
Jabaar (heel links) en Huis Horison-personeel ná die werkswinkel.
Die Taalsentrum en die superster-opleier in Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SASL), Jabaar Mohamed, het op 17 April kragte saamgesnoer en ’n SASL‑werkswinkel vir die personeel van Huis Horison in Stellenbosch aangebied.
Huis Horison is ’n niewinsgewende inwonende sorgfasiliteit in Stellenbosch wat hulp verleen aan volwasse persone met intellektuele gestremdhede. Die Huis bied holistiese gehaltesorg aan die inwoners en moedig persoonlike ontwikkeling aan. Inwoners word veral gehelp om ’n lewensdoel, selfwaarde, erkenning, trots, kameraadskap en hoop te vind deur aktiwiteite soos naaldwerk, herwinningsprojekte, kosmaak, tuinmaak, herstelwerk, of enigiets anders waarin hulle belangstel. Omdat Huis Horison graag ’n ondersteunende omgewing vir die inwoners skep, het die fasiliteit by die US Taalsentrum kom kers opsteek vir steun met Suid-Afrikaanse Gebaretaal. Die personeellede wou graag basiese gebare aanleer om beter met gehoorgestremde inwoners te kommunikeer. Ons het toe aan die werk gespring om juis dit te doen.
Ons medewerker, Jabaar Mohamed, is ’n bekroonde aanbieder van die TV-geselsprogram Accessibility with Jabaar en ’n voorvegter vir SASL en die Dowe gemeenskap. Hy het al met die SA komediant Mark Lottering saamgespan om sy komedieprogramme vir die Dowe gemeenskap toeganklik te maak. Boonop het Jabaar ons SASL-opleierskursus voltooi, wat hom die ideale persoon sou maak om Huis Horison-personeel aan die wêreld van SASL bekend te stel.
Op ’n reënerige April-oggend het Jabaar, vergesel deur die US Taalsentrum se Comms Lab-koördineerder, Michelle Pieters, en ons SASL-tolkkoördineerder en ‑fasiliteerder, Nanette Nortje, met 13 personeellede van Huis Horison by hul perseel in Stellenbosch vergader.
Jabaar het die werkswinkel geopen met ’n inleiding oor doofheid en verduidelik wat doofheid en die Dowe gemeenskap is, en wat dit nie is nie. “Ons is nie bloot ’n gesondheidstoestand nie. Ons is ’n taalkundige en kulturele gemeenskap,” het hy gesê, en benadruk dat SASL ’n taal en ’n identiteit is wat respek verdien. Hy het ook gesê ’n middeweg moet gevind word wanneer jy kommunikeer met persone wat nie jou taal praat nie: “Dowe persone gaan altyd ’n manier vind.” Jabaar het Huis Horison se personeel geloof vir die eerste stap wat geneem is om dowe inwoners te akkommodeer. Volgens Jabaar kom alles neer op ’n eenvoudige wiskundige vergelyking:
Wees oop om ’n nuwe taal aan te leer + gebruik die taal om in ’n ander persoon se behoeftes te voorsien = respek, waardigheid en verbintenis.
Dowe persone gaan altyd ’n manier vind.”
Jabaar se persoonlike ervaring en sy navorsing oor ’n verskynsel wat hy “taalontneming” in Suid-Afrika noem, onderlê sy opvattings. “Taalontneming gebeur wanneer ’n dowe kind nie vroeg reeds SASL aanleer nie omdat hul versorgers nie SASL ken nie. Die ontwikkelingsterugslae wat dowe kinders ervaar, word gevolglik nie deur doofheid self veroorsaak nie, maar deur ’n gebrek aan taaltoegang en gepaardgaande bekendstelling. Vroeë toegang tot SASL ondersteun denke, leer, en, bowenal, selfvertroue. Vir diegene in die Dowe gemeenskap is SASL deurslaggewend vir ’n beter lewe.”
Daar was ’n besondere oomblik toe Jabaar gewys het waarom persone wat nie doof is nie, nie moet aanvaar dat alle dowe mense kan liplees nie. Slegs 8 van die 26 alfabetletters kan onderskei word deur persone se lippe dop te hou terwyl hulle praat. Alhoewel liplees as sodanig ’n onvoldoende strategie vir duidelike en inklusiewe kommunikasie is, is dit steeds belangrik om vir die keuse van liplees voorsiening te maak. Dit moet egter beslis nie al wees waarvoor daar voorsiening gemaak word nie.

Jabaar in aksie terwyl hy die kennis toepas wat hy in ons SASL–opleierskursus bekom het. Hier leer hy Huis Horison-personeel die grondbeginsels van SASL en die Dowekultuur.
Jabaar se passie vir SASL is aansteeklik. Die vertrek is gevul met glimlagte en lagbuie terwyl hy Huis Horison se personeel deur die grondbeginsels van SASL gelei het. Van die heel basiese beginsels soos korrekte handvorm, -posisie en -beweging, die gebruik van gesigsuitdrukkings en oogkontak, tot amusante gebarename en alfabetspelling, dit is alles gedek in hierdie SASL–werkswinkel vir beginners. Die personeel is ook goed toegerus om die dinge wat hulle geleer het onder mekaar én met die dowe inwoners van Huis Horison in te oefen, en te verseker dat die SASL–leerreis veel verder as die oggend met Jabaar strek.

Die Huis Horison-personeel tydens die sessie.
Een van die personeellede wat daar was, ’n voedseldiensadministrateur in Huis Horison se kombuis, het gesê: ”Ek het baie geleer vandag oor hoe om met dowe mense te kommunikeer. Dit was vir my baie interessant en ek hoop ek kan van hier af vorentoe die signs onthou en die effort wat nodig is.” Nog ’n personeellid, ’n instrukteur in herwinning, het gesê dat sy die sessie betekenisvol gevind het: “Ek het die kursus baie interessant gevind. Dit was baie goed aangebied en ek het baie geleer. Ek is baie betrokke met ’n dowe dame wat hier is, so nou gaan ek meer insig hê as ek met haar praat.”
Die sessie het opnuut bevestig dat inklusiwiteit, deelname en begrip deur kommunikasie gedryf word. Of dit nou die oordrag van ’n gemeenskap se behoeftes is, waardering vir hulle humorsin, nuuskierigheid oor hul kultuur, of ’n opregte poging om mekaar halfpad te ontmoet, taal – gesproke, geskrewe of gebaretaal – is ’n brug wat, wanneer dit van beide kante gebou word, toegang tot nuwe wêrelde bied.

Die US Taalsentrum se Comms Lab–koördineerder, Michelle Pieters (middel, regs), en Jabaar saam met Huis Horison se terapiehoof, Edith Jooste (heel links), en menslikehulpbronne– en opleidingskoördineerder, Cobus Steyn (heel regs).
Jy kan ons gerus nader indien jy of jou span basiese SASL wil aanleer. Die US Taalsentrum lewer SASL-kursusse op beginners- en elementêre vlak. Stuur ’n e-pos aan Michelle Pieters by michellep@sun.ac.za om uit te vind watter kursusse ons aanbied, of hoe ons ’n doelgemaakte werkswinkel vir jou personeel kan saamstel.
– deur Andréa Müller; vertaal deur Celesté Fritze



