Tag: aanlyn taalondersteuning vir dosente

Dosente, kontak ons vir redigering en vertaling

Daar is sekere k-woorde wat mens ongemaklik laat kriewel. Korona, kiem, komper, kontaminasie, krisis, kwarantyn. As teenvoeter vir hierdie woorde, bied die US Taalsentrum se Taaldiens graag ‘kans’, ‘kontak’ en ‘kreatief’. Deur dosente se klasmateriaal soos notas, skyfies en ander SUNLearn-inhoud te redigeer en te vertaal, gee ons jou die kans om met jou studente kontak te maak in die taal van hulle keuse en kreatief met jou vakmateriaal en die oplaai daarvan om te gaan.

In enige akademiese veld is die oordrag van kennis en die begrip van komplekse idees kardinale stappe in die leerproses. Die Taaldiens kan jou help seker maak dat jou idees klinkklaar oorkom deur die taal van jou klasnotas en -skyfies tydens die redigeerproses bietjie reg te klop. Deur die ‘hoe’ aan ons oor te laat, kan jy fokus op wat jy eintlik wil kwyt raak – met meer tyd en energie om op die skep en oplaai van jou inhoud en interaksie met jou studente te konsentreer.

Aangesien ons in 15 tale werk (Afrikaans, Engels en Xhosa ingeslote), kan ons ook jou materiaal vertaal. Op hierdie manier gee ons saam vir studente ʼn lewensveranderende keuse: die geleentheid om te leer in die taal waarmee hulle die gemaklikste is.

Deur die vaardighede en kennis van ons eie taalpraktisyns en beproefde, gekwalifiseerde vryskutters te kombineer, maak ons korte mette van take en sperdatums. Kom, kontak ons!

E-pos Marguerite van der Waal vir ʼn kwotasie.

 

 

Lecturers, connect with us for editing and translation
Tags: , , , , , , , , ,

Ondersteuning aan dosente: Vertaling van klankopnames van lesings (podsendings)

Dosente kan steeds verseker dat studente meertalige toegang tot hul lesings het. Een manier om dit reg te kry is om klank- of videogrepe in Afrikaans en Engels aan student beskikbaar te maak. Ons kan help deur die opgeneemde podsendings te tolk en om te sit in meertalige klanklêers.

Volg asseblief die volgende stappe om jou podsending te laat vertaal:

  1. Neem jou podsending tuis of op kantoor op en stuur dit vir ons. Probeer Techsmith as jy nog nie podsendings vantevore gemaak het nie. Dit is ʼn gebruikersvriendelike toepassing wat op die meeste US-rekenaars geïnstalleer is. As dit nog nie geïnstalleer is nie, kan IT-dienste jou daarmee help. Jy kan ook enige ander opnameprogram waarmee jy vertroud is, gebruik, soos Audacity of Adobe Audition.
  2. Hou asseblief in gedagte dat die riglyne vir die oorgang na aanlyn onderrig die feit uitlig dat podsendings nie noodwendig ʼn volle 50-minuutlesing hoef te wees nie, maar dat ʼn kort, bondige oorsig oor nuwe materiaal vir studente genoeg is. Probeer om jou podsending so kort as moontlik te hou sodat ons soveel moontlik dosente kan help.
  3. Wanneer jy jou podsending voltooi het, kan jy dit via www.wetransfer.com aan Christine Joubert by christinejoubert@sun.ac.za stuur. WeTransfer is ʼn gratis toepassing waarmee ʼn mens groot aanhangsels elektronies kan versend. Dit is baie maklik om te gebruik: Voeg net Christine se e-posadres in, haak jou lêer aan en druk send. Moet asseblief nie die lêer as ʼn e-posaanhangsel in Outlook stuur nie – die lêer sal te groot wees om te stuur.
  4. Gebruik asseblief die volgende konvensie om jou lêer ʼn naam te gee:
    Datum_Modulenaam_Taal, byvoorbeeld 30032020_Sosiologie114_Afr.
    Ons sal dit lewer as 30032020_Sociology114_Eng.
  5. Ons sal ons bes doen om jou getolkde podsending so gou moontlik te lewer. Ons sal minstens twee dae nodig hê, wat die dag waarop jy dit aan ons stuur, uitsluit.
  6. Jou podsending sal ook via WeTransfer aan jou gelewer word. WeTransfer sal vir jou ʼn kennisgewing e-pos met ʼn skakel na die aflaaiwerf. Laai die lêer daar af en laai dit op na SUNLearn.

Kontak Christine Joubert gerus om meer inligting te bekom of om ons posendingdiens aan te vra.

 

Tags: , ,