Tag: Engels as ‘n tweede taal

Meryl se TEFL-avontuur

Meryl Davidson het haar TEFL-kursus by die Engels-portefeulje aan die US se Taalsentrum voltooi en toe vir twee jaar in Suid-Korea gaan Engels gee. Haar TEFL-kwalifikasie stel haar in staat om Engels plaaslik sowel as internasionaal as ʼn vreemde taal te onderrig. Ons het aan Meryl ʼn paar vrae gevra oor die verrykende ervaring om oorsee te reis en te werk.

Wat het jou laat besluit om TEFL te kies?
Ek het dit besluit toe ek op ʼn plek in my lewe was waar ek nie ʼn permanente werk in Suid-Afrika kon kry nie, besig was om ouer te word, en vir myself moes kon sorg. Omdat ek boonop bitter graag wou reis, het ek sommer geweet dis die perfekte opsie vir my.

Watter deure het jou TEFL-kwalifikasie vir jou geopen?
Ek het twee jaar lank in Suid-Korea Engels gegee, en in daardie tydperk het ek kruis en dwars deur Suidoos-Asië gereis – iets waarop min mense hulle kan roem.

Ek het ʼn nuwe perspektief op die wêreld gekry en dit was inderdaad ʼn lewensveranderende ervaring. Sonder my TEFL-kwalifikasie sou ek dit beslis nie kon doen nie.”

Reis lê my baie na aan die hart en ek omring myself graag met verskillende kulture en tradisies. Ek het standhoudende vriendskappe gesluit en bande gesmee, en ek is steeds in aanraking met die meeste mense wat ek gedurende my tyd oorsee ontmoet het. Ek het dit ook geweldig geniet om my in die Asiese kultuur te verdiep en om dinge op dieselfde manier as die Asiërs te doen. Toe ek eers terug was in Suid-Afrika, was dit byvoorbeeld vir my baie moeilik om nié my skoene uit te trek voordat ek in my eie huis of ander mense se huise ingaan nie!

Op watter maniere het die TEFL-kursus jou vir die werk self voorberei?
Die TEFL-kursus wat ek by die US se Taalsentrum bygewoon het, was ʼn baie intensiewe program wat vier weke geduur het. In die loop van daardie vier weke is ons voorberei op elke enkele scenario wat moontlik kan afspeel in ʼn klaskamer waar Engels as ʼn vreemde taal onderrig word. Ofskoon niks ʼn mens werklik op die lewe in ʼn ander land kan voorberei totdat jy dit self ervaar nie, het die TEFL-kursus my beslis op baie maniere voorberei op wat my in die klaskamer te wagte kon wees.

Kan jy drie redes met ons deel waarom jy dink iemand dit gerus kan oorweeg om die TEFL-kursus by te woon en in die buiteland te gaan werk?

  1. Daar is nie nog so ʼn bevrydende gevoel as die gevoel wat ʼn mens ervaar wanneer jy op iets méér of iets anders besluit nie, as dit is wat jy werklik wil doen.
  2. Dit verander jou op ʼn manier wat jy jou glad nie sou kon indink nie. Jou manier van dink, jou perspektief en jou wêreldbeskouing verander. Alles wat jy gedink het jy weet, verdwyn.
  3. Jou onafhanklikheid is jou grootste bate. Daar is geen beter manier om onafhanklik te word as om die onbekende op jou eie aan te durf nie. Hou op om iemand te wees wat altyd net hoor van die wye wêreld daarbuite. Gaan kyk self!

Wil jy dalk ʼn TEFL-kursus bywoon?

Ons volgende voltydse kursus begin op 26 Junie en ons volgende deeltydse TEFL-kursus begin op 24 Julie, en daar is nog plek vir jou! Jy sal egter teen 16 Junie moet aansoek doen vir die voltydse kursus, en teen 14 Julie vir die deeltydse kursus.

