Hoe word ʼn woordeboek nou eintlik aanmekaargesit? Vir baie van ons is woordeboeke eenvoudig dáár wanneer ons hulle nodig het; stil-stil eenkant op ʼn rak, of binne ʼn oogwink aanlyn beskikbaar. Nogtans verteenwoordig elke omskrywing ʼn ryke wêreld van navorsing, struktuur en noukeurige taalkundige werk.

Taalsentrumkollegas Chantal Ellis (Terminologiekoördineerder) en dr Alta van Rensburg (Adjunkdirekteur) het gedurende die week van 26 tot 30 Januarie die geleentheid gehad om meer van dié wêreld te wete te kom. Hulle het die Departement Afrikaans en Nederlands se leksikografiekursus bygewoon, met Afrilex-raadslede drr André du Plessis van die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en Lorna Morris, ʼn vryskutleksikograaf en -navorser, as aanbieders.
Die kursus het afgeskop met ʼn boeiende historiese oorsig oor leksikografie deur prof Rufus Gouws, wat waardevolle konteks verleen het om ʼn begrip te vorm van hoe dié dissipline deur die jare ontwikkel het. Daarna het ʼn omvattende verkenning van die manier waarop woordeboeke beplan, saamgestel en onderhou word, aan die beurt gekom. Die deelnemers is gelei om noukeurige oorweging te skenk aan die prosesse en strukture wat leksikograwe gebruik om taal akkuraat te verteenwoordig. Die raakvlak tussen leksikografiese teorie en praktyk is verken, met spesiale aandag aan die kompleksiteit van woordeboekmakery.
Een van die week se besprekings het gefokus op die groter wordende rol van kunsmatige intelligensie (KI). Die besprekings het gehandel oor wat KI kan beteken vir die toekoms van woordeboeksamestelling, die ontleding van taaldata en die ontwikkelende verantwoordelikhede van leksikograwe in ʼn toenemend digitale omgewing.
ʼn Hoogtepunt van die week was ʼn besoek aan die Buro van die WAT, ʼn hoeksteenorganisasie in Afrikaanse leksikografie. Kursusgangers is verwelkom deur die hoofredakteur en uitvoerende direkteur, dr Phillip Louw, wat ook as hulle gids opgetree het. Hulle het die kluis besoek waar meer as 3,5 miljoen indekskaarte bewaar word wat bydraes bevat wat oor baie jare deur gewone Afrikaanssprekendes gemaak is. Elke indekskaart vang ʼn oomblik van werklike taalgebruik vas en maak deel uit van die uitgebreide bewysbasis wat die woordeboek onderlê.



Verder het die groep die WAT se biblioteek besoek waar ʼn betekenisvolle driejaarprojek tans aan die gang is om hulle Afrikaanse materiaal te digitiseer en digitaliseer. Hierdie inisiatief het dit ten doel om groot volumes gedrukte en handgeskrewe materiaal om te skakel na digitale bronne ter ondersteuning van toekomstige leksikografiese werk. Dit was vir die groep ʼn indrukwekkende demonstrasie van hoe tradisionele leksikografie deur tegnologiese innovering steeds aanhou ontwikkel.
Na afloop van die toer het die groep geleentheid gehad om deel te neem aan insiggewende gesprekvoering met WAT-personeel oor hulle werk, huidige uitdagings en toekomstige projekte.
Die week is op ʼn gesellige kollegiale noot afgesluit met ʼn ligte middagete; ʼn gepaste einde aan ʼn inspirerende en intellektueel verrykende leerervaring.

Aanbieders van en deelnemers aan die leksikografiekursus: Chantal Ellis, Dariol Wicomb and Ina Genade (voor); Lorna Morris, André du Plessis, Alta van Rensburg en Pierre-Marie Finkelstein (agter).



– deur Chantal Ellis



