Faika by die BIP
Ons vier vroue in Vrouemaand: Faika se besoek aan Tarragona in Spanje
Faika Haroun, dosent in Akademiese en Professionele Geletterdhede by die Taalsentrum, het die voorreg gehad om die Roviira i Virgili Universiteit (URV) van 9 tot 13 Desember verlede jaar te besoek. Hierdie openbare Spaanse universiteit se fakulteit regsgeleerdheid en geesteswetenskappe is op die Catalunya-kampus in Tarragona. Die URV is ʼn lid van die Internasionale Netwerk van Universiteite (INU), ʼn wêreldwye samewerkende organisasie waaraan die Universiteit Stellenbosch (US) ook behoort.
Lidia du Plessis van Stellenbosch Internasionaal (SUI) het Faika aan die INU voorgestel, en SUI het haar besoek befonds terwyl die URV gesorg het vir verblyf in Tarragona. Ter viering van Vrouemaand het ons met Faika oor haar besoek gesels.
“Rebeca Tómas Smith, direkteur van die internasionale kantoor van die URV, het my verwelkom. Sy het gereël dat my besoek saamval met die vermengde intensiewe program oor internasionalisering tuis (BIP) waaraan ek deelgeneem het en waar ek die geleentheid gehad het om ʼn referaat te lewer. Hierdie program help studente en personeel om interkultureel vaardig te word. Ek het ook die Inklusiewe Omvattende Konferensie oor Internasionalisering bygewoon, waar personeel en studente hul internasionale ervarings gedeel het. Tydens die wegbreeksessies is ek voorgestel aan samewerkende aanlyn internasionale leer (COIL), ʼn onderrigmetodologie wat samewerking met internasionale en plaaslike vennote fasiliteer.
Ek noem ook graag dat ek ʼn betekenisvolle verbintenis met Marina Vives i Cabré, een van die organiseerders en aanbieders van die BIP, gesmee het. Van ons eerste ontmoeting af was dit duidelik dat ons baie belangstellings en ervarings gemeen het, op persoonlike sowel as professionele vlak.
Ek lewer my referaat by die BIP
BIP-deelnemers
Tarragona is ryk aan kultuur en geskiedenis. Die BIP-deelnemers is een middag deur die stad geneem. Ons het talle van die Romeinse en Middeleeuse terreine besoek, en aangedoen by die uitkykpunt wat bekend staan as die poort na die Middellandse See. Wanneer die plaaslike mense daarheen gaan, sê hulle dat hulle ‘aan yster gaan raak’ omdat die reling van yster gemaak is.
Hierdie ervaring was van groot waarde vir die vestiging van internasionale verhoudings met die oog op toekomstige samewerking. Ook het ek daardeur insig verkry in die manier waarop interkulturele vaardigheid internasionaal beskou word. ʼn Belangrike verskil tussen Europa en Suid-Afrika is dat interkulturele vaardigheid in Europese instansies dikwels as internasionalisering beskou word, terwyl ons by die Universiteit Stellenbosch interkulturele vaardigheid sien as die vermoë om binne ons landsgrense met mense van verskillende kulture te kommunikeer en om te gaan.”
Ons het aan yster gaan raak.
ʼn Belangrike verskil tussen Europa en Suid-Afrika is dat interkulturele vaardigheid in Europese instansies dikwels as internasionalisering beskou word, terwyl ons by die Universiteit Stellenbosch interkulturele vaardigheid sien as die vermoë om binne ons landsgrense met mense van verskillende kulture te kommunikeer en om te gaan.”
Ons verken Tarragona
Romeinse teater
Nuuskierig oor wat Akademiese en Professionele geletterdhede nou eintlik is? Lees gerus hier meer daaroor.
– deur Faika Haroun, vertaal deur Ingrid Swanepoel