Die vorm en klank van vryheid
Vryheid is nie net polities nie; dis ook kultureel, taalkundig en nou verbonde aan ons reg om onsself uit te druk. Die regte om te stem, om te lewe sonder om vervolging te vrees en om aan die openbare lewe deel te neem, is fundamentele regte. Maar hierdie regte is onvolledig sonder vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid – die reg om in die taal van ʼn mens se keuse te praat, te dink, te skep en te kommunikeer. As jou stem nie gehoor word nie, kan jy nie deelneem nie. As jy nie kan verstaan nie, kan jy nie toegang tot regte verkry nie. Kortom, as jou taal uitgesluit word, word jy saam uitgesluit.
Die Suid-Afrikaanse Grondwet word dikwels geloof as een van die progressiefste grondwette ter wêreld. Die Handves van Regte waarborg vryheid van uitdrukking en taalkundige vryheid, erken twaalf amptelike tale, en heg spesifiek waarde aan kulturele en taalkundige diversiteit.
Vir talle Suid-Afrikaners, veral dié wie se moedertaal nie Afrikaans of Engels is nie, bly die reg om hulle ten volle in hulle huistaal uit te druk, egter meer van ʼn droom as die werklikheid. Engels oorheers in die akademie, regering, media en tegnologie, en is dus as’t ware die sleutel tot geleenthede. Engels is ook ʼn klassemerker: diegene wat vlot is in Engels verkry toegang tot werksgeleenthede, geregtigheid en aanlyn ruimtes; diegene wat Engels nie magtig is nie, bly agter. In hierdie proses word die waarde van Afrikatale verlaag en word hulle dikwels as erfenissimbole behandel, eerder as lewende gedagte- en kommunikasiestelsels. Só word kulturele trots weggekalwe en die oordrag van kennis tussen generasies aan bande gelê.
Kom ons verpoos vir ʼn oomblik om te besin oor die uitwerking wat dit het op die daaglikse lewe van miljoene Suid-Afrikaners: ʼn Tshivenda-spreker wat nie aanlyn regsadvies in sy huistaal kan bekom nie; ʼn Xhosa-sprekende pasiënt wat sukkel om simptome aan ʼn Engelssprekende dokter te verduidelik; ʼn kind wie se moedertaal Sepedi is, maar wat Engels moet leer lees nog voordat sy haar eie taal behoorlik bemeester het. Wat beteken taalvryheid vir hulle?