Tag: duidelike kommunikasie

Welsyn in samesyn

Dis weer die tyd van die jaar dat ons dagboeke propvol jaareindkuiers en -funksies is. As jy sommer by voorbaat ʼn aanval van sosialiseringsuitputting kry wanneer jy na jou kalender kyk, wil ons jou net herinner aan ʼn taamlik onlangse ontwrigter: Covid-19. Onthou jy hoe die pandemie ons lewens uit die bloute kom omvergooi het deurdat ons ver weg van mekaar moes bly en van die huis af moes werk? En onthou jy hoe eensaam en verlate dit ons laat voel het, en hoe afgesonderd?

Ons kuier miskien nie almal ewe graag nie, maar die grendeltyd het onteenseglik bewys dat ons van nature sosiale wesens is en dat wisselwerking met ander mense noodsaaklik is as ons wil hê dit moet regtig op persoonlike sowel as professionele vlak met ons goed gaan.  Boonop het die pandemie vir baie van ons die manier waarop ons werk, en waar ons werk, wesenlik verander.

Vir diegene met buigsame of hibridiese werkreëlings kan dit verandering beteken in aspekte van die daaglikse samesyn wat deel uitmaak van ʼn konvensionele kantooromgewing – die terloopse geselsies wanneer ons mekaar toevallig raakloop, die teetye en gedeelde grappies, en die spanvergaderings – wat verhoudings organies laat ontwikkel en ʼn gevoel van kameraderie by personeel bevorder. Dit is hoekom ons geleenthede om saam met ons kollegas te kuier, so dikwels moontlik moet verwelkom en aangryp.

Wanneer ons tyd saam deurbring, ontspan ons nie net nie – ons bou ook verhoudings wat ʼn samehorigheidsgevoel kweek en ons laat voel ons is nie alleen in die ding nie. Ons by die Taalsentrum het weer onder die indruk hiervan gekom na afloop van ʼn onlangse spanuitstappie na die Bo-Kaap om Erfenisdag te vier. Talle kollegas het te kenne gegee dat hulle dit geweldig geniet het, en hulle waardering vir die uitstappie uitgespreek. Hulle het beklemtoon dat, afgesien van die opvoedkundige en kulturele waarde van die besoek, veral die ontspanne samesyn genotvol was, en dat dit lekker was om op te vang met kollegas vir wie hulle selde te siene kry.

Personeeluitstappies en -kuiers skep vir ons ’n geleentheid om weg te kom uit ons gewone werksomgewing en -dinamika, om vir ʼn slag van spertye te vergeet en mekaar se geselskap op ʼn neutrale plek te geniet.  In hierdie informele omgewings kan ons die moontlik onuitgesproke hiërargiese hindernisse oorkom en mekaar as mense leer ken; nie bloot as medewerkers of as hoofde en ondergeskiktes nie. Dit verander alles. Skielik is dit makliker om oop gesprekke te voer, om by iemand om raad aan te klop of om saam te werk aan ʼn projek, omdat ons mekaar beter ken en meer vertrou.

Dit gaan dan nie net daaroor om die werk gedoen te kry nie, maar ook oor die wete dat ons, afgesien van ons werkspligte en -vergaderings, deel uitmaak van ʼn wedersyds ondersteunende groep mense wat lojaal is teenoor mekaar en mekaar beskerm. Dit maak ons meer veerkragtig en stel ons in staat om nuwe uitdagings die hoof te bied wanneer dit rof gaan.”

Gaan geniet die jaareindkuiers dus voluit, en bou genoeg goedvoelverhoudings om in 2025 van die werkplek veel meer te maak as ʼn plek om te werk – maak daarvan ʼn plek om te floreer!

– deur Tania Botha; vertaal deur Ingrid Swanepoel

Tags: , , , , , , ,

Waardering vir ʼn liewe kollega wat aftree

Ydalene Coetsee, ʼn staatmakerdosent in akademiese en professionele geletterdhede by die Taalsentrum, tree aan die einde van 2023 af nadat sy vir 14 jaar klasgegee het.

Akademiesegeletterdhedemodules word aangebied om studente te help om die gaping tussen skool en universiteit te oorbrug, en hierdie kredietdraende modules word pasgemaak volgens die unieke behoeftes van elke US-fakulteit. Ydalene was veral betrokke by onderrig in die verlengdekurrikulumprogram vir die wetenskappe, waar sy op ingenieurstudente gefokus het. Die bystand wat sy aan studente verleen het wat besig was om hulle voete in ʼn nuwe en veeleisende akademiese omgewing te vind, is van onskatbare waarde.

Ons gaan jou baie mis, Ydalene! ʼn Kollega het by Ydalene se afskeid die volgende kort ode aan haar gedeel:

Ode aan Ydalene
Jy is vir my sag, vol geloof, vrede en humor,
Jy sien altyd die blinkkant as die lewe knor.
Mag jou toekoms skitter en blink,
En mag daar vrede, geluk en baie seelug vir jou wink.

