Tag: akademiese geletterdhede

Waardering vir ʼn liewe kollega wat aftree

Ydalene Coetsee, ʼn staatmakerdosent in akademiese en professionele geletterdhede by die Taalsentrum, tree aan die einde van 2023 af nadat sy vir 14 jaar klasgegee het.

Akademiesegeletterdhedemodules word aangebied om studente te help om die gaping tussen skool en universiteit te oorbrug, en hierdie kredietdraende modules word pasgemaak volgens die unieke behoeftes van elke US-fakulteit. Ydalene was veral betrokke by onderrig in die verlengdekurrikulumprogram vir die wetenskappe, waar sy op ingenieurstudente gefokus het. Die bystand wat sy aan studente verleen het wat besig was om hulle voete in ʼn nuwe en veeleisende akademiese omgewing te vind, is van onskatbare waarde.

Ons gaan jou baie mis, Ydalene! ʼn Kollega het by Ydalene se afskeid die volgende kort ode aan haar gedeel:

Ode aan Ydalene
Jy is vir my sag, vol geloof, vrede en humor,
Jy sien altyd die blinkkant as die lewe knor.
Mag jou toekoms skitter en blink,
En mag daar vrede, geluk en baie seelug vir jou wink.

 

 

Ons het met Ydalene ook gesels om uit te vind wat sy van ons gaan onthou en wat sy sonder ons gaan doen 😉. Lees verder vir die onderhoud.

Wat het jy studeer en hoekom het jy by die Taalsentrum begin werk?
Nadat ek my meestersgraad in vertaalkunde behaal het, het ek gedink ek sou doodgelukkig wees om van my huis af te werk en vir Struik Uitgewers boeke te vertaal. Ek het dit egter só gemis om te klas te gee dat ek begin het om op kontrak vir die Taalsentrum klas te gee, en later om ʼn permanente pos aansoek gedoen het. Dit was in 2010, en sedertdien was dit vir my heerlik om hier te doseer. Aanvanklik het ek lesings in verskillende fakulteite (Regsgeleerdheid, Natuurwetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe) gefasiliteer, maar later slegs vir Ingenieurswese en Teologie. Die Teologie-klasse was klein en daar was twee opsies: een vir voltydse studente en een vir deeltydse of werkende studente. Ek is só bly dat ek nooit te oud was om my vaardighede te verbeter en nuwe dinge te leer nie.

Watter veranderinge het jy by die Taalsentrum ervaar, en het jy self enige verandering teweeggebring?
In my vakgebied (akademiese geletterdhede) was die grootste verandering die skuif van die aanbied van losstaande modules na noue samewerking met kollegas in fakulteite om modules aan te bied. Ek sou ook graag wou glo dat ek gehelp het om ʼn meer ondersteunende omgewing in die Taalsentrum te skep.

Kan jy ons iets vertel van die studente en kollegas saam met wie jy gewerk het? Wat het jy die meeste geniet?
Ek het dit verkies om studente in die verlengdekurrikulumprogramme  te ondersteun omdat ek gevoel het dat ek daar ʼn daadwerklike verskil kon maak. Terugvoer wat my hart warm laat klop, is wanneer ʼn student of kollega vir my sê ek het ʼn verskil in hulle lewens gemaak. Ek het baie by kollegas en by studente geleer.

As jy vir eerstejaars net een ding kon leer, wat sou dit wees?
Duidelike kommunikasie is my passie, en ek werk steeds aktief daaraan. Studente wat in hul tweede of derde taal skryf, benodig verskillende tussenkomste, asook ʼn baie geduldige dosent. Ek weet hoe moeilik dit is om ʼn nuwe taal te leer, en ek put groot genot daaruit om studente op hulle reis na meertaligheid te ondersteun.

Will jy dalk ʼn ‘aha-oomblik’ in die klas of ʼn snaakse storie met ons deel?
Wat ek die beste onthou, is die foute wat ek gemaak het, byvoorbeeld om nie te besef dat my waardes nie sigbaar genoeg vir die studente was nie. Gevolglik probeer ek nou harder om te wys dat ek alle mense respekteer.

Die snaaksste was die verskonings wanneer iemand nie vir ʼn toets opgedaag het of ʼn werksopdrag nie ingedien het nie. My gunsteling vir ʼn toets wat nie geskryf is nie:

Mevrou, ek moes gister Worcester toe gaan want ek moes ʼn muishond by iemand daar gaan haal. Sien, daar was ʼn slang in my meisie se woonstel en dis die enigste manier hoe ons daarvan ontslae kon raak.”

Net een of twee studente (die moedertaalsprekers) het die meeste van die taalgrappies wat ek deur die jare probeer vertel het, verstaan. Dan moes ek die grappie probeer verduidelik, en hoe verder ek met die verduideliking vorder, hoe verspotter het ek gevoel. Ek was ook ʼn paar keer erg in die verleentheid weens tegnologie wat nie gewerk het soos dit moes nie. Dan was ek altyd baie dankbaar dat die studente my gehelp het.

Vertel ons van die dinge waarna jy uitsien – wat gaan jy doen nadat jy afgetree het?
Ek sal dalk in ander omgewings aanhou doen wat ek graag doen (om studente te help om duidelik te kommunikeer). Ek wil ook graag meer in die berge gaan stap en meer dikwels en vir langer met vriende kuier sonder om skuldig te voel. Ek gaan my kleinkinders na hartelus vertroetel, en ek en my jongste seun is van plan om in 2024 die Machu Picchu Inca-staproete aan te durf. Ek en my man van 42 jaar geniet dit om die langpad te vat en daar is plekke waar ons nog nie was nie, dus wink nuwe plekke om ontdek te word en nuwe mense om ontmoet te word!

