Tag: Engels

Meryl se TEFL-avontuur

Meryl Davidson het haar TEFL-kursus by die Engels-portefeulje aan die US se Taalsentrum voltooi en toe vir twee jaar in Suid-Korea gaan Engels gee. Haar TEFL-kwalifikasie stel haar in staat om Engels plaaslik sowel as internasionaal as ʼn vreemde taal te onderrig. Ons het aan Meryl ʼn paar vrae gevra oor die verrykende ervaring om oorsee te reis en te werk.

Wat het jou laat besluit om TEFL te kies?
Ek het dit besluit toe ek op ʼn plek in my lewe was waar ek nie ʼn permanente werk in Suid-Afrika kon kry nie, besig was om ouer te word, en vir myself moes kon sorg. Omdat ek boonop bitter graag wou reis, het ek sommer geweet dis die perfekte opsie vir my.

Watter deure het jou TEFL-kwalifikasie vir jou geopen?
Ek het twee jaar lank in Suid-Korea Engels gegee, en in daardie tydperk het ek kruis en dwars deur Suidoos-Asië gereis – iets waarop min mense hulle kan roem.

Ek het ʼn nuwe perspektief op die wêreld gekry en dit was inderdaad ʼn lewensveranderende ervaring. Sonder my TEFL-kwalifikasie sou ek dit beslis nie kon doen nie.”

Reis lê my baie na aan die hart en ek omring myself graag met verskillende kulture en tradisies. Ek het standhoudende vriendskappe gesluit en bande gesmee, en ek is steeds in aanraking met die meeste mense wat ek gedurende my tyd oorsee ontmoet het. Ek het dit ook geweldig geniet om my in die Asiese kultuur te verdiep en om dinge op dieselfde manier as die Asiërs te doen. Toe ek eers terug was in Suid-Afrika, was dit byvoorbeeld vir my baie moeilik om nié my skoene uit te trek voordat ek in my eie huis of ander mense se huise ingaan nie!

Op watter maniere het die TEFL-kursus jou vir die werk self voorberei?
Die TEFL-kursus wat ek by die US se Taalsentrum bygewoon het, was ʼn baie intensiewe program wat vier weke geduur het. In die loop van daardie vier weke is ons voorberei op elke enkele scenario wat moontlik kan afspeel in ʼn klaskamer waar Engels as ʼn vreemde taal onderrig word. Ofskoon niks ʼn mens werklik op die lewe in ʼn ander land kan voorberei totdat jy dit self ervaar nie, het die TEFL-kursus my beslis op baie maniere voorberei op wat my in die klaskamer te wagte kon wees.

Kan jy drie redes met ons deel waarom jy dink iemand dit gerus kan oorweeg om die TEFL-kursus by te woon en in die buiteland te gaan werk?

  1. Daar is nie nog so ʼn bevrydende gevoel as die gevoel wat ʼn mens ervaar wanneer jy op iets méér of iets anders besluit nie, as dit is wat jy werklik wil doen.
  2. Dit verander jou op ʼn manier wat jy jou glad nie sou kon indink nie. Jou manier van dink, jou perspektief en jou wêreldbeskouing verander. Alles wat jy gedink het jy weet, verdwyn.
  3. Jou onafhanklikheid is jou grootste bate. Daar is geen beter manier om onafhanklik te word as om die onbekende op jou eie aan te durf nie. Hou op om iemand te wees wat altyd net hoor van die wye wêreld daarbuite. Gaan kyk self!

Wil jy dalk ʼn TEFL-kursus bywoon?

Ons volgende voltydse kursus begin op 26 Junie en ons volgende deeltydse TEFL-kursus begin op 24 Julie, en daar is nog plek vir jou! Jy sal egter teen 16 Junie moet aansoek doen vir die voltydse kursus, en teen 14 Julie vir die deeltydse kursus.

 

[us_cta title=”” btn_label=”Klik hier vir meer inligting en om aansoek te doen” btn_link=”url:https%3A%2F%2Flanguagecentre.sun.ac.za%2Fproduct%2Fteaching-english-as-a-foreign-language-tefl%2F|target:_blank|” btn_style=”2″]Ons gaan later vanjaar ook weer kursusse aanbied. [/us_cta]
Tags: , , ,

Dosente, kontak ons vir redigering en vertaling

Daar is sekere k-woorde wat mens ongemaklik laat kriewel. Korona, kiem, komper, kontaminasie, krisis, kwarantyn. As teenvoeter vir hierdie woorde, bied die US Taalsentrum se Taaldiens graag ‘kans’, ‘kontak’ en ‘kreatief’. Deur dosente se klasmateriaal soos notas, skyfies en ander SUNLearn-inhoud te redigeer en te vertaal, gee ons jou die kans om met jou studente kontak te maak in die taal van hulle keuse en kreatief met jou vakmateriaal en die oplaai daarvan om te gaan.