 

 

Ons het met Ydalene ook gesels om uit te vind wat sy van ons gaan onthou en wat sy sonder ons gaan doen 😉. Lees verder vir die onderhoud.

Wat het jy studeer en hoekom het jy by die Taalsentrum begin werk?
Nadat ek my meestersgraad in vertaalkunde behaal het, het ek gedink ek sou doodgelukkig wees om van my huis af te werk en vir Struik Uitgewers boeke te vertaal. Ek het dit egter só gemis om te klas te gee dat ek begin het om op kontrak vir die Taalsentrum klas te gee, en later om ʼn permanente pos aansoek gedoen het. Dit was in 2010, en sedertdien was dit vir my heerlik om hier te doseer. Aanvanklik het ek lesings in verskillende fakulteite (Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) gefasiliteer, maar later slegs vir Ingenieurswese en Teologie. Die Teologie-klasse was klein en daar was twee opsies: een vir voltydse studente en een vir deeltydse of werkende studente. Ek is só bly dat ek nooit te oud was om my vaardighede te verbeter en nuwe dinge te leer nie.

Watter veranderinge het jy by die Taalsentrum ervaar, en het jy self enige verandering teweeggebring?
In my vakgebied (akademiese geletterdhede) was die grootste verandering die skuif van die aanbied van losstaande modules na noue samewerking met kollegas in fakulteite om modules aan te bied. Ek sou ook graag wou glo dat ek gehelp het om ʼn meer ondersteunende omgewing in die Taalsentrum te skep.

Kan jy ons iets vertel van die studente en kollegas saam met wie jy gewerk het? Wat het jy die meeste geniet?
Ek het dit verkies om studente in die verlengdekurrikulumprogramme  te ondersteun omdat ek gevoel het dat ek daar ʼn daadwerklike verskil kon maak. Terugvoer wat my hart warm laat klop, is wanneer ʼn student of kollega vir my sê ek het ʼn verskil in hulle lewens gemaak. Ek het baie by kollegas en by studente geleer.

As jy vir eerstejaars net een ding kon leer, wat sou dit wees?
Duidelike kommunikasie is my passie, en ek werk steeds aktief daaraan. Studente wat in hul tweede of derde taal skryf, benodig verskillende tussenkomste, asook ʼn baie geduldige dosent. Ek weet hoe moeilik dit is om ʼn nuwe taal te leer, en ek put groot genot daaruit om studente op hulle reis na meertaligheid te ondersteun.

Will jy dalk ʼn ‘aha-oomblik’ in die klas of ʼn snaakse storie met ons deel?
Wat ek die beste onthou, is die foute wat ek gemaak het, byvoorbeeld om nie te besef dat my waardes nie sigbaar genoeg vir die studente was nie. Gevolglik probeer ek nou harder om te wys dat ek alle mense respekteer.

Die snaaksste was die verskonings wanneer iemand nie vir ʼn toets opgedaag het of ʼn werksopdrag nie ingedien het nie. My gunsteling vir ʼn toets wat nie geskryf is nie:

Mevrou, ek moes gister Worcester toe gaan want ek moes ʼn muishond by iemand daar gaan haal. Sien, daar was ʼn slang in my meisie se woonstel en dis die enigste manier hoe ons daarvan ontslae kon raak.”

Net een of twee studente (die moedertaalsprekers) het die meeste van die taalgrappies wat ek deur die jare probeer vertel het, verstaan. Dan moes ek die grappie probeer verduidelik, en hoe verder ek met die verduideliking vorder, hoe verspotter het ek gevoel. Ek was ook ʼn paar keer erg in die verleentheid weens tegnologie wat nie gewerk het soos dit moes nie. Dan was ek altyd baie dankbaar dat die studente my gehelp het.

Vertel ons van die dinge waarna jy uitsien – wat gaan jy doen nadat jy afgetree het?
Ek sal dalk in ander omgewings aanhou doen wat ek graag doen (om studente te help om duidelik te kommunikeer). Ek wil ook graag meer in die berge gaan stap en meer dikwels en vir langer met vriende kuier sonder om skuldig te voel. Ek gaan my kleinkinders na hartelus vertroetel, en ek en my jongste seun is van plan om in 2024 die Machu Picchu Inca-staproete aan te durf. Ek en my man van 42 jaar geniet dit om die langpad te vat en daar is plekke waar ons nog nie was nie, dus wink nuwe plekke om ontdek te word en nuwe mense om ontmoet te word!

Ek wens die Taalsentrum en my kollegas alles van die beste toe vir die toekoms. Onthou: Die lewe is taal.”

Lees ook hier wat Ydalene oor haar gunstelingboeke sê.

Tags: , , , , , ,