Ek wens die Taalsentrum en my kollegas alles van die beste toe vir die toekoms. Onthou: Die lewe is taal.”

Lees ook hier wat Ydalene oor haar gunstelingboeke sê.

Tags: , , , , , ,

Tien wenke vir ʼn wyer woordeskat

ʼn Mens se aktiewe woordeskat – die woorde wat jy gebruik – en die manier waarop jy kommunikeer, kan die omvang van jou invloed asook jou kans op sukses vergroot of verminder. Hier is tien maniere om meer woorde te leer en meer suksesvol in die lewe te wees.

Leer meer woorde in jou moedertaal:

1. Eet ʼn woordeboek. Goed, dis ʼn grappie, maar jy kan gerus maar ʼn woordeboek lees!

2. Gaan strategies te werk om jou woordeskat te vergroot en jou taalvaardigheid uit te brei. Dit sal nie vanself gebeur nie.

3. Gesels met ouer mense. Hulle beskik heel waarskynlik oor ʼn enorme aktiewe woordeskat. Leer by hulle.

4. Kyk na storiereekse en flieks en luister na podsendings. Let op na woorde wat jy nog nie gebruik nie en skryf hulle neer. Gaan slaan hulle na. Wees ʼn waaghals en begin daardie woorde inspan!

5. Benut die voorreg om te kan lees: die internet, koerante, tydskrifte en boeke. Dis die beste om te begin met onderwerpe waarvan jy hou, en dan is daar ook ʼn groter moontlikheid dat jy sal aanhou lees.

6. Wees nuuskierig en weetgierig oor woorde. Slaan dié na wat vir jou onbekend is en probeer hulle gebruik. Raai oor die verbuiging van woorde en kyk dan of jy reg is. Speel woordspeletjies.

7. Wees vol selfvertoue wanneer jy ʼn nuwe woord uittoets. Mense sal jou reghelp as jy foute maak, maar moenie ontmoedig word of geïntimideerd voel nie. Die volgende keer sal jou gebruik van daardie woord in die kol wees!

Leer meer woorde in ʼn ander taal: 

8. Stel jouself bloot aan ʼn meertalige konteks. Verlustig jou in diversiteit!

9. Gesels met iemand sonder om enige Afrikaanse woorde te gebruik. Probeer om duidelik te kommunikeer.

10. Gebruik al jou hulpbronne: moedertaalsprekers, tegnologie, outydse flitskaarte, ons Taalleerhub, besprekingsgroepe, flieks met onderskrifte, en luisterboeke of podsendings wanneer jy pendel en selfs wanneer jy skottelgoed was. Vir optimale genot moet jy fokus op onderwerpe waarin jy belangstel.

– deur Ydalene Coetsee, vertaal deur Ingrid Swanepoel

Tags: , ,

Phakama vir akademiese geletterdheid

Dosente van die Taalsentrum, Chemie en Rekenaarvaardigheid het vanjaar ’n splinternuwe en opwindende samewerkingsprojek van stapel gestuur. Hulle het saamgespan om die Taalsentrum se akademiese geletterdheidsmodule, Wetenskapkommunikasievaardigheid 146, en modules in chemie en rekenaarvaardigheid vir studente in verlengdegraadprogramme in Natuurwetenskappe, AgriWetenskappe en Ingenieurswese, ekstra dimensie te gee.

Studente in dié modules moes werk met die opdrag dat hulle deur ’n fiktiewe regeringskommissie aangewys is om deel te vorm van ’n wetenskaplike adviesspan wat ondersoek moes instel na en verslag moes doen oor ’n reeks relevante onderwerpe met ‘n chemie-onderbou. Die studente moes in groepe navorsing doen en ’n geskrewe argument vir of teen die betrokke onderwerp indien. Daarna moes die groepe hul navorsing op ’n kreatiewe manier beskikbaar maak aan die publiek deur vyfminuutvideo’s te skep waarin hulle hul argumente oordra.

Die uitkomste waarna gestreef is, is die toepassing van lees- en skryfvaardighede in die konteks van wetenskap in die samelewing oor die algemeen en spesifiek in Suid-Afrika, die ontwikkeling van die vermoë om gepaste bronne te kies en te gebruik om logiese argumente vir of teen ’n kwessie op te stel en uiteindelik om nuwe maniere te ondersoek om kennis op ’n kreatiewe manier aan ’n groter gehoor oor te dra.

Wat hierdie projek verder uniek gemaak het, is dat studente deurlopend deel van die besluitnemingsproses was. Aan die heel begin het studente deur ’n stemproses die geleentheid gehad om vir die projek ’n naam te gee. Die woord ‘phakama’, wat in Xhosa ‘opstaan’ of ‘opstyg’ beteken, is as naam gekies. Daarna kon studente hul eie onderwerpe om na te vors identifiseer, en uiteindelik het die studente self gestem vir die top-video. Onderwerpe het gestrek van kernkrag, genetiese modifikasie tot die byvoeging van fluoried in drinkwater. Die wenspan het laasgenoemde kwessie onder die loep geneem en het bestaan uit Temika Moodley, Jade Opperman, Alliance Sambo en Lukhanye Swapi. Klik gerus hier om na hul video te kyk.

Studente het die projek as innoverend en toepaslik ervaar. “Die Phakama-projek het vir my gewys dat akademie ook opwindend en pret kan wees,” was een student se terugvoer.

Tags: , ,