In enige akademiese veld is die oordrag van kennis en die begrip van komplekse idees kardinale stappe in die leerproses. Die Taaldiens kan jou help seker maak dat jou idees klinkklaar oorkom deur die taal van jou klasnotas en -skyfies tydens die redigeerproses bietjie reg te klop. Deur die ‘hoe’ aan ons oor te laat, kan jy fokus op wat jy eintlik wil kwyt raak – met meer tyd en energie om op die skep en oplaai van jou inhoud en interaksie met jou studente te konsentreer.

Aangesien ons in 15 tale werk (Afrikaans, Engels en Xhosa ingeslote), kan ons ook jou materiaal vertaal. Op hierdie manier gee ons saam vir studente ʼn lewensveranderende keuse: die geleentheid om te leer in die taal waarmee hulle die gemaklikste is.

Deur die vaardighede en kennis van ons eie taalpraktisyns en beproefde, gekwalifiseerde vryskutters te kombineer, maak ons korte mette van take en sperdatums. Kom, kontak ons!

E-pos Marguerite van der Waal vir ʼn kwotasie.

 

 

Lecturers, connect with us for editing and translation
Tags: , , , , , , , , ,

Terminologiewebwerf met drietalige aanbod bekendgestel

Op Maandag, 23 November 2015, het die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum se isiXhosa-portefeulje sy Afrikaanse, Engelse en isiXhosa-terminologiewebwerf bekendgestel. Hierdie webwerf is nie net vir persone direk verbonde aan die Universiteit Stellenbosch toeganklik nie, maar vir enige persoon met toegang tot die internet.

Die webwerf is volgens temas in verskillende drietalige terminologielyste opgedeel en het ’n soekfunksie wat maklik is om te gebruik. Al die lyste is deur Pumlani Sibula, wat aan die hoof van die Taalsentrum se isiXhosa-portefeulje staan, saamgestel. Insette vir hierdie lyste is van uiteenlopende bronne verkry, insluitende personeellede van akademiese fakulteite aan die Universiteit Stellenbosch.

Die ontwikkeling van die webwerf getuig van die Universiteit Stellenbosch se verbintenis tot die verryking en bevordering van isiXhosa – een van die Wes-Kaap se amptelike inheemse tale – as ’n akademiese taal. Deur die webwerf word daar ook geleenthede geskep om isiXhosa se algemene gebruik uit te brei.

Hierdie terminologiebron help studente, en veral isiXhosa-studente van die Universiteit Stellenbosch, om ’n baie beter begrip van vakterme in hulle studievelde te verkry. Die Taalsentrum hoop ook om hiermee saam vir studente die geleentheid te gee om meer oor hierdie terme te leer – en dit alles in hulle moedertaal.

“Die gebruik van isiXhosa sal help om die selfvertroue in die sprekers van die taal op te bou. Dit help om hulle houding ten opsigte van hulle taal te verander, dit skep ’n selfbewussyn, en bevorder eensgesindheid en inklusiwiteit”, sê Pumlani.

Die terminologiewebwerf is in samewerking met David Joffe en sy span van TshwaneDJe ontwikkel en ontwerp en die terminologiedatabasis tlTerm, wat gebruik is om die terminologiewebwerf te skep, is ook by TshwaneDJe gekoop.

Voor die bekendstelling van die webwerf is die terminologielyste wat nou op die webwerf beskikbaar is, ook aan fakulteite beskikbaar gestel as gedrukte publikasies.

Terminologielyste wat op die webwerf beskikbaar is

Tans is daar ongeveer 6 000 terme beskikbaar op die webwerf. Hierdie terme is opgedeel in terminologielyste wat ’n aantal studieareas, sowel as sportsoorte, dek:

Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe

  • Sosiologie
  • Maatskaplike Werk
  • Sielkunde

Fakulteit Regsgeleerdheid

  • Familiereg
  • Strafreg
  • Gewoontereg
  • Inleiding tot die Reg

Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

  • Rekeningkunde
  • Besigheidsbestuur
  • Ekonomie
  • Bedryfsielkunde
  • Inligtingstelsels
  • Mensebestuur
  • Openbare Bestuur en Ontwikkelingsbeplanning
  • Statistiese Metodes

Sportsoorte

  • Sokker
  • Rugby
  • Krieket

 Terminologielyste wat in Januarie 2016 bekendgestel gaan word

In Januarie 2016 sal die volgende terminologielyste, vir die Fakulteit Teologie en die Fakulteit Ingenieurswese, op die webwerf beskikbaar gestel word:

Fakulteit Teologie

  • Missiologie
  • Praktiese Teologie
  • Sistematiese Teologie
  • Ekklesiologie

Fakulteit Ingenieurswese

  • Toegepaste Wiskunde
  • Rekenaarprogrammering
  • Ingenieurschemie
  • Ingenieursfisika

 Terminologielyste wat in 2016 ontwikkel gaan word

Die ontwikkeling van terminologielyste vir die volgende fakulteite word vir 2016 beplan:

  • Fakulteit AgriWetenskappe,
  • Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe
  • Fakulteit Natuurwetenskappe

Vir meer inligting, skakel ons gerus by 021 808 2167.

 

Tags: , , , ,