 

[us_cta title=”” btn_label=”Klik hier vir meer inligting en om aansoek te doen” btn_link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fproduct%2Fteaching-english-as-a-foreign-language-tefl%2F|target:_blank|” btn_style=”2″]Ons gaan later vanjaar ook weer kursusse aanbied. [/us_cta]
Tags: , , ,

Boekgeselsie met Eppie M

Leer ken ons deur die boeke wat ons ons lees! Elke eerste Vrydag van die maand deel ons ʼn onderhoud met ʼn Taalsentrumpersoneellid oor ʼn gunstelingboek.

Eppie McFarlane is ʼn TEFL-instrukteur by die Taalsentrum en ʼn Engelstweedetaal-onderwyser. (TEFL is die kwalifikasie wat mense in staat stel om onderrig te gee in Engels as vreemde taal. Lees gerus hier meer oor die Taalsentrum se TEFL-kursus.)

  1. Eppie, wat is die titel van jou gunstelingboek?​ Outlander
  2. Hoekom is dit jou gunstelingboek?​ Dis ʼn uitstekende, geloofwaardige sage wat pragtig geskryf en deeglik nagevors is.
  3. Wie is jou gunstelingouteur? Hoe só? Op die oomblik Diana Gabaldon, weens haar uitmuntende skryfstyl en navorsing.
  4. Wat lees jy tans?​ Die boeke van die Outlander 7-reeks. Ek is nou so te sê klaar met die sesde boek en ek het die agtste boek op my Kindle. Ons het na die reeks gekyk en ek geniet dit terdeë om die boeke te lees.
  5. Watter boek het jy al meer as eenkeer gelees? Vertel vir ons hoekom? Ek het al baie boeke herlees. Lees is vir my ontvlugting – ek bevind my vinnig in ʼn fiktiewe wêreld wanneer ek lees, en ek hou van stories wat goeie nuus deel. Omdat geskiedenis my fassineer, ontsnap ek graag na ʼn fiktiewe historiese verhaal. As iets goed geskryf is, sal ek dit lees. Ek het al talle goeie moderne romans gelees en ek geniet klassieke werke, maar ek sal nie uit my eie vrye wil wetenskapsfiksie, gruwelverhale, Harry Potter of Lord of the Rings lees of na flieks of storiereekse oor hulle kyk nie.
  6. Wie is jou gunsteling- literêre karakter? Op die oomblik Claire Beauchamp, want die outeur het haar op ʼn baie interessante manier laat ontwikkel in die tydvak waarin die verhaal afspeel.
  7. Watter boek of boeke sal jy by jou studente aanbeveel?​ Dis ʼn moeilike vraag om te beantwoord omdat dit afhang van die vlak waarop die studente is, hulle belangstellings, en die soort boeke wat hulle graag lees. Romans kan werk vir studente op ʼn hoër vlak (gevorderde intermediêr en hoër) maar dunner boeke, ook geskikte niefiksieboeke, is geskik vir laervlakstudente. Ek is byvoorbeeld lief daarvoor om kos te maak en ek deel dikwels resepte en kookboeke met my studente. Ek vra hulle ook om hulle gunstelingresepte neer te skryf – ek het al ʼn hele versameling resepte! Reisgidse kan vir die laer vlakke gebruik word, asook ander interessante niefiksieboeke, soos dié wat handel oor plante, diere en plekke waar die studente woon of wat hulle van plan is om te besoek. Poësie werk gewoonlik nie vir EVT-studente (studente wat besig is om Engels as ʼn vreemde taal te leer) nie, en strokiesprentverhale uiteraard ook nie, omdat alles nie uitgespel word nie. Dit kom daarop neer dat ʼn mens nie kan veralgemeen nie. Ek sou eerder leesstof aanbeveel as ek weet vir wie spesifiek, omdat studente sulke uiteenlopende behoeftes het.
Tags: , , , , , , , , , ,