Die tweede manier is deur terminologie te skep wat nuwe tegniese domeine beskryf.

Waarskynlik moet elke enkele taal met die uitsondering van Engels (omdat terminologie skynbaar veel natuurliker in Engels geskep word as deel van die proses van nuwe uitvindings en ontwikkelings) gedurig sy status verhoog om in ons moderne wêreld by te hou. Elke ander taal, of dit nou Frans, Duits, Chinees, Afrikaans of Xhosa is, word uitgedaag om tred te hou, en selfs Engels bly nie altyd voor nie! Ook mag Engels dalk oor die terminologie beskik, maar die betekenis van die betrokke konsepte spreek soms nie vanself nie. Terminologie in Xhosa, Afrikaans of selfs Frans is dikwels meer beskrywend en dus duideliker verstaanbaar vir die sprekers van die betrokke taal. Dink maar aan “koppelaar” in Afrikaans vir “clutch” in Engels, of die Zoeloe-woord vir “wetsontwerp” (“bill in Engels), naamlik “umthethosivivinywa”, wat letterlik beteken “ʼn wet wat besig is om gemaak te word”. Daar is talle ander voorbeelde. Maar kies ons om daardie mooi woorde aan te gryp en te gebruik, of val ons outomaties terug op die Engelse woorde?

ʼn Groot voordeel daarvan om ʼn taal se status te verhoog en om verskeie tale te gebruik, is dat ons ons omgewings sodoende meer inklusief maak. Wanneer mense hulle tale in verskillende ruimtes sien en ervaar, herinner dit hulle daaraan dat hulle deel is van iets wat groter as hulleself is.

Verskillende kante van dieselfde munt

Wanneer ons vanjaar Moedertaaldag vier, moet ons dalk oor die volgende twee vrae nadink: Wat doen jou moedertaal vir jou, en wat doen jy vir jou moedertaal? Wanneer jy jou moedertaal gebruik om te leer, en in jou daaglikse lewe en in amptelike onderhandelinge, help jy nie net jouself nie, maar ook ondersteun en bewaar jy jou taalerfenis. Deur jou taal te gebruik, help verseker jy dat daardie taal lewendig bly en in die toekoms steeds sal voortbestaan.

En dan, wanneer ons nog ʼn tree vorentoe neem en mekaar se moedertale begin leer, ondersteun en versterk ons daardie tale selfs nog meer terwyl ons nuwe maniere vind om mekaar te begryp en te waardeer.

– deur Susan Lotz, dr Kim Wallmach, Sanet de Jager en Jackie van Wyk, vertaal deur Ingrid Swanepoel

 

 

 

Tags: , , , ,

Moedertaal, hartstaal

Moedertaaldag: ʼn Dag opgedra aan die taal waarin ons heel eerste gedagtes verwoord is – dit is ʼn wêreld waarin ons kan glo. Ons verskil soveel van mekaar, maar dít is een ding wat ons almal in gemeen het.

Ons moedertaal word beskou as die taal wat ons as baba en kleuter die meeste gehoor het, en dit is gewoonlik die taal van die moederfiguur wat vir ons verantwoordelik was toe ons baie klein was. Dit is ook die taal waarin ons ons eerste woorde gesê het, en die taal wat, terwyl ons dit verwerf het, die bloudruk gevestig het vir al die ander tale wat ons later in ons lewe sou leer. Sommige mense kan selfs twee tale as moedertaal hê, veral as hulle uit meertalige huishoudings kom.

Moedertaaldag skep ʼn ruimte vir ons om te besin oor daardie einste grondslag van ons taal-repertoire – iets wat ook ʼn invloed uitoefen op die manier waarop ons omgaan met die wêreld om ons. Ja, dit handel oor ʼn baie diep emosionele verbintenis met ons eie taalinstink, maar dit gaan ook oor daar waarheen taal ons kan neem. Wanneer ons met ander mense omgaan, bring ons ons eie taal-repertoire saam. Ons moedertaal raak vervleg met die tale wat ons op ander plekke, soos ons werkplek, gebruik. ʼn Mens kan kies om hierdie meerdimensionaliteit te ontken en dele van jouself te onderdruk, maar erkenning van die rykheid van verskillende ervarings, uitdrukkingswyses en standpunte lei tot baie sterker en meer behendige individue en spanne wat beter met mekaar en met diegene vir wie hulle werk, kan kommunikeer.

