Tag: gunstelingboek

Boekgeselsie met Alta vR

 

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.

Alta is baie lief vir lees en vir reis, en as dié twee elemente gekombineer kan word, nog beter.

Wat is die titel van die gunstelingboek(e) waarvan jy wil vertel? Iets wat ek onlangs geniet het, is Lucinda Riley se Seven Sisters-reeks, wat tans uit sewe boeke bestaan. Dit is gebaseer op die sterswerm (star cluster) Pleiades wat in verskeie kulture beskryf word. Die reeks begin met die heengaan van sewe aangenome susters se pa, en die briewe wat hy aan elke dogter geskryf het met leidrade oor waar elkeen vandaan kom as hulle sou kies om hulle bloedfamilie op te spoor. Teen die einde van die sewende boek raak dit duidelik dat daar ’n agtste boek oor die pa sal moet wees. Met die outeur se afsterwe is lesers nog steeds nie seker of daardie laaste boek geskryf is en gepubliseer gaan word nie. Die onsekerte laat my so effens dink aan Game of Thrones...

Hoekom is dit ʼn gunsteling?
Vier hoofredes: Eerstens, die leser reis saam met elke suster na verskeie dele van die wêreld (soos Brasilië, Skotland, Kenia en Ierland) waar twee storielyne jou boei, een in die hede en een in die verlede, waarna hierdie twee storielyne saamgesnoer word. Tweedens, dis sterk vrouekarakters wie se lewens skielik omver gewerp word, en die leser ervaar elke suster se innerlike reis in haar soeke na haar identiteit en bestaansrede. Derdens, die oudste suster is soos ek ʼn vertaler. En vierdens, ek het voorgraads musiek studeer, en die tweede suster het familiebande met die Noorweegse komponis Edvard Grieg. So ná daardie eerste boeke kon ek nie die res van die reeks weerstaan nie.

Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Ek is lief vir fantasie, veral Terry Pratchett en Neil Gaiman. En Nataniël se rubrieke laat my telkens skater van die lag.

Wat lees jy op die oomblik?
The Artist’s Way deur Julia Cameron, waarin ek reeds ʼn hele paar idees gekry het oor hoe om my kreatiwiteit weer te ontdek en te ontwikkel.

Verkies jy dit om ‘regte’ gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Daar is geen opsie nie – ek wil definitief die gedrukte boek se papier in my hande voel.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
Elders deur Erns Grundling, waarin hy sy pelgrimstog op die Camino (die Franse roete) beskryf. Dit het my aangespoor en ek het in Oktober 2019 die Portugese Kusroete saam met ʼn groep van die tydskrif Weg gaan stap. Ek is uiters dankbaar dat ek daardie reis nié uitgestel het tot later nié. Buen Camino!

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Die kat Maurice in Terry Pratchett se The Amazing Maurice and his Educated Rodents. Maurice is ʼn straatkat en swendelaar wat – met die hulp van ʼn paar slim rotte – geld maak uit mense se goedgelowigheid. Hierdie boek is pure pret!

Het jy dalk ʼn lewensles by ʼn boek of ʼn karakter uit ʼn boek geleer wat jy met ons wil deel?
Die onlangse heengaan van ʼn liewe kollega het my herinner aan ʼn boek uit my kinderdae: Michael Ende se sprokiesroman Momo wat uit Duits in Afrikaans vertaal is. Dit is ʼn tydlose verhaal oor die “grys menere” wat mense se tyd steel. Die dogtertjie Momo is die enigste een wat raaksien wat besig is om te gebeur. Sy is bang, maar ook dapper genoeg om die gesteelde tyd te gaan soek en aan die mense terug te gee. Ons kan ongelukkig nie verlore tyd inhaal nie, daarom probeer ek hard om hiérdie oomblik ten volle te beleef en om herinneringe saam met my geliefdes te skep.

Watter boeke kan jy aanbeveel, as jy dit nog nie in een van jou ander antwoorde genoem het nie?
Tracy Chevalier: Sy kombineer historiese feite met verbeelding om in Girl with a Pearl Earring ʼn agtergrondstorie te weef oor die beroemde skildery deur die Nederlandse skilder Jan Vermeer. Lees gerus ook haar ander boeke. Enigiets deur Marita van der Vyver – ook haar kosboeke. En dan veral: énigiets wat jou hardop laat skater van die lag!

 

 

Tags: , , , , , , , , , , , , , , , , , , , ,

Boekgeselsie met Marisca C

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunsteling- of onvergeetlike boek.

Ons gesels hierdie maand met Marisca Coetzee, akademiesegeletterdhede-dosent en koördineerder van die Leeslab. Marisca is mal oor lees en is ʼn aktiewe voorstander daarvan om vir kinders van kleins af al voor te lees en sáám met hulle te lees.

Wat is die titel van jou gunstelingboek?
The Miracle Morning deur Hal Elrod het my diep beïndruk.

Hoekom is die boek onvergeetlik?
Vir my was dit lewensveranderend om The Miracle Morning te lees omdat dit gewoonteveranderend was. Ek was nog altyd baie skepties oor selfhelp- en selfverbeteringsboeke en ek het daardie rakke in boekwinkels vermy totdat ek toevallig op The Miracle Morning afgekom het. Hierdie boek het my geïnspireer om verantwoordbaar te wees en my lewe te verander. Deur Hal Elrond se “Life S.A.V.E.R.S” (stilte, bevestiging, visualisering, oefening, lees en skryf) toe te pas, het ek nou beheer oor die aspekte van my lewe wat wel beheerbaar is, en ek aanvaar dié wat ek nie kan verander nie. Ek is gelukkiger, gesonder, minder gespanne, en ek het genoeg energie om elke dag aan te pak. Dié boek was ʼn uitkoms in hierdie uitdagende jaar wat ons so onverhoeds betrap het.

Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só?
Om ʼn gunstelingouteur te kies, is om soos vir ʼn ma te vra vir watter een van haar kinders sy die liefste is. Dis eenvoudig onmoontlik. Gunstelingouteurs verander soos die seisoene verander. Op die oomblik is herfs my gunstelingseisoen, en saam met herfs kom Camilla Läckberg en Deon Meyer.

Wat lees jy op die oomblik?
Ek lees tans Prooi deur Deon Meyer en The Choice deur Edith Eger.

Verkies jy dit om “regte” gedrukte boeke te lees, of lees jy eerder boeke op ʼn Kindle of ʼn ander elektroniese platform? Wat is die rede vir jou voorkeur?
Hoe kan jy dit nog vra? Ek is heeldag besig om vir my werk dokumente op elektroniese toestelle te lees; dus wil ek ʼn werklike boek in my hande hou wanneer ek vir my eie genot lees. Ek wil die blaaie tussen my vingers kan voel en die papier kan ruik.

Watter boek het jy al meer as een keer gelees? Vertel ons hoekom?
The Unbearable Lightness of Being is ʼn boek wat gerus maar weer en weer gelees kan word. Ek het dit tydens ʼn oorsese reis in my vroeë 20’s vir die eerste keer gelees. Wanneer ʼn mens ʼn boek in latere stadiums van jou lewe herlees, verskaf dit telkens ʼn heeltemal ander soort vreugde. Jy word bewus van meer dimensies en jy beskou die karakters met ander, meer volwasse, oë. Jou houding teenoor hulle verskil van die gesindheid waarmee jy hulle die eerste keer ontmoet het. Alle boeke wat groter as lewensgroot is, behoort minstens twee maal gelees word.

Wie is jou gunsteling- literêre karakter?
Op die oomblik is dit Bennie Griessel. Elke keer wanneer ek hom in ʼn Deon Meyer-boek teëkom, beset ek opnuut hoe broos die lewe is. Hy laat my besef hoe kosbaar familie is en dat ʼn mens niks as vanselfsprekend mag aanvaar nie. Hy het my geleer om mense nie te oordeel as ek nog nie ʼn pad saam met hulle gestap het nie, en dat ongeslypte diamante bitter kosbaar is.

Watter boek of boeke kan jy by jou studente, vriende en enige iemand anders aanbeveel?
Sonder enige twyfel The Miracle Morning, The Unbearable Lightness of Being en Into the Wild.

Tags: , , , , , , , , ,

Boekgeselsie met Eppie M

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunstelingboek.

Eppie McFarlane is ʼn TEFL-instrukteur by die Taalsentrum en ʼn Engelstweedetaal-onderwyser. (TEFL is die kwalifikasie wat mense in staat stel om onderrig te gee in Engels as vreemde taal. Lees gerus hier meer oor die Taalsentrum se TEFL-kursus.)

  1. Eppie, wat is die titel van jou gunstelingboek?​ Outlander
  2. Hoekom is dit jou gunstelingboek?​ Dis ʼn uitstekende, geloofwaardige sage wat pragtig geskryf en deeglik nagevors is.
  3. Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só? Op die oomblik Diana Gabaldon, weens haar uitmuntende skryfstyl en navorsing.
  4. Wat lees jy tans?​ Die boeke van die Outlander 7-reeks. Ek is nou so te sê klaar met die sesde boek en ek het die agtste boek op my Kindle. Ons het na die reeks gekyk en ek geniet dit terdeë om die boeke te lees.
  5. Watter boek het jy al meer as eenkeer gelees? Vertel vir ons hoekom? Ek het al baie boeke herlees. Lees is vir my ontvlugting – ek bevind my vinnig in ʼn fiktiewe wêreld wanneer ek lees, en ek hou van stories wat goeie nuus deel. Omdat geskiedenis my fassineer, ontsnap ek graag na ʼn fiktiewe historiese verhaal. As iets goed geskryf is, sal ek dit lees. Ek het al talle goeie moderne romans gelees en ek geniet klassieke werke, maar ek sal nie uit my eie vrye wil wetenskapsfiksie, gruwelverhale, Harry Potter of Lord of the Rings lees of na flieks of storiereekse oor hulle kyk nie.
  6. Wie is jou gunsteling- literêre karakter? Op die oomblik Claire Beauchamp, want die outeur het haar op ʼn baie interessante manier laat ontwikkel in die tydvak waarin die verhaal afspeel.
  7. Watter boek of boeke sal jy by jou studente aanbeveel?​ Dis ʼn moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van die vlak waarop die studente is, hulle belangstellings, en die soort boeke wat hulle graag lees. Romans kan werk vir studente op ʼn hoër vlak (gevorderde intermediêr en hoër) maar dunner boeke, ook geskikte niefiksieboeke, is geskik vir laervlakstudente. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om kos te maak en ek deel dikwels resepte en kookboeke met my studente. Ek vra hulle ook om hulle gunstelingresepte neer te skryf – ek het al ʼn hele versameling resepte! Reisgidse kan vir die laer vlakke gebruik word, asook ander interessante niefiksieboeke, soos dié wat handel oor plante, diere en plekke waar die studente woon of wat hulle van plan is om te besoek. Poësie werk gewoonlik nie vir EVT-studente (studente wat besig is om Engels as ʼn vreemde taal te leer) nie, en strokiesprentverhale uiteraard ook nie, omdat alles nie uitgespel word nie. Dit kom daarop neer dat ʼn mens nie kan veralgemeen nie. Ek sou eerder leesstof aanbeveel as ek weet vir wie spesifiek, omdat studente sulke uiteenlopende behoeftes het.
Tags: , , , , , , , , , ,