Ter viering van hierdie unieke vermoë en gevoel van moontlikhede in elkeen van ons, het ʼn paar Taalsentrum-personeellede iets van hulle verbintenis met hul moedertaal met ons gedeel:

Die skakel met identiteit

[us_cta title=”” color=”light” btn_label=””]“Ek hou daarvan om aan Xhosa te dink as my identiteit. Ek het my taal reeds in my kinderjare liefgehad, al het ek dit toe nog nie eintlik besef nie. Dis weerspieël in die opstelle wat ek op skool geskryf het en in die boeke wat ek ontleed het. Ek het selfs ʼn boek gehad waarin ek gedigte in Xhosa geskryf het. Ek onthou nog hoe my onderwyseres by ʼn kollega gespog het met ʼn boekontleding wat ek in graad 11 gedoen het. Ek reken dis dit alles wat my geïnspireer het om meer te wil weet en te leer van my taal, aangesien ek later op universiteit selfs Xhosa as een van my hoofvakke gekies het. Ek het dus aangehou om Xhosa te bestudeer danksy my liefde en passie vir dié taal, al was ek op daardie tydstip nie bewus daarvan dat daar heelparty ander werke afgesien van onderwys is wat iemand met ʼn taalkwalifikasie kan doen nie.”
– Asiphe Sogiba, Xhosa-tolk[/us_cta]

Die vreugde om dit te kan deel

[us_cta title=”” btn_label=””]“Ek is trots Afrikaans. Ek het grootgeword met ‘n Weskus-pa wat woorde soos snoek, bokkoms en galjoen aan my bekendgestel het. Ek gebruik nou nog sy gunstelinguitdrukking as iemand iets goeds gedoen het: ‘Siesa Skipper!’

Ek is vandag ‘n dosent wat die voorreg het om vir internasionale studente Afrikaans te leer. Die entoesiasme waarmee hulle my moedertaal leer verstom my elke keer. Alles is vir hulle LEKKER! Dit is waar wat Nelson Mandela gesê het: ‘Praat met iemand in sy moedertaal en jy praat met sy hart.’ Ek beskou dit as my lewenstaak om mense se harte aan te raak deur hulle aan my moedertaal bekend te stel.”
– dr Vernita Beukes, Afrikaansdosent
[/us_cta]

ʼn Weerspieëling van die sprekers

[us_cta title=”” color=”light” btn_label=””]“My moedertaal is Engels, en my vadertaal is ook Engels! Dit maak my ‘anders’ in my vaderland, Suid-Afrika, waar Engels die eerste taal is van slegs ongeveer vyf persent van die bevolking.

Ek is reeds van kleins af opgewonde oor en lief vir taal. Ek het my taalreis aanvanklik begin deur ekstra aandag te gee aan die ingewikkelde Engelse spelling en uitspraak, en het dit baie geniet om die kompleksiteit daarvan te probeer uitpluis. Toe ek begin het om Frans, Afrikaans en ʼn bietjie Zoeloe te leer, het Engels egter baie gou die riglyn geword wat ek gebruik het om uit te werk hoe tale van mekaar verskil.

Ek het stadigaan begin besef welke rykdom kennis van baie tale aan ʼn mens kan besorg; dat die Engelse manier om nie dadelik tot die punt te kom nie en om uiters hoflik te wees, sy oorsprong gehad het in die Frans wat tot ʼn eeu of wat gelede aan die Britse koninklike hof gepraat is en waarvan die spore te bespeur is in woorde soos ‘courtesy’ [hoflikheid], ‘liberty’ [vryheid of vrymoedigheid], ‘fraternity’ [broederlikheid, gilde en dies meer], ‘equality’ [gelykheid] en ‘university’ [universiteit], en talle ander woorde wat verband hou met beskawing, onderwys en die reg. Ek het geleer dat die op-die-man-af Keltiese aardsheid van woorde soos ‘quaff’ [met groot slukke drink], ‘drink’ en ‘sit’ deel uitmaak van Engels se Germaanse oorsprong en weerspieël word in die direktheid van Germaanse tale soos Afrikaans en Duits. Ook, tot my verbasing, het woorde van Zoeloe-oorsprong, soos ‘indaba’ [konferensie] en ‘donga’ [ʼn droë sloot wat deur gronderosie veroorsaak is], ‘babbelas’ [van die Zulu ibhabhalazi] en ‘bonsella’ [onverwagte geskenk] deel uitgemaak van die onderbou van my variëteit van Engels wat op die suidelike punt van die Afrika-vasteland gepraat word. My Engels wat ek in my geboorteplek, Johannesburg, geleer het, weerspieël ook die talle immigrantekulture wat destyds in hierdie myndorp kom nesskop het, waar om bó uit te kom, nog altyd baie belangrik is. Dus verryk Jiddisje woorde wat in Suid-Afrikaanse Engels gebruik word, soos ‘chutzpah’ [besonder baie selfvertroue], ‘schmuck’ [dom of veragtelike persoon], ‘kugel’ [ʼn welgestelde jong vrou wat nogal materialisties is], ‘bagel’ [ʼn soort ringvormige broodjie], ‘shabbat’ [Joodse sabbat], ‘platz’ [om oorstelp te wees deur emosie] en ‘meshugge’ [stapelgek] my woordeskat sommer baie, en hulle is soos skatte wat wag om ontdek te word.”
– dr Kim Wallmach, Direkteur van die Taalsentrum [/us_cta]

ʼn Gevoel van tuiskoms

[us_cta title=”” btn_label=””]“Afrikaans het ek by my ma geleer. Sy het ʼn stem soos ʼn klok gehad en sy het Afrikaans gepraat met die aardsheid en eerlikheid van die Sutherland-Karoo waar sy grootgeword het – NP van Wyk Louw-Afrikaans. Op ʼn onlangse gesinsvakansie in Swakopmund is ek getref deur ʼn andersheid en terselfdertyd ʼn gevoel van tuiskoms. Oral hoor jy Afrikaans: op straat, in ʼn gesprek tussen twee Herero-vroue in tradisionele drag; in die koffiewinkel by die Ovambo-barista: ‘Is mevrou al gehelp … wat gaan dit vandag wees?’ ʼn Vrou wat langs my staan en haar koffie bestel, begin spontaan gesels. Later sit sy langs my en wys foto’s van die Spitzkoppe. Sy vertel dat sy in Namibië grootgeword het, maar die grootste deel van haar volwasse lewe in die Republiek gewoon het. Sy het nou teruggekom en sou binnekort in Windhoek begin skoolgee. In haar woorde vind my eie ervaring weerklank. ‘Dit voel asof ek huis toe gekom het … ek kan hier asemhaal.’ Hierdie gewaarwording het vir my baie te doen gehad daarmee dat ek my taal oral kon hoor; spontaan en met vrymoedigheid gepraat, móói Afrikaans.

Op ʼn fietstoer deur die Tsauchab-rivier merk ek teenoor die Damara-toergids en my familie op hoe mooi die tamariskbome in die rivierloop is, waarop een van my kinders antwoord: ‘Hier is nie water nie, hoekom sê Mamma die rivier loop?’ Die toergids stop almal en klim van sy fiets af. Hy praat met die kinders: ‘Julle ma praat mooi Afrikaans. Dit is iets wat julle kinders nie moet verloor nie.’ Op my vraag oor sy taalagtergrond verduidelik hy dat daar in sy familie Damara en Engels en selfs ʼn bietjie Duits gepraat word. ‘Maar ons praat Afrikaans as ons lus is om Afrikaans te praat, as ons móói wil praat.’

Hierdie Damara-man was vir my een van die hoogtepunte van ons vakansie. Tussen ons was daar ʼn ontspannenheid, ʼn gevoel van vriendskap, van gemeensaamheid; van begrip en selfs van geluk. Terwyl ek dopgehou het hoe hy sy fiets lustig voor my in die stofpaadjie trap, het ek geweet: My mooi taal floreer, net soos die delikate, taai tamariske in die dorre rivierbedding van die Tsauchab.”
– dr Carmen Brewis, tolk en navorser
[/us_cta]

Die binne-taal

 

Ons het ook ʼn Afrikaanse gedig om te deel. Dit handel oor taal as ʼn mens se erfenis en hoe ʼn mens se taalmentors soos ouers en onderwysers ook ʼn diepgaande invloed uitoefen op dit wat jy as jou eie beskou.

My taal, my erfenis

 Afrikaaps is nie my taal nie.
Sommige woorde kan ek nie verstaan nie.
My taal
het ek geleer van kindsbeen af
saam met die klingel en tongklap
van die aksent
wat my streek rojaal kweek.

Daar het ek begin verstaan
en geleer my ma en pa se taal.
Met my Afrikaanse onnie
wat berispend die spelreëls aanhaal,
nie tjent nie, maar kind,
nie tjy nie, maar jy.
Idiome sou ek goed onthou:
Iemand wat hard werk
is ʼn werkesel,
anders was dit die rottang vir jou.

My taal kom uit die boeke wat ek lees.
Tussen die blaaie
kon ek kies om iemand anders te wees.
Daar in die stilte van my drome
sonder die kletterende lawaai
in ʼn omgewing sonder energie belaai,
kry my taal sy lêplek
daar sonder die tjy en tjou,
daar lewe ek.

My kom-vandaan is eenvoudig,
tog is alles volop rondom en binne my.
Daar teen die Weskus het ek my asem gekry.
Daar is taal in my erfenis gebrei.
Nou kruip en klou
die wortels van my taal
diep en welig
sonder ophef of kabaal
lewe dit uit my pen
koester dit die erfenis wat ek ken.

Anne-Mari Lackay, skryflabkonsultasiekoördineerder

By die Taalsentrum glo ons dat dit taal is wat ons saambring, en ons sal aanhou om verbintenisse tussen mense te bewerkstellig deur kommunikasie en begrip te verbeter.

Blog deur Susan Lotz en dr Dr Kim Wallmach; vertaal deur Ingrid Swanepoel

Tags: , , ,

Kom ons vier daardie eerste een

Dis waarskynlik die taal waarin jy iets minder mooi sal sê as jy groot skrik. Die kans is groot dat jy ook in hierdie taal droom. As jy gelukkig is, sal jy kleuterversies daarin ken, en dalk selfs ʼn paar argaïese uitdrukkings en opgemaakte woorde…

ʼn Mens se moedertaal is ʼn soort instinktiewe taal – diep ingebedde kennis wat vir jou as volwassene voel asof dit eenvoudig nog altyd daar was, en iets wat op die vreemdste tye na vore kan kom. Dit is gepas om ʼn internasionale dag te hê om erkenning te gee aan hierdie baie persoonlike en kosbare hulpbron wat ons help om sin van die wêreld te maak. ʼn Mens se moedertaal of eerste taal dien ook as wegspringplek om meer tale te leer – soms met soveel sukses dat dit vir party mense later moeilik is om te onderskei tussen hul eerste en tweede taal.

Internasionale Moedertaaldag word elke jaar op 21 Februarie gevier. Vir ons by die Taalsentrum verskaf dit groot vreugde om erkenning aan hierdie dag te gee, en dit bevestig ook ons bestaansrede op ʼn baie diep vlak. Taal begin by die eerste taal wat jy aanleer, en die wonder van daardie eerste taal leef voort en verder deur al die ander tale waarvoor jy jouself oopstel. Wanneer jy leer skryf en praat in ʼn ander taal as jou moedertaal, stimuleer en verbreed dit interkulturele ervarings en dialoog tussen mense. Ons glo heelhartig dat kennis van en liefde vir verskillende tale kan bydra tot sterker verhoudings tussen mense, kulture en organisasies. Wanneer ons taalvaardigheid by die Taalsentrum aanmoedig en aankweek, moedig ons ons studente en kliënte aan om alles te gee wanneer hulle nuwe tale saam met ons aanleer – of dit nou Xhosa, Afrikaans of Engels is.

Internasionale Moedertaaldag nooi elkeen van ons uit om vir ʼn oomblik stil te staan en na te dink; om te onthou hoe dit vir elkeen van ons op ʼn talige manier begin het. Wat is jou verhouding met die taal waarmee jy jou wêreld die heel eerste keer kon benoem? Hierdie dag gee ons ʼn kans om daardie persoonlike en individuele beginpunt te waardeer en te erken. Die viering van hierdie dag help om ons onderskeie erfenisse te bewaar en moedig ons aan om deel te word van ʼn meertalige, kultuurryke samelewing wat ʼn tuiste is vir ʼn verskeidenheid tale. Maar dit begin alles met daardie baie belangrike eerste een: die moeder van alle tale.

deur Susan Lotz, Kim Wallmach en Zandile Kondowe

International Mother Language Day poster
Tags: